Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ackerman soebat: 'Hef verbod op drank, tabak op'

Die verbod wat die regering op die verkoop van drank en tabak gedurende die inperking ingestel het, vreet die samehorigheid weg waarvan Suid-Afrika so afhanklik is en skep sinisme en verdeeldheid onder die land se burgers.

Gareth Ackerman
Gareth Ackerman, voorsitter van die Pick n Pay-groep. Foto: Verskaf

Gareth Ackerman, voorsitter van Pick n Pay, het hierdie boodskap Dinsdag op die groep se jaarvergadering aan beleggers oorgedra. Ackerman het aandeelhouers aanlyn toegespreek. Dit was die eerste aanlyn jaarvergadering wat die groep gehou het.

Hy doen ’n beroep op die regering om sy besluit oor die verbod te hersien. Ackerman verwys na hoe Suid-Afrikaners die afgelope maande saamgewerk het en die beste probeer maak het van ’n baie moeilike situasie met die Covid-19-epidemie.

“Ek glo dat die meeste van ons net die regering vra dat sy besluite (oor die inperkingsregulasies) om die regte redes geneem word, deur die feite geregverdig word en dat hierdie feite aan ons verduidelik word wanneer dit moeilik is om te verstaan,” sê hy.

“Die regering het ons by verskeie geleenthede die versekering gegee dat hy luister en konsulteer, maar ons sien min bewyse hiervan. Dis vir ons nodig dat die regering ons in sy vertroue neem wanneer dit kom by besluite wat ons almal raak. Ons kan nie besluite bekostig wat swak geneem word of wat sleg verduidelik word nie. Dit skep verwarring en sinisme en vreet die samehorigheid weg waarvan ons almal afhanklik is.”

Ackerman sê dit is onvermydelik om in hierdie konteks die verbod op die verkoop van alkohol en sigarette te noem. Hy sê hy noem dit nie bloot omdat die verbod die winkelgroep se verkope en kontantvloei benadeel nie, hoewel dit wel ook die geval is.

LEES OOK: Pick n Pay verwag 50% minder wins

“Ek fokus daarop omdat hierdie verbod, meer as enige ander besluit wat die regering in hierdie pandemie geneem het, die sinisme en verdeeldheid skep wat ons nie kan bekostig nie,” sê Ackerman.

“Suid-Afrika is feitlik die enigste land ter wêreld wat die verkoop van hierdie produkte gedurende die pandemie verbied het. Daar is geen verduideliking vir waarom Suid-Afrika reg is en talle ander lande verkeerd is nie. Die verduidelikings wat ons gekry het, is verwarrend en teenstrydig.”

Terselfdertyd weet almal dat tabak en drank geredelik in die sluikhandel beskikbaar is, gaan hy voort.

“Die beleid bereik dus geen ander doel anders as om onwettige aktiwiteite aan te moedig wat enige regulatoriese voorsorgmaatreëls ignoreer en nie ’n enkele sent tot die belasting bydra wat die staat dringend benodig om sy maatskaplike pligte na te kom nie.”

Ackerman sê wat ook al die redenasie is wat die regering gebruik het, dit word verreweg oortref deur die sinisme wat dit onder die landsburgers geskep het.

“Ek smeek die regering om die besluit te hersien en na die kwessie te kyk in die gees van verantwoordelikheid en samesyn wat die president so tereg gehandhaaf het.”

Volgens hom sal die bestuur van die ekonomiese herstel reeds binne die huidige omstandighede baie moeilik wees.

“Die regering sal baie flinker moet werk om die ekonomie weer op dreef te kry. Hy sal sy tekortkominge moet erken en van sy beheermaatreëls moet afstand doen.”

Ackerman glo die land sal moet leer om met die virus saam te leef terwyl die ekonomie herbou word.

“Om dit te laat gebeur, sal die regering meer op aanmoediging en samewerking moet staatmaak en minder op beheer.”

Meer oor:  Pick N Pay  |  Gareth Ackerman  |  Inperking  |  Tabak  |  Covid-19  |  Verbod  |  Drank  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.