Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Afrikaner arm en kwaad in noorde, welaf in suide

Daar wás ryk Afrikaners, skryf prof. Jannie Rossouw in reaksie op prof. Johan Fourie se rubriek verlede week oor die ontstaansgeskie-denis van Afrikaner-welvaart. Maar nie almal was so gelukkig nie.

Die Uniegebou in Pretoria. Foto: Wikipedia

In sy prikkelende artikel in Sake-Rapport (“Tyd vir ’n nuwe geskiedenis oor Afrikaner-welvaart”) kom prof. Johan Fourie tot die gevolgtrekking dat Afrikaners in die verre verlede welvarender was as wat algemeen aanvaar word.

Fourie verwys na navorsing vir sy doktorale proefskrif, waarin die inventarisse (boedelinventarisse?) van meer as 2 500 boere vergelyk is.

Dié navorsing is baanbrekerswerk, maar die geografiese verspreiding van die inventarisse wat gebruik is, is nie duidelik nie. Hoewel Fourie meld dat die betrokke boere voor afsterwe verskeie tipes produkte vir die mark geproduseer het, is dit steeds onduidelik of die navorsing die hele Suid-Afrika of slegs sekere streke van die land dek.

Omdat Fourie wel verwys na boere aan die Kaap, wek sy artikel die indruk dat die navorsing op die destydse Kaapkolonie gefokus het.

Die vraag is of boere oral in Suid-Afrika ewe ryk was. Was die rykdom van die Voortrekkers vergelykbaar met die welvaart van Kaapse boere? Ons weet minstens dat dit nie met Piet Retief, ’n Voortrekkerleier, die geval was nie, want hy het ’n paar keer bankrot gespeel en was bankrot toe hy dood is.

My wortels is in baie generasies van landbou. Trouens, uit ’n ontleding van al my stambome is dit duidelik dat ek die eerste een is wat buite die landbou ’n lewe maak. My broer is steeds in die landbou en boer naby Rawsonville, waar my oupa Botha geboer het.

My vier oupagrootjies was almal boere. Drie was van die Wes-Kaap (Botha van Rawsonville en Malherbe en Rossouw van Dal Josafat naby die Paarl), terwyl een (Keet) naby Abjaterskop in die Marico-Bosveld geboer het.

Geografiese verspreiding is baie belangrik in die beoordeling van welvaart. Terwyl Botha, Malherbe en Rossouw rustig in die Wes-Kaap geboer het, moes Keet in die Anglo-Boereoorlog veg.

Nadat genl. Piet Cronjé by Paardeberg teen die Modderrivier oorgegee het, was Keet lank ’n krygsgevangene op St. Helena. Ná St. Helena het Keet se ellende regtig begin. By sy terugkeer was sy plaas en veestapel vernietig weens die Britte se verskroeide-aarde-beleid. Keet was werklik arm in ’n tyd wat Malherbe vir sy dogter ’n klavier ingevoer het en sy seun (D.F. Malherbe) in Duitsland gestudeer het.

Afrikaner-armoede as ’n vraagstuk moet dus op ’n geografiese grondslag beoordeel word. Terwyl boere en die omliggende gemeenskappe in die Britse gebiede (Kaapkolonie en Natal) waarskynlik betreklik welvarend was, het grootskaalse armoede ná die Anglo-Boereoorlog in die destydse Transvaal en Vrystaat voorgekom.

Die Britse verskroeide-aardebeleid moet vir hierdie armoede geblameer word. Soos Fourie tereg aandui, is dit dus nie verbasend dat ontwikkelingsinisiatiewe onder Afrikaners aanvanklik in die Wes-Kaap gesetel was nie, wat die stigting van Nasionale Pers en Sanlam insluit. Dit is waar relatiewe rykdom voorgekom het.

Hierteenoor was boere in die Transvaal en die Vrystaat arm en kwaad vir die Britte. Natuurlik sou hierdie woede tot verskeie interpretasies van die geskiedenis lei, soos Fourie tereg uitwys.

Meer oor:  Jannie Rossouw  |  Afrikaner  |  Anglo-Boereoorlog  |  Armoede  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.