Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Alle oë op rand ná S&P se besluit

Enigeen met ’n belang by die waarde van die rand teenoor onder meer die dollar sal Maandag gereeld hul webblaaiers verfris om te kyk hoe die mark reageer op Suid-Afrika se tweede waarskuwing van ’n kredietgradeerder in drie weke.

30-10-2019 The Minister of Finance, Tito Mboweni,
Tito Mboweni, minister van finansies, in Oktober in die parlement met die indiening van die mediumtermynbegrotingsraamwerk, wat S&P reken nie genoeg hervorming aangekondig het nie. Foto: Jaco Marais

Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) het Vrydagnag die vooruitsig vir Suid-Afrika se kredietgradering van stabiel na negatief verander.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, reken die besluit is grotendeels klaar ingeprys, maar die rand kan tydelik met tussen 10c en 20c teenoor die dollar verswak. Dit kan die rand, wat Vrydag in New York op R14,72 teenoor die dollar gesluit het, weer tot naby R15 per dollar druk.

Moody’s Investors Service het die vooruitsig vir Suid-Afrika se gradering begin November in negatief verander. Fitch Ratings het die vooruitsig reeds in Julie tot negatief afgradeer.

Al drie die wêreld se grootste gradeerders het ná Tito Mboweni, minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsraamwerk gewaarsku die staat se geldsake gaan agteruit, maar ’n dringendheid blyk uit S&P se Vrydagnag-verklaring. Die gradeerder sê daar was ’n “wesentlike agteruitgang” in die fiskale vooruitsig en Suid-Afrika se skuldmaatstawwe is “vinnig aan die versleg”.

Hoewel erkenning gegee word aan pres. Cyril Rampahosa se pogings om korrupsie te takel en koste te besnoei, onder meer deur kabinetsposte te sny, reken S&P hervorming het nie die nodige momentum nie.

“Suid-Afrika het nou ’n tweeledige uitdaging: om fiskale geloofwaardigheid te hervestig en tegelykertyd ekonomiese groei te herstel.”

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê ondanks dié waarskuwing, is dit Moody’s se besluit volgende jaar wat tussen Suid-Afrika en volslae rommelstatus staan “en wat van onmiddellike belang moet wees”.

Dis omdat sowel Fitch as S&P die land reeds op rommelstatus gradeer. ’n Afgradering deur Moody’s sal die land laat uitval uit groot indekse van wêreldwye staatseffekte, wat internasionale beleggers sal noop om staatseffekte te verkoop. Ramings oor hoeveel geld landuit sal vloei, wissel tussen R11,25 miljard en R75 miljard

Parsons sê dis van uiterste belang dat die Februarie-begrotingsrede ’n “geloofwaardige fiskale strategie” daarstel met die oog op die verbetering van ekonomiese persepsies oor Suid-Afrika.

Die tesourie sê hy erken S&P se assessering van die uitdagings wat die land in die gesig staar op kort en lang termyn en die regering bly verbind daartoe om die staatsfinansies op ’n herstelpad te plaas en terselfdertyd te sorg vir inklusiewe ekonomiese groei.

“Die agentskap erken die werk wat ons onderneem het om die geloofwaardigheid te herstel van die land se verswakte instansies (die versterking van die nasionale vervolgingsgesag en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens), asook dié van die Reserwebank en die buigbare wisselkoers wat sterkpunte is om die land se gradering stabiel te hou,” lui die verklaring.

“Die regering bly daartoe verbind om ekonomiese hervorming te implementeer om ekonomiese groei te bewerkstellig. Daarby benadruk die regering dat die styging in die salariskoste van die staatsektor aangepak moet word om die staat se skuldlas te verlig.

“Die regering, arbeid, die sakesektor en die burgerlike samelewing moet hand aan hand werk aangesien moeilike besluite wat korttermynkoste vir die ekonomie en staatskas behels, geneem moet word om die gety te kan draai.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.