Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘ANC wil meer bestee, maar dis nie die antwoord’

Dis duidelik dat die tweespalt binne die ANC nog nie uitgewoed is nie, sê die ekonoom dr. Roelof Botha.

Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van Optimum Beleggingsgroep

Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep, sê die besprekingsdokument wat die ANC se ekonomiese transformasiekomitee Vrydag uitgereik het, staan “in verskeie opsigte lynreg teenoor die tesourie se groeiplan’, wat vroeër vanjaar uitgereik is.

Die ANC noem sy dokument Rekonstruksie, groei en transformasie: Die bou van ’n nuwe, inklusiewe ekonomie.

“Die ANC speel met vuur indien ideologiese doelwitte ná die koronavirus vooropgestel gaan word. Daar bestaan geen twyfel hoegenaamd nie dat werkskepping en hoër ekonomiese groei die uitsluitlike doelwitte van toekomstige ekonomiese beleid moet wees – dit is immers die enigste manier waarop die land se staatsfinansies kan herstel,” sê Botha.

“In plaas van struikelblokke in die pad van groei en investering uit die weg te ruim, soos deur pres. Cyril Ramaphosa beloof is, stel die komitee beleid voor wat ongetwyfeld groot skade aan beleggersvertroue en die ekonomie sal berokken.


Voordat grandiose planne gemaak word, moet hulle eers die gemors wat hulle geskep het, ongedaan maak.
Dawie Roodt

“Die kommerwekkendste aspek is die volgehoue plan vir grondhervorming sonder vergoeding. ’n Radikale benadering tot grondhervorming het in lande soos Zimbabwe en meer onlangs in Venezuela tot die ineenstorting van hul ekonomieë gelei en grootskaalse maatskaplik-politieke onstabiliteit veroorsaak, insluitende hongersnood.”

LEES OOK: ANC se ekonomiese plan: 10 dinge wat jy moet weet

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê as ’n mens eers ideologie tersyde laat, staan een ding soos ’n paal bo water: die staat se onbevoegdheid. Met ’n onbevoegde en korrupte staatsdiens – veral plaaslike owerhede – is enige plan gedoem om te misluk.

“Voordat grandiose planne gemaak word, moet hulle eers die gemors wat hulle geskep het, ongedaan maak.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group.

Roodt sê dit help nie die plan lê klem op infrastruktuurontwikkeling, maar sê niks oor hoe die regering sy lopende uitgawes moet besnoei nie. Die opgeblase staatsdiens, Eskom en ander staatsondernemings moet eers ingeperk word.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, sê die plan is baie goed wat die uiteensit van die probleme betref. Daar word byvoorbeeld onder meer verwys na die swak onderwys wat kinders in townships kry, na gebrekkige treindienste en te min krag.

Maar die oorsaak van die probleme word nie werklik ondersoek nie, soos dat die staat misluk weens onbevoegde amptenare en dat vakbonde te veel mag het.

Daarby is die voorgestelde oplossings bloot om meer geld te bestee. “Meer geld is nie die antwoord nie. Jy kan nie alles regmaak met geld nie en ons is nie ’n land met onbeperkte belastinginkomste nie.”

Meer geld is nie die antwoord nie.
Mike Schüssler

Schüssler is bekommerd dat daar steeds soveel klem gelê word op die “ontwikkelingstaat”, terwyl Suid-Afrika nodig het dat die private sektor “losgelaat word”.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za.

Hy voel dit help nie om meer geld in infrastruktuur te bestee as jy bestaande infrastruktuur het wat nie behoorlik benut word nie. Hy verwys onder meer na Eskom se kragstasies wat nie in stand gehou is nie en dus breek en bykans leë stedelike busse wat ten duurste gesubsidieer word omdat treine mense nie betyds (of veilig) by stasies met bushaltes kan bring nie.

“Dit gaan nie help om meer kragstasies te bou of meer treine of busse te kry as dit wat ons het, nie doeltreffend bestuur word nie.”

Schüssler sê daar moet ’n groter klem wees op mense met die regte vaardighede en ingesteldheid. Hy meen staatsamptenare moet verantwoordbaar gehou word – by skole waar te veel kinders druip, moet hoofde dalk vervang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.