Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Armes droewig nadat toelae, werk opdroog

Verbruikersvertroue het vanaf die eerste tot tweede kwartaal skerp gedaal, aangesien min werkgeleenthede en die staking van staatshulp die vooruitsigte vir veral armer mense droewig laat lyk.

Dirk Viljoen van Wellington versamel vir 'n inkomste onder meer papier, glasbottels en koeldrankblikkies. Foto: Engela Duvenage

Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, sê daar is ’n kommerwekkende ommeswaai in verbruikersentiment by huishoudings wat ’n lae inkomste (van minder as R2 500 per maand) het.

Dié groep se verbruikersvertroue was neutraal in die eerste kwartaal en het skerp tot -22 punte in die tweede kwartaal gedaal.

Volgens haar is hulle baie negatief oor die vooruitsig vir die ekonomie en hulle het nie hoop dat hul geldsake in die komende jaar gaan verbeter nie.

Die groep se verbruikersvertroue is selfs laer as wat dit in die derde kwartaal van verlede jaar was.

Matikinca-Ngwenya sê ’n aantal negatiewe verwikkelinge het waarskynlik die vertrouensvlakke van minder gegoede verbruikers geraak, waaronder die stygende voedsel- en brandstofpryse, die begin van die derde vlaag van infeksies en die swak herstel in werkgeleenthede ná ongekende werkverliese verlede jaar.

Sy meen die verstryking van die aanvulling van maatskaplike toelaes wat in 2020 in werking getree het asook die noodtoelaes en die Werkloosheidversekeringsfonds se tydelike hulpskema vir werkgewers het hul vertroue verder geknou.

Verbruikersvertroue 2de kwartaal

Die aangevulde maatskaplike toelaes en noodtoelaes het die besteebare inkomste van die mees kwesbare huishoudings tot omtrent R7 miljard per maand aangevul.

“Omdat werkgeleenthede vir lae geskooldes nie naastenby tot die vlak van voor die pandemie herstel het nie, laat die verstryking van hierdie toelaes ’n gapende gat in die begrotings van lae inkomstegroepe.”

Rykes ook negatiewer

Ander inkomstegroepe is ook negatiewer as in die eerste kwartaal.

Die rykste groep (wat meer as R20 000 per maand verdien) se verbruikersvertroue het van -15 tot -18 gedaal.

Die middelklas (huishoudings wat tussen R2 500 en R20 000 verdien) het van -7 tot -9 gedaal.

Albei dié groepe se vertroue het weens hul vooruitsigte vir die ekonomie gedaal.

FNB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se indeks oor verbruikersvertroue is uit ’n peiling saamgestel wat van 7 tot 14 Junie gedoen is nadat die infeksies in die land skerper toegeneem het.

Sy meen verbruikers is waarskynlik almal bekommerd oor die uitwerking van die hernude inperkings op die ekonomie, veral gegewe hoe min inentings gedoen word.

Beurtkrag, wat die afgelope tyd al hoe meer voorgekom het, het waarskynlik ook verbruikersvertroue benadeel.

Verbruikersvertroue 2de kwartaal

In geheel het die indeks weer tot -13 punte teruggesak.

Dit is nadat dit in die eerste kwartaal van -12 tot -9 indekspunte herstel het.

Volgens haar is die jongste lesing ver onder die gemiddelde lesing vir verbruikersvertroue sedert 1994, wat +2 is en dui op die negatiewe verbruikersvertroue wat heers.

Dit is egter minder negatief as die buitengewoon pessimistiese lesings van -33 en -23 wat gedurende die tweede en derde kwartaal van 2020 aangeteken is.

Dit was gedurende die eerste ernstige inperkings wat weens die pandemie in werking getree het.

Opgekropte vraag na duurder goedere

Die onderafdelings van die indeks wat gegrond is op vrae oor die ekonomiese vooruitsig en wanneer verbruikers duursame goedere gaan koop (soos motors, meubels, huishoudelike en elektroniese toestelle) het gedaal. Dié indeks het onderskeidelik tot -14 en -36 punte gedaal.

Die een oor huishoudings se finansiële vooruitsig het onveranderd gebly op +10 punte. Dit dui daarop dat die meeste deelnemers aan die peiling glo hul geldsake gaan in die komende 12 maande verbeter.

Die meeste hoërinkomstegroepe verwag hul geldsake gaan onveranderd bly in die komende 12 maande en die meerderheid middelinkomstegroepe verwag ’n verbetering.

Die meeste hoërinkomstegroepe en middelinkomstegroepe se siening oor of dit nou die gepaste tyd is om duursame goedere te koop het betreklik onveranderd sedert die eerste kwartaal gebly.

Volgens haar is daar egter duidelike tekens van ’n verbruikersmark wat verskillende groei gaan hê.

“Ná sterk besteding op voedsel en ander kruideniersware in 2020 gaan die groei in nieduursame goedere nou onder druk kom weens die beduidende verswakking in huishoudelike finansies van verbruikers met ’n lae inkomste wat gewoonlik die grootste deel van hul inkomste op voedsel en basiese benodigdhede bestee.”

“Daarteenoor word die verkoopsvolumes van duursame en halfduursame goedere ondersteun deur die opgekropte vraag van hoë- en middelinkomsteverbruikers, wat hul skuld in 2020 verminder het weens rekordlae rentekoerse en omdat hulle meer gespaar het toe hul besteding verminder het op dinge soos oorsese reise en nuwe voertuie.”

Sy sê dié produkkategorieë het ook die meeste voordeel getrek uit die verlaging van persoonlike inkomstebelasting wat in die nasionale begroting van Februarie aangekondig is.

Die verkope van duursame en halfduursame goedere sal egter waarskynlik ook in die derde kwartaal ’n bietjie swaarder trek weens die derde vlaag van infeksies en verdere inperkings.

“In die afwesigheid van verdere welsynsbesteding van die regering, is die vooruitsigte vir laerinkomstegroepe en kleinhandelaars van nieduursame goedere baie afhanklik van werkskepping, wat die ekonomie se swak plek is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.