SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Ekonomie
As handelsoorlog eindig, word ons ‘opbrengs-koning’
ss
’n Ooreenkoms tussen die wêreld se twee grootste ekonomieë sal grootliks in Suid-Afrika se guns wees.

Afrika sit oorgehaal om die “land van geleenthede” vir beleggers in effekte en aandele te word, mits die handelsoorlog tussen die VSA en China ophou spook.

Só reken Bank of America (BoA), wat wys op die hoë opbrengste wat nog in Afrika te vind is en elders toenemend seldsaam raak.

Tot dusver is die vrees van ’n wêreldresessie weens ’n uitbreiding van veral die handelsoorlog nog ’n hindernis vir beleggers om opbrengste te jaag in meer riskante markte, maar dit kan eersdaags verander.

“Ons dink dat die verwydering van tariewe en resessievrese minstens tot met die Amerikaanse verkiesing in November 2020 tot ’n toename in waagmoed vir beleggings kan lei en die mark ’n hupstoot teen die eerste kwartaal kan gee,” sê David Hauner en Claudio Irigoyen, stratege van BoA, in ’n nota aan kliënte.

Onder die ontluikende markte wat die meeste voordeel sal trek, sal “sommige van die minder geliefde geldeenhede en hoë-opbrengsmarkte wees – die Afrikalande waarin China reeds speel,” sê hulle.

Terwyl baie beleggers skepties bly oor die suksesvolle afsluiting van die huidige ronde onderhandelinge tussen die VSA en China, sal ’n ooreenkoms waarskynliker word namate die Amerikaanse presidentsverkiesingsveldtog nader kom, meen Hauner en Irigoyen.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag in ’n onderhoud met Bloomberg TV gesê ’n ooreenkoms tussen die wêreld se twee grootste ekonomieë sal grootliks in Suid-Afrika se guns wees.

’n Handelsverdrag sal die risiko van ’n versterkende dollar verminder, wat ontluikende markte se geldeenhede en hoë-opbrengskuld sal ondersteun.

Sommige geldeenhede, insluitend die rand, sal ook baat vind by die invloei van buitelandse geld na die aandelemark. Aandele is waarskynlik die bateklas wat die meeste baat sal vind by ’n ekonomiese herstel, volgens die stratege.

In Suid-Afrika bied staatseffekte gedenomineer in rand eintlik ’n geleentheid vir beleggers, meen BoA, al het Moody’s Investors Service die vooruitsig daarop onlangs van stabiel na negatief verander.

Dié staatseffekte is dus teen ’n diskonto beskikbaar, en die meeste ontleders reken dat die mees rampspoedige moontlike gevolge van ’n afgradering tot rommelstatus eintlik reeds ingeprys is.

As ’n wêreldresessie dus vermy kan word met ’n handelsverdrag tussen China en die VSA, kan beleggers baie baat vind as hulle die geleenthede vir hoë opbrengste in Afrika aangryp. – Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Handel  |  Opbrengs  |  Handelsoorlog  |  Inkomste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.