Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Apokalipties as inperking verleng, sê Dawie Roodt

As Suid-Afrika se grendeltyd met nog twee of drie maande verleng word, gaan mense honger ly, maatskaplike en politieke spanning gaan losbars en mense gaan winkelsentrums stroop.

“Dit waarvan ons praat, is apokalipties,” waarsku Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, sê ’n gulde geleentheid om die SAL te sluit en staatsdienssalarisse te sny, is deur die vingers laat glip.

Volgens hom gaan die ekonomie dan met 30% inkrimp en gaan minstens vier miljoen mense hul werk verloor.

Volgens hom gaan die drie weke lange inperking die ekonomie reeds met minstens 5% laat krimp en ’n miljoen ekstra mense gaan hul werk verloor. “Dit gaan Suid-Afrika in ’n baie lang en diep resessie sit.”

Roodt het gereageer op ’n berig in Rapport Sondag oor die Boston Consulting Group (BCG), wat in ’n verslag bevind het Suid-Afrika gaan ’n inperking nodig hê wat eers tussen Junie en Augustus opgehef word.

’n Epidemioloog van ’n groot versekeringsgroep wat anoniem wil bly, het gesê daar is epidemiologiese modelle wat toon inperking raak eers ná 40 dae effektief. Hy wys daarop dat feitlik al die ander lande hul inperking verleng het.

“As ons kyk na die res van die wêreld, sal dit waarskynlik langer wees.”

Impak sal op dag 11 gesien word

Volgens hom sal die impak van die inperking rondom dag 11 gesien word. Dit is omdat iemand wat vandag die virus opdoen, gemiddeld binne vyf dae siek raak. Daarna neem dit gemiddeld wêreldwyd ses dae voordat ’n geval bevestig word.

Bronwyn Nortje, ’n openbare beleidsontleder, sê sy glo die inperking gaan verleng word, maar meen die regulasies sal realisties en prakties moet wees om volhoubaar te wees en deur mense aanvaar te word.

“Die regering moet ’n balans vind tussen inperkingsregulasies wat die impak van die virus op die samelewing sal beperk, en die ekonomiese en beleidsveranderinge wat onmiddellik ekonomiese verligting kan bring, asook ekonomiese groei kan stimuleer.

“Die regering moet onmiddellike ekonomiese verligting vir alle Suid-Afrikaners beskikbaar stel, maar veral mense wat werkloos is en die arm werkersklas,” sê sy.

“Die eenvoudigste en maklikste manier is deur ’n tydelike, klein inkomstetoelaag beskikbaar te stel waarvoor elke Suid-Afrikaner, ongeag inkomste of omstandighede, elke maand by die regering kan aansoek doen. 

“Ons het aanvanklik heelwat ondersteuning vir die inperking gesien, omdat mense dit as ’n noodsaaklike en beslissende reaksie teen die verspreiding van die virus gesien het. Dinge het verander toe mense die gevolge van die inperking besef,” sê sy.

“Ondersteuning vir die inperking kan net volhou word as die maatreëls realisties en afdwingbaar is.”

Inperking moet aangepas word

Martin Kingston, vise-president van Business Unity South Africa (Busa) en woordvoerder van Business for South Africa, wat gestig is om die impak van Covid-19 op die sakesektor te probeer versag, het gesê die rede vir ’n inperking word verstaan, maar dit het baie ernstige ekonomiese gevolge.

“Daar is aansienlike druk van die sakebedryf af om die inperking te verslap gegewe die baie ernstige impak op die sakesektor en om noodsaaklike dienste soos kos en medisyne aan mense te versprei wat nie geredelik toegang daartoe het nie.

“Maar terselfdertyd kan nie toegelaat word dat die gesondheidstelsel oorweldig word nie en daarom word die poging ondersteun om te verseker die infeksiekoers plat af.”

Kingston het gesê die regering hoef nie met die sakesektor oor ’n verlenging van die inperking te konsulteer nie.

“In hierdie omstandighede moet die regering sy eie besluite neem, maar ons gee insette oor die gevolge van die inperking.”

Hy sê hulle het reeds hul siening twee weke gelede met die president gedeel dat die inperking aangepas moet word vir Suid-Afrika se omstandighede.

“Ons is deurlopend in dialoog oor die doeltreffendheid van die inperkingsprosesse wat aangekondig is en hoe dit op gepaste wyse aangepas kan word sonder om onvanpaste presedente te skep.”

Of daar enige inligting nodig is wat hulle eers sal wil sien voor die regering besluit oor 'n verlenging van die inperking, het hy gesê hy glo hulle het toegang tot dieselfde data as die regering.

“Die infeksiekoers is natuurlik ’n belangrike bestanddeel. Soos die minister van gesondheid Suid-Afrika herhaaldelik gewaarsku het, dit wat ons tot op hede sien, is nie noodwendig ’n akkurate weerspieëling van die vlak van infeksie nie. Ons verwag almal dat die infeksiesyfer drasties sal styg en in die konteks gaan daar ongelukkig ‘n hoër vlak van sterftes wees soos gesien oor die hele wêreld.”

As die tydperk verleng word, sal die sakesektor dit ondersteun.

“Suid-Afrika moet hand aan hand werk omdat dit ’n ongekende krisis is wat ons nie wil hê ’n ramp moet word nie – humanitêr of ekonomies.

Meer oor:  Dawie Roodt  |  Inperking  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.