Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand duik
Sasol, Naspers laat JSE hoog vlieg
Sasol se logo buite die maatskappy se kantore in Johannesburg. Foto: Nadine Hutton, Bloomberg

Die JSE se indeks van alle aandele het Maandagmiddag tot ’n nuwe algehele rekordhoogtepunt van 53 750 gestyg voordat dit effens teruggesak het.

Die indeks het die dag 0,3% hoër op 53 589 punte afgesluit.

Die rand het egter sy onlangse wins prysgegee en teen 19:30 teen R12,13 teenoor die dollar verhandel.

Die mediagroep Naspers was die voorloper van die JSE se opmars en het vroegoggend vir die eerste keer deur die R2 000-vlak gebreek.

Die prys van Brent-ruolie het Maandag met 1,4% tot $58,7 per vat gestyg tot voordeel van Sasol, wat met 4,9% tot R444,54 gestyg het.

Buitelandse beleggers

Pryse op die JSE is in die algemeen opgebeur vanweë verwagtinge van laer internasionale rentekoerse, wat buitelandse beleggers se kooplus aangewakker het.

“Buitelandse kapitaalinvloei na Suid-Afrika was redelik sterk die afgelope tien dae,” sê Francois du Plessis, besturende direkteur van Vega Batebestuur.

Beleggers sien uit na verdere monetêre stimulus in Europa, Japan en China, wat alle ontluikende lande se aandelemarkte sal bevoordeel.

Die tuimelende ysterertsprys, reeds byna 33% laer vanjaar, tref die aandeelpryse van mynmaatskappye soos BHP Billiton, Exxaro en Assore, wat almal Maandag deurgeloop het, sê Du Plessis.

“Verskeie aandele, soos Barclays en Capitec, het ook ex dividend verhandel, wat hul pryse negatief geraak het,” sê hy.

Hulpbron-geldeenhede

Die rand het Maandag tot ’n intradag-laagtepunt van R12,18 teenoor die dollar gedaal, nadat dit verlede week tot selfs R11,70 verstewig het.

Die rand het Maandag ander kommoditeitsgedrewe geldeenhede, soos die Australiese dollar, laer gevolg weens swak Chinese handelsyfers.

’n Beduidende deel van Suid-Afrika se minerale uitvoer gaan aan China. Data toon dat Chinese uitvoer in Maart op ’n jaargrondslag met 15% gedaal het en dat invoer sedert Mei 2009 persentasiegewys die meeste gekrimp het.

John Cairns, valuta-ontleder by Rand Merchant Bank, sê China sal dié week in die soeklig bly.

“China se ekonomiese groeisyfer vir die eerste kwartaal van 2015 sal Woensdag uitgereik word. Die mark verwag dat die groeikoers tot 7% op ’n jaargrondslag verlangsaam het – die laagste in 25 jaar,” sê Cairns.

Dollarwenners en -verloorders

Die dollarbulle baljaar ook weer omdat Amerikaanse werkloosheidseise Vrydag tot die laagste vlak sedert 2000 gedaal het. Verlede week was die dollar mank weens baie swakker as verwagte indiensnemingsyfers.

“Benewens Chinese groei, is die ander groot vraagstuk vir beleggers hoe lank die dollar se lopie kan duur,” sê Cairns.

Volgens Du Plessis kan die uitreiking van Amerikaanse maatskappye se finansiële resultate dié week die dollar se lopie stuit as die resultate teleurstel.

Die hardnekkige styging van die dollar in die afgelope twee en ’n half jaar skei die wêreld se ekonomieë in wenners en verloorders, het Peter Hooper, hoofekonoom van Deutsche Bank, aan Bloomberg gesê.

Amerika en lande wie se geldeenheid aan die dollar gekoppel is, soos China, verloor hul uitvoermededingendheid.

Japan en Europa se mededingendheid word weer versterk deur die sterker dollar en Indië vind baat by die dollar se aandeel in die laer olieprys.

Lande soos Suid-Afrika en Brasilië, wat kommoditeite (wat in dollar geprys is) uitvoer, is egter aan die verloorkant.

Regstelling vir Naspers verwag

Naspers stoom voort, danksy sy belang in die Chinese internetmaatskappy Tencent, sê Pierre van der Walt, beleggingshoof van Rock Capital Management. 

Die plaaslike mediareus se aandeelprys het Maandagoggend tot ’n rekordvlak van R2 029,97 gestyg.

“Ek sien Tencent was Maandagoggend op die Hongkongse beurs net meer as 2% hoër, wat Naspers tot ’n nuwe hoogtepunt gehelp het,” sê Van der Walt. 

Naspers besit 34% van Tencent.

Du Plessis sê hoewel hy nie bekommerd oor Naspers se groei is nie, kan daar op kort termyn ’n groot regstelling wees.

■ Sake is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.