Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Afrika het bankdienste broodnodig
Daniel Mminele, adjunk-president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Foto: Lisa Hnatowicz

Net 30% van Afrika se bevolking suid van die Sahara het ’n rekening by ’n finansiële instelling, vergeleke met sowat 50% in ontwikkelende Asiese lande en sowat 70% in Oos-Asië.

Voorts het net sowat 23% van klein en middelslag-ondernemings in Afrika toegang tot formele finansiering, wat dus baie mense die geleentheid ontneem om hul lewens te verbeter, sê Daniel Mminele, adjunkpresident van die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Hy het vandeesweek op die Instituut van Internasionale Finansiering se Afrika-beraad in Johannesburg verwys na syfers van die Global Partnership for Financial Inclusion, dat sowat 2 miljard volwassenes wêreldwyd nie toegang tot formele finansiële dienste het nie. Die meeste hiervan is vroue.

Mminele sê heelwat moet dus nog gedoen word om finansiële insluiting op die vasteland te bevorder. Hoewel die toenemende belangrikheid van mobiele bankrekeninge en digitale tegnologie algemeen erken word, moet dit beter ontgin word.

Daar is wel ’n belangrike kompromis tussen insluiting en om die integriteit van die finansiële stelsel te handhaaf, sê hy.

In die lig van digitale vooruitgang was baie finansiële instellings, insluitend banke, versekeraars en selfs sentrale banke, al slagoffers van kuberaanvalle.

Sulke aanvalle kan handel en die finansiële sektor wêreldwyd lamlê en dus is internasionale samewerking en die uitruil van inligting oor moontlike bedreigings en aanvalle belangrik.

Mminele sê omdat Afrika die wêreldstreek is waar verstedeliking die vinnigste plaasvind en huishoudelike verbruik na verwagting teen 2025 $2 100 miljard per jaar sal bereik, kan die vasteland se potensiaal nie geïgnoreer word nie.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) sal Afrika se bevolking na verwagting van die huidige 1,2 miljard mense tot 2,5 miljard groei teen 2050. Die jong bevolking is ook beter opgelei en ryker as ooit tevore.

Hoewel die vinnige bevolkingsgroei tot nadeel van die vasteland kan wees as daar nie nuwe werk geskep word nie, geskied werkskepping volgens ’n McKinsey-verslag vinniger as die groei in die arbeidsmag.

Meer oor:  Daniel Mminele  |  Reserwebank  |  Banke  |  Bankrekeninge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.