Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Aandele daal, rand verswak ná Fed ‘omswaai’

Die rand verhandel nou vir die eerste keer in byna ’n maand teen swakker as R14 teenoor die dollar en die JSE het gedaal nadat die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) aangedui het dat hy vinniger met rentekoersverhogings kan begin.

Jerome Powell, voorsitter van die Federale Reserweraad. Foto: Bloomberg

Die Fed se komitee wat oor monetêre beleid besluit, het Woensdag vergader en ’n beleidsverklaring uitgereik waarin aangedui word dat rentekoersverhogings in 2023 kan begin – ’n jaar vroeër as wat voorheen gemeen is.

Hoër rentekoerse in Amerika beïnvloed finansiële markte en neig om te veroorsaak dat bates in opkomende markte hul glans vir beleggers verloor.

Die Fed het ook sy verwagting oor inflasie vanjaar heelwat verhoog – tot 3,4% van 2,4% voorheen.

Jerome Powell, voorsitter van die Fed, het op ’n mediakonferensie ná die komitee se vergadering gesê dat hoër en meer volhardende inflasie nou in die vooruitsig gestel word.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê Powell skryf dit toe aan bottelnekke in verskaffingskettings wat groter inflasiedruk aan die vraagkant skep as wat verwag is. As gevolg hiervan sal rentekoersverhogings vinniger ingestel word.

Markte het wêreldwyd op die verrassende verandering in die Fed se standpunt gereageer, berig Reuters.

Dit het die dollar teenoor ander geldeenhede insluitende die rand laat versterk en aandeelpryse laat daal.

Die rand het Woensdagnag in oorsese verhandeling met 1,7% of 23c verswak tot R14,01. Donderdagoggend het die rand verder verswak tot R14,16 en teen die middag het dit teen R14,10 per dollar verhandel.

Plaaslike kommer

Volgens Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global Market Research, word die beleggersentiment in Suid-Afrika tans negatief gestem deur kommer dat selfs strenger inperkings plaaslik kan kom nadat 21,7% van koronavirustoetse Woensdag positief was.

Sy sê die regering het die onbenydenswaardige taak om inperkings in te stel wat infeksies beperk, maar nie die ekonomie verdere skade berokken nie.

Sy sê dit wek groot kommer onder plaaslike beleggers en verwater die invloed van ander internasionale gebeure op die mark.

Die rand het laas op 20 Mei tot bo R14 verswak en het op 4 Junie sy sterkste vlak in twee jaar bereik toe dit op R13,41 gesluit het.

Reuters berig ’n indeks van opkomende markte se geldeenhede het Donderdag sy slegste dag in meer as ’n jaar gehad. Die indeks het sy grootste daaglikse daling beleef sedert Maart 2020 toe vrese oor die pandemie se invloed beleggers paniekerig gemaak het.

Die MSCI-indeks van opkomende markte se aandele het tot sy laagste vlak in drie weke gedaal.

Die JSE se indeks van alle aandele het Donderdagoggend met byna 1% of meer as 615 punte tot 66 695 indekspunte gedaal, maar het later begin herstel.

Die dollar het ná die vergadering met die meeste in ’n jaar verstewig.

Powell het egter ook gemaan die rentekoersaanduiding van die beleidskomitee moet met ’n “knippie sout geneem word” en dat gesprekke oor stygende rentekoerse “hoogs voortydig is”.

Dit het gehelp dat aandelemarkte later effens herstel het.

Die Fed het Woensdag ook aangedui gesprekke word gevoer oor die staking van die noodaankope van staatseffekte waarmee verlede jaar begin is om finansiële markte tydens die pandemie te ondersteun.

Meer oor:  Rand  |  Markte  |  Dollar  |  Jse  |  Fed  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.