Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Afgraderings: ‘Bakhand, staak help ekonomie nie’

Dis tyd dat almal die ekonomiese werklikhede trotseer en daarby aanpas – dan sal herstel vinniger plaasvind en sal verdere kredietafgraderings vermy kan word.

Busi Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa. Foto: BLSA

Busi Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa, het in haar reaksie op die naweek se afgraderings deur Moody’s Investors Service en Fitch Ratings te velde getrek teen “spektakels” soos die SAUK wat sy afleggings gestaak het en die taxiverenigings wat “Covid-verligting” eis.

In albei gevalle kom dit neer op mense wat bakhand by die staat staan terwyl die staat sélf op die rand van ’n skuldkrisis staan en dringend koste moet besnoei.

“Ons moet binne ons verminderde vermoë werk. Ons moet die struktuur van die ekonomie regmaak sodat almal van ons meer kan doen met minder. Dis wat ons weer terug na groei sal lei,” sê Mavuso in haar weeklikse nuusbrief.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, beskou die afgraderings as ’n mosie van wantroue in pres. Cyril Ramaphosa se bestuur van ekonomiese hervorming.

LEES OOK: Mboweni reageer: Afgraderings is ‘pynlik’

“Die kredietgraderingsagentskappe se besluit is ’n duidelike boodskap aan die regering wat basies sê ‘hervorming gebeur nie en ons glo nie dit sal nie – nie teen die spoed wat vereis word om ’n verskil te maak nie.’ ”

Hill-Lewis sê die afgraderings kom ná die “teleurstellende” mediumtermynbeleidsraamwerk (MTBR) wat Tito Mboweni, minister van finansies, in Oktober by die parlement ingedien het.

Hy beskou die regering se nuwe hulppakket van R10,5 miljard aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens as ’n ommeswaai op vorige uitsprake dat staatsondernemings nie meer lukraak uitgehelp gaan word nie. Daarby het die regering ook sy verbintenis laat vaar om staatskuld teen 2023 in bedwang te kry – dit word nou teen 2025 verwag.

“Dié twee besluite ondermyn die geloofwaardigheid en vertroue in die regering se beloofde hervormingsprogram, wat beleggers en graderingsagentskappe laat twyfel in die volhoubaarheid van die staat se geldsake.”

Hill-Lewis reken, soos die gradeerders, die groot toets is of die staatsdiens sy salarisrekening in toom kan hou.

Met betrekking tot die SAUK sê Mavuso dis nie onbillik om van die SAUK te verwag om koste te besnoei of sakeredding te moet ondergaan nie – “dis die opsies wat die private sektor elke dag het. Dis waarom 1,8 miljoen poste verlore gegaan het en baie ondernemings gesluit is.”

Sy sê die taxibedryf is juis ’n voorbeeld van private ondernemerskap in aksie, maar moenie nou sy posisie misbruik om geld van die regering te probeer afpers nie.

“Stakings benadeel die vooruitsigte vir herstel en vererger die algehele posisie waarin ons onsself bevind.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.