Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Al meer private vlugte wys ekonomie lig sy kop

As barometer vir ekonomiese aktiwiteit kan kommersiële lugvaartbedrywighede in Suid-Afrika in die tweede kwartaal vanjaar dui op ’n opflikkering in die ekonomie.

Lugverkeersbewegings by lughawens in die land wat nie deur die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) beheer word nie, het in die tweede kwartaal met 17,6% gegroei.

Dié aktiwiteit by nie-Acsa-lughawens sluit vlugte van alle private en korporatiewe vliegtuie in, dus nie geskeduleerde vlugte van die groot lugdienste nie.

Van die lughawens in SA nie onder Acsa se beheer:
  • Lanseria, Krugersdorp
  • Virginia, Durban
  • Wonderboom, Pretoria
  • Rand-lughawe, Germiston
  • Fisantekraal, Durbanville

Die syfers is deel van die Kommersiële Lugvaartvereniging van Suider-Afrika (Caasa) se lugvaartaktiwiteitsindeks, wat bedrywighede in die sektor sedert 2014 monitor.

Die indeks toon in die tweede kwartaal vanjaar ’n gemiddelde groeitendens van 9% oor vier kwartale, vergeleke met die eerste kwartaal.

Die kommersiële lugvaartbedryf verwys na alle burgerlike en siviele handelsvliegbedrywighede buiten die aktiwiteite van die groot geskeduleerde lugdienste. Caasa se lede sluit dus onder meer private lughawens, huurvlugmaatskappye, helikoptermaatskappye, vliegskole, en hommeltuigondernemings in.

Die lugvervoerbedryf gee werk aan meer as 470 000 mense in Suid-Afrika en verteenwoordig 3,2% van die BBP, wys navorsing van die Internasionale Lugvervoervereniging.

Maar Leon Dillman, uitvoerende hoof van Caasa, wys ook daarop dat die gesondheid van kommersiële lugvaart ’n waardevolle aanwyser is van die gesondheid van die algemene ekonomie, hoewel dit dikwels oor die hoof gesien word.

Caasa se indeks word deur die ekonoom dr. Roelof Botha bereken, en hy verduidelik dit gebruik ’n bewegende gemiddelde oor vier kwartale omdat die bedryf inherent wisselvallig is. Dit sluit benewens lughawe-aktiwiteit onder meer die uitvoer en invoer van vliegtuie en vliegtuigonderdele in.

“Vliegtuie is duur, so die invoer en uitvoer van ’n klein aantal eenhede kan die indeks in ’n gegewe kwartaal nogal dramaties raak,” sê Botha.

’n Onlangse lugskou by die Wonderboom-lughawe in Pretoria.

Die huidige gemiddelde oor vier kwartale wys egter die bedryf het nog ’n lang pad om te gaan om sy vorige hoogtepunt in die tweede kwartaal van 2016 te haal.

Botha sê die rekordvlakke in die tweede kwartaal is gedryf deur vliegtuiguitvoer wat met 115,8% gestyg het, die uitvoer van vliegtuigonderdele wat met 7,1% gestyg het, en die invoer van ongemotoriseerde vliegtuie (dus sweeftuie) wat met 83% geklim het.

Dillman verduidelik verskeie faktore speel ’n rol in die in- en uitvoer van vliegtuie. “Ons is veral goed daarmee om vliegtuie op te knap en weer te verkoop, maar om dit volhoubaar te maak het ons ’n stabiele stroom vliegtuie nodig wat ingevoer word.”

Die randwisselkoers is deurslaggewend, want maatskappye wil voordeel trek uit ’n swak rand wanneer hulle vliegtuie verkoop, en hulle wag dan totdat die rand versterk om weer vliegtuie te koop, sê Dillman. Hy waarsku daar moet ook uitgekyk word vir tekens dat Suid-Afrika se vloot werkende kommersiële vliegtuie aan die verminder is, want dit sou dui op langtermyn- ekonomiese afname. Maar hy meen dis te vroeg om daaroor ’n mening te waag.

Terwyl lugverkeer by die vyf grootste nie-Acsa lughawens gegroei het in die tweede kwartaal, was daar ’n afname by vyf van die nege Acsa-lughawens. Dillman glo dis regstreeks verwant aan die afname in internasionale toerisme ná die strenger visumreëls onder die termyn van Malusi Gigaba as minister van binnelandse sake. Die groei in lugverkeer by die O.R. Tambo-lughawe in die tweede kwartaal swem wel teen die stroom, wat dui dat die toerismemark herstel en aanpas by die nuwe visumreëls. Die syfers vir die derde kwartaal sal wys of dit wel ’n nuwe groeitendens is.


    Meer oor:  Ekonomie  |  Lugdienste  |  Acsa  |  Vliegtuie  |  Lugvaart
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.