Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
ANC sê glo ja vir Tito-groeiplan

Nie net het die ANC-koukus en die uitgebreide kabinet reeds die ekonomiese groeiplan van Tito Mboweni, minister van finansies, goedgekeur nie, maar is dit waarskynlik die grondslag waarop die ANC se magtigste struktuur die naweek planne gaan skoei om die sukkelende ekonomie reg te ruk.

Oudmin. Roelf Meyer het op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom se aktuele gesprekkereeks met die onderwerp “Cyril Ramaphosa – daeraad of sononder?” gesê die koukus en uitgebreide kabinet se goedkeuring van Mboweni se plan is baie positiewe tekens dat die regering op die regte pad is.

Meyer is nou betrokke by die openbare-private-groei-inisiatief, wat Ramaphosa ná sy eerste staatsrede begin het om ekonomiese groei in die land te help aanwakker.

TIto Mboweni Foto: getty

Ramaphosa het Woensdag aangekondig dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die naweek verskeie maatreëls gaan bespreek om die sukkelende ekonomie ’n hupstoot te gee.

Volgens Meyer dui sy inligting daarop dat Ramaphosa se steun in die NUK toeneem.

Meyer was ook verlede week by ’n geleentheid waar Mboweni aan die land se top-50 uitvoerende hoofde van maatskappye gesê het hy – as minister van finansies – sal die land se ekonomiese beleid bepaal en nie Luthuli-huis (die ANC se hoofkantoor) nie.

“Ek wens elke Suid-Afrikaner kon hoor wat Tito daar gesê het. Dit is die soort van inspirasie wat elkeen van julle sal laat beter voel en julle beter sal laat slaap.”

Die ANC-NUK vergader die naweek vir die eerste keer sedert die tesourie Mboweni se besprekingsdokument met hervormingsmaatreëls vir die ekonomie uitgereik het.

Roelf Meyer Foto: Simone Kley

Die party se alliansievennote het reeds vroeër gesê hulle verwerp die plan omdat hulle nie geraadpleeg is in die samestelling daarvan nie.

Ramaphosa was gisteroggend die spreker by die aanvang van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadtu) se negende nasionale kongres, wat by Nasrec in Johannesburg gehou word.

Hy sê die ANC se alliansievennote, die SAKP en die vakverbond Cosatu, asook die South African National Civic Organisation (Sanco), sal geraadpleeg word oor Mboweni se plan.

“Dit moet afgehandel word sodat die energie en krag van die ekonomie ontsluit kan word om te groei en ook te transformeer om die werkloosheidskoers wat ons het op te los,” sê Ramaphosa.

In nóg ’n bemoedigende teken het die tesourie Dinsdag gesê hy beskou die vraag na sy effekte in Europa as ’n “teken van beleggersvertroue in die land se goeie makro-ekonomiese beleidsraamwerk en omsigtige fiskale bestuur”.

Modernisering, landbou

  • Tito Mboweni se ekonomiese plan van “doelbewuste en doelgerigte optrede” wat aan die einde van Augustus deur die tesourie uitgereik is:
  • Die modernisering van netwerk-nywerhede, soos energie, vervoer en telekommunikasie, om dit doeltreffender te maak.) In die dokument word geredeneer dat die skuldgeteisterde Eskom dit moet oorweeg om sy steenkoolkragstasies te verkoop om sy skuld van R450 miljard te delg.
  • Die dokument verklaar voorts dat groot en gevestigde maatskappye steeds die land se ekonomie en indiensnemingsdinamika oorheers, waardeur struikelblokke geskep word vir nuwe toetreders.
  • Die tesourie het ook ’n beroep gedoen dat rompslomp verminder moet word, toegang tot ontwikkelingskapitaal vir klein ondernemings verbeter word en dat klein ondernemings moontlik uitgesluit word van kollektiewe bedingingsooreenkomste.
  • Landbou moet getransformeer word en toerisme moet ’n hupstoot kry.
  • Die dokument vra ook om die verslapping in Suid-Afrika se visumregulasies en reken dit moet aangepas word om “ ’n beter balans te verseker tussen veiligheidskwellings en die groei van die toerismesektor”. – Fin24

    Meer oor:  Tito Mboweni  |  Roelf Meyer  |  Groeiplan
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.