Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
ANC se ekonomiese plan: 10 dinge wat jy moet weet

Enoch Godongwana, hoof van die ANC se transformasiekomitee, het Vrydag die regerende party se plan vir die “rekonstruksie, groei en transformasie” van die ekonomie vir kommentaar uitgereik. Hier is van die belangrikste punte, baie kortliks opgesom.

1. Regulasie 28 ‘moet verander word’

Die ANC wil “goedkoper toegang tot finansiering vir ontwikkeling” bewerkstellig. Dis in dié konteks wat verwys word na veranderinge aan regulasie 28 – die regulasie van die Wet op Pensioenfondse wat die maksimum voorskryf wat pensioenfondse in verskillende bateklasse mag belê. Dis die enigste verwysing na voorgeskrewe bates. Die ANC het voorheen gesê hy wil pensioenfondse verplig om in infrastruktuurprojekte te belê.

2. Grondonteiening sonder vergoeding gaan voort

Die proses om art. 25 van die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding makliker te maak. Grond wat deur die staat besit word, moet beskikbaar gestel word vir behuising, landbou en die ontwikkeling van ondernemings. Daarby moet onbenutte grond swaarder belas word.

Die dokument sê ook produksie op staatsgrond en grond wat in restitusie toegeken word, moet “aggressief” bevorder word.

3. Geen verwysing na nasionalisering

Die woord “nasionalisering” word nie een keer gebruik nie. Daar word egter gesê dat die staat die Reserwebank ten volle moet besit, maar sonder om private aandeelhouers “wat die situasie wil misbruik” “onbillik te verryk”. 

4. Groot klem op infrastruktuur

Soos verwag, is dit die hooffokus van die dokument. Die woord “infrastruktuur’ word 89 keer gebruik.

Daar word verwys na nuwe beleggings in energie, water, paaie, huise, digitale infrastruktuur en openbare vervoer.

Suid-Afrika se herstel moet deur infrastruktuur aangedryf word, luidens die dokument.

5. Tyd om te “verplaaslik”

Van die aspekte waarna die dokument verwys, toon dat daar wel gedink is oor die lesse van die Covid-19-pandemie. Dit sluit in ’n verwysing daarna dat gesondheidstoerusting soos ventilators en beskermende klere plaaslik vervaardig moet word.

Daar word ook, soos in ander beleidsdokumente, verwys na die landbouwaardeketting se belangrike rol om werk te skep.

’n Voorstel word gedoen dat die staat se verkryging sover as moontlik plaaslik gedoen moet word en dat verslag gedoen word oor die persentasie aankope wat ingevoer word. Dit moet proaktief verminder word.

6. Elektroniese visums moet nou kom

Die dokument beklemtoon hoe belangrik toerisme is en sê dis tyd om die oorskakeling na e-visums af te handel en mense van meer lande sonder visums die land te laat inkom.

7. Spektrum, spektrum, spektrum

Soos die regering al tot vervelens toe gesê het, en iets waarop die bedryf nou al byna 15 jaar lank wag, is dit tyd dat meer breëbandspektrum toegewys word sodat datakoste vir huishoudings en firmas kan daal.

8. Klein en mikro-ondernemings moet meer steun kry

Die dokument sê die Covid-19-krisis het getoon hoe belangrik dié sektor is om ’n inkomste vir gemarginaliseerde Suid-Afrikaners te verseker. Toegang tot staatshulp en finansiering vir die sektor moet geprioritiseer word.

9. Private sektor is belangrik

Die dokument verwys herhaaldelik daarna dat private-openbare vennootskappe belangrik is. Daar is 38 verwysings na hoe belangrik die private sektor is.

“Die mobilisering van geld vir groter investering in infrastruktuur en belangrike produktiewe sektore sal onvermydelik ’n kombinasie van openbare en private bronne vereis.”

10. Maar dit bly ’n “ontwikkelingstaat”

Die woord “developmental” word 16 keer gebruik, met verwysing na die staat se rol in die ekonomie. In ’n ontwikkelingstaat is die klem op staatsbeheer oor alle fasette van die ekonomie – iets waarvan baie ekonome reken die staat moet juis wegbeweeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.