Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Aksyns van R20 m. per dag op sigarette misgeloop
sigarette
Die sluikhandel in sigarette kos Jan Taks jaarliks miljarde rande aan verlore inkomste. Foto: Pixabay

Die regering verloor potensiële belastinginkomste van meer as R20 miljoen per dag weens tabakmaatskappye wat nie heeltemal eerlik is oor hul produksie- en verkoopsyfers van sigarette nie.

Só het Francois van der Merwe, voorsitter van die Tabakinstituut van Suider-Afrika (Tisa), Vrydag gesê.

“Ons weet wie hulle is, wat die handelsmerke is, en het die inligting alles met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gedeel,” het Van der Merwe in die parlement aan ’n gesamentlike vergadering van die nasionale vergadering se staande komitee oor finansies en die nasionale raad van provinsies se gekose komitee oor finansies gesê.

Op dié sitting moes die nasionale tesourie antwoord op voorleggings in ’n openbare sitting oor die afgelope mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR).

Tisa verteenwoordig groot en gevestigde tabakmaatskappye soos British American Tobacco.

Dit is goed en wel as die SAID werk aan ’n nasporingstelsel, maar die spertyd om dit in te stel, is nou einde Maart volgende jaar, terwyl dit die Europese Unie vier jaar geneem het om ’n nasporingstelsel in te stel.

“Ons het by die SAID gesmeek dat amptenare in sigaretfabrieke geplaas word, maar die maatskappye vind maniere om die amptenare te omseil.”

Wetstoepassing is net een deel van die oplossing. Aksyns is ’n groot aandrywer van tabakpryse, en die regering is op dié manier die grootste aandeelhouer in die tabakbedryf, meen Van der Merwe.

Hy meen die SAID en die tesourie behoort bloot te hou by die riglyn dat aksyns op sigarette nie meer as 40% van die uiteindelike verkoopprys moet beslaan nie. Die jaarlikse styging in aksyns het mettertyd daartoe gelei dat aksyns nou al 43% van die totale kleinhandelprys verteenwoordig.

Ian Stuart, hoofdirekteur vir fiskale beleid in die nasionale tesourie se begrotingskantoor, het gesê die SAID sal op 20 November in detail aan die komitees verslag doen oor sy vordering om onwettige tabakhandel hok te slaan.

Groeiverwagtings

Stuart het die tesourie se reuse-aanpassings in groeiverwagtings en skuldvlakke verdedig.

Die inkrimping van die ekonomie in die eerste kwartaal, deels weens Eskom se probleme wat tot beurtkrag gelei het, het veral tot die skok gelei, het Stuart verduidelik.

Die grootte van die Suid-Afrikaanse ekonomie is R200 miljard kleiner as in Februarie weens laer BBP-groei.

Boonop het belastinginvordering verswak, en is die belastingbasis se vooruitsigte swakker.

Volgens Stuart is die tesourie se vooruitskattings inderdaad op peil met of beter as ander instellings se vooruitskattings.

Die tesourie het in September sy groeivooruitsigte vir die jaar tot 0,5% verlaag, teenoor Reuters en die Reserwebank wat albei in September hul groeivooruitsig op 0,6% gehad het. Bloomberg, die Wêreldbank en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se groeivooruitsigte in Oktober was onderskeidelik 0,6%, 0,8% en 0,4%.

Stuart ontken dat die MTBR ’n besuinigingsbegroting is, want reële nie-rentebesteding styg steeds.

Die groot kommer vir die tesourie is die tempo waarteen rente op skuld groei. Dit groei 13,7% per jaar oor die volgende drie jaar. Uit elke R1 000 wat die staat bestee gaan R115 vir rentebetalings op skuld.

Fiskale reël

Oor versoeke dat die regering ’n fiskale reël moet hê het Stuart gesê fiskale reëls is baie moeilik om in te stel in ’n hoogs onseker ekonomiese omgewing.

“As jy sê die staat móét sy skuldvlakke binne 60% van BBP hou, sal dit geweldige besnoeiings verg wat tot groot ontwrigting sal lei.”

Bose kringloop

Stuart het die twee uiterste roetes vir ’n begroting aan die komitees verduidelik, wat albei ’n bose kringloop veroorsaak. ’n Begroting wat sterk besnoei lei tot hoër belasting, minder besteding, groter druk op welsynsdienste en ’n wegkalwe van belastingmoraliteit.

’n Begroting wat meer geld leen en meer bestee lei tot hoër skuldvlakke, die uitvloei van geld, ’n swakker wisselkoers, laer private investering en kredietafgraderings.

Albei dié uiterste benaderings lei tot laer groei, laer belastinginkomste en ’n groter begrotingstekort.

Beter ouderdomspensioen

Zolani Mkiva, ANC-lid van die nasionale raad van provinsies se gekose komitee oor finansies, het die vergadering herinner aan ’n groep pensioenarisse van Mgungundlovu in KwaZulu-Natal wat al die pad parlement toe gekom het om te vra dat pensioenarisse wat van ’n ouderdomspensioen van die staat afhanklik is van BTW kwytgeskeld word. Hulle wil ook hê die tesourie behoort te ondersoek wat dit sal kos om die ouderdomspensioen te verhoog na die vlak van ’n bestaansloon van sowat R2 500.

Dit sal R5 miljard per jaar kos om soiets te doen, het Stuart gesê. Volgens Mkiva het die pensioenarisse ook gevra wat dit sou kos om hulle ’n soort bonus of 13de tjek te gee. Volgens Stuart sou dit die staatskas ’n ekstra sowat R10 miljard kos.

Afgradering

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies en DA-lid van die staande komitee oor finansies, sê elke begroting is ’n balanseertoertjie. “As jy al meer bestee aan jou kredietkaartskuld, het jy minder geld oor vir kos en petrol.”

Hy het gesê hy het vir ’n slag saamgestem met Cosatu se kommentaar op die MTBR en hul waarskuwing oor ’n kredietafgradering. “Ons moenie nonchalant wees daaroor nie.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Jan Taks  |  Sluikhandel  |  Belasting  |  Aksyn  |  Sigarette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.