Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Afgeskeep: Paaie, krag en water
’n Diensleweringsbetoging in Mookgophong in Limpopo vroeër vanjaar. Foto: Felix Dlangamandla

Aan die vooraand van die verkiesing spog die regering met ’n groot toename in kapitaalbesteding by munisipaliteite, maar verswyg dat paaie, die elektrisiteitsnetwerk en waterinfrastruktuur heel laaste in die ry staan.

Boonop het stadsvaders oor die land heen miljarde rande minder bestee as wat hulle vroeër beoog het.

Statistieke Suid-Afrika het Dinsdag syfers uitgereik wat wys dat munisipaliteite se kapitaalbesteding in 2015 sowat 14% meer was as in 2014 (R59 miljard teenoor R51,7 miljard). Veral besteding aan infrastruktuur het gegroei – met R7,151 miljard (16,3%) van byna R44 miljard tot R51,1 miljard.

Dit dui op verbeterde dienslewering, sê Pali Lehohla, statistikus-generaal.

Die verslag oor kapitaalbesteding word jaarliks in Julie bekend gemaak, maar vanjaar is dit uitgereik in die doodsnikke van die veldtog vir die munisipale verkiesing, wat Woensdag plaasvind.

Beter dienslewering is dié belofte wat elke party maak. Maar berigte oor dorpe sonder veilige drinkwater en strate met reuseslaggate maak sin wanneer ’n mens die besteding van nader bekyk.

Aan paaie is daar R4,295 miljard bestee – dit is minder as die R5,118 miljard wat in 2014 bestee is.

Sowat R1,822 miljard is bestee aan elektrisiteitsinfrastruktuur teenoor R2,332 miljard in 2014.

Trouens, besteding aan die meeste soorte infrastruktuur wat huishoudings en sakeondernemings direk raak, het in reële terme oor die laaste tien jaar afgeneem.

Beplanning vs. besteding

Verder wys vorige verslae munisipaliteite het beplan om in 2014 en 2015 meer te bestee as wat hulle het.

Munisipaliteite het beoog om in 2014 altesame R8,108 miljard aan elektrisiteits­infrastruktuur te bestee, maar net R2,332 miljard is uiteindelik bestee. In 2015 sou R8,614 miljard bestee word. Munisipaliteite moet kragdrade en substasies in stand hou.

Munisipaliteite het beoog om in 2014 R11,885 miljard aan paaie te bestee, maar net R5,118 miljard is bestee. In 2015 sou R11,197 miljard bestee word. Munisipaliteite is verantwoordelik vir alle paaie en brûe wat nie nasionale of streekroetes is nie (dus onder meer die strate in jou woonbuurt).

Munisipaliteite het beoog om in 2014 R11,432 miljard aan waterinfrastruktuur te bestee, maar net R3,296 miljard is bestee. In 2015 sou R12,269 miljard bestee word. Rioolaanlegte en waterverspreiding is albei munisipale funksies.

Waar word geld bestee?

Die infrastruktuur-kategorieë met die vernaamste groei is “nieresidensiële geboue” en “ander nuwe konstruksiewerk”. Onder nieresidensiële geboue tel kantoorgeboue, klinieke, hospitale, lesingsale, biblioteke, tronke, restaurante, skole, winkels en werkwinkels.

Onder “ander nuwe konstruksiewerk” is onder meer lughawens, nywerheidsaanlegte, elektrisiteitsprojekte soos kragstasies, myne, olie-eksplorasie, spoorlyne en hawens.

Hoewel kenners beaam dat ekstra besteding aan infrastruktuur op verbeterde dienslewering kan dui, is daar kommer dat te min bestee word aan infrastruktuur wat die ekonomie help groei. Dít sluit in paaie en elektrisiteit.

Veral in landelike gebiede is daar ’n yslike behoefte aan paaie, wat ekonomiese ontwikkeling sal stimuleer, sê prof. Pundy Pillay, ’n kenner van openbare beleid en finansies van die Universiteit van die Witwatersrand.

“Dit is vir die regering moeilik om ’n balans te vind tussen besteding aan infrastruktuur wat die ekonomie stimuleer en infrastruktuur wat maatskaplike probleme verlig.”

Dit kan dus wees dat plaaslike regerings hul goeie oordeel gebruik het om eerder aan maatskaplike kwessies (soos gesondheid en onderwys) aandag te gee.

Maklikste manier

Pillay sê dit kan egter ook wees dat hulle bloot aan die maklikste manier gedink het om baie geld vinnig te bestee. Munisipaliteite het in die vorige boekjaar sowat 8% van die nasionale regering se toelae vir infrastruktuur nié bestee nie.

Dit is vir die regering moeilik om ’n balans te vind tussen besteding wat die ekonomie stimuleer en wat maatskaplike probleme verlig.

“As jy onder druk is om geld te bestee, is dit dalk vir jou makliker om ’n klaskamer te bou as ’n pad.”

Te min vaardige personeel

Hy sê hoewel die groter besteding op beter dienslewering kan dui, twyfel hy dat munisipaliteite genoeg vaardige mense het om wel daardie dienste te lewer. “By die groot munisipaliteite verbeter dienslewering, maar ek is nie daarvan oortuig dat dit die geval op die platteland is nie.”

Karen Heese van Municipal IQ sê die feit dat munisipaliteite minder bestee het as wat hulle beplan het, wys hulle het nie genoeg vaardige personeellede, veral ingenieurs, om groot projekte te ontwerp en uit te voer nie.

“Daar is wye konsensus dat nie genoeg bestee word aan die herstel en instandhouding van infrastruktuur soos paaie nie.”

Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, sê dit maak sin dat meer geld bestee word aan infrastruktuur in groot stede omdat mense verstedelik.

“Verstedeliking is goed. Dis die enigste kans wat ’n arm gesin het om binne ’n geslag of twee die middelklas te bereik.”

Hy sê egter bedrog vind grootliks plaas deur kapitaalprojekte.

Naas infrastruktuurbesteding, wat 87% van hul totale kapitaalbesteding uitmaak, het munisipaliteite ook geld bestee aan aanlegte, masjinerie en toerusting (R3,6 miljard), bestaande geboue en grond (R1,5 miljard), vervoertoerusting (R1,3 miljard) en gehuurde bates en beleggingseiendom (R950 miljoen).

Meer oor:  Munisipaliteite  |  Regering  |  Infrastruktuur  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.