Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘AfriForum sê eintlik swart mense is meer korrup’

AfriForum se hofsaak wat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wil skrap as maatstaf vir die toekenning van tenders vir die land se Covid-19-inentingsprogram, gebruik “vals” en “beledigende” implikasies oor swart mense.

Entstowwe moet koel vervoer en geberg word. Foto: Reuters

Só sê Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, in sy antwoordende beëdigde verklaring aan die hooggeregshof in Pretoria.

AfriForum het Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag hof toe gesleep om hom te probeer dwing om SEB-vereistes “binne sy magte” op te skort.

Volgens die organisasie is dit in die belang van alle Suid-Afrikaners dat SEB nie ’n faktor is in die uitreiking van tenders vir die lewensreddende inentingsprogram nie.

“Dis in die openbare belang dat die aankoop van entstowwe van SEB-vereistes vrygestel word. SEB vertraag die proses beduidend, verhoog dienskoste en verhoed maatskappye wat nie aan SEB-vereistes voldoen nie om aan die tenderproses deel te neem.

“Boonop is daar prima facie-bewyse van verreikende korrupsie wanneer tender- en aankoopprosesse ter sprake is,” sê AfriForum in ’n verklaring.

“Dit sê baie dat die ANC selfs wanneer lewens bedreig word, aan sy beleid van sistemiese rassisme soos SEB getrou is.

“Dit is geen onskadelike politiek nie; dis ’n gevaarlike speletjie met dodelike, werklike gevolge. Die minister van finansies is verplig om dié soort rasse-inmenging te voorkom en moet tussenbeide tree om ’n einde hieraan te maak,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

‘Swart’ firmas het nie tender gekry

Die genoteerde Imperial Logistics het die tender gewen vir die invoer en vervoer van die entstowwe en Biovac het die tender gewen vir die berging daarvan.

Nie een van die twee ondernemings is 51% of meer in swart besit nie.

Imperial se 2021-sertifikaat vir breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) dui aan dat hy 23,71% in swart besit is. Biovac se jongste sertifikaat is van 2016 en dui aan dat hy 19,68% in swart besit is.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die nasionale tesourie. Foto: Gallo Images

Mogajane dui aan dat transformasie net één van die vereistes van die beleid oor tenders is. Dit is ook ’n grondwetlike vereiste.

Volgens Mogajane is AfriForum se regsargument regstegnies gebrekkig, veral aangesien die tenders reeds uitgereik is.

Maar hy maak ernstig beswaar teen die organisasie se “ongegronde” standpunt dat SEB-tenders in beginsel korrup is.

Eerstens verskaf AfriForum slegs “hoorsê”-argumente daaroor en tweedens heg hy net een bewysstuk van korrupsie aan.

Die bewysstuk is ’n Daily Maverick-artikel dat dr. Zwele Mkhize, minister van gesondheid, se assistent en nog ’n werknemer van die departement betrokke was by bedrog en korrupsie met die aankoop van persoonlik beskermende toerusting.

“Die applikant (AfriForum) se bewerings van korrupsie met betrekking met BGSEB-tenders blyk slegs gegrond te wees op óf geen bewyse nie óf op die feit dat die twee mense wat in die artikel genoem word, swart mense is,” sê Mogajane.

“In die mate wat AfriForum wil insinueer dat BGSEB-tenders neig om meer korrup te wees as nie-BGSEB-tenders omdat hulle swart mense betrek, is dit ’n vals en beledigende insinuasie.”

Minister se magte werk só

Mboweni het boonop nie eens die mag om die tendervereistes op te skort soos AfriForum argumenteer nie, sê Mogajane.

Mboweni kan slegs ingevolge art. 3 van die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid ’n staatsorgaan vrystel van die vereistes van SEB indien hy eers ’n versoek vir so ’n kwytskelding van die staatsorgaan ontvang het.

Mogajane bevestig dat geen so ’n versoek ontvang is nie.

AfriForum het ook nie in sy hofstukke gepoog om enige staatsorgaan te verplig om die versoek te rig nie.

Meer oor:  Biovac  |  Afriforum  |  Imperial  |  Dondo Mogajane  |  Inentings  |  Ppe  |  Entstofprogram  |  Tesourie  |  Tender  |  Entstowwe  |  Inentingsprogram  |  Tenderbedrog  |  Verkrygings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.