Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
'As ons niks doen, is Covid-19 nét die begin’

Die wêreldekonomie kan doodeenvoudig nie net daarna mik om te herstel nie – Covid-19 wys hoe kwesbaar hy is vir die talle krisisse wat nog op pad is, en die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) reken dit is tyd vir ’n “Groot Herset” (Great Reset).

Prins Charles het Woensdag deelgeneem aan ’n paneelgesprek met die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) en sy kommer uitgespreek oor die wêreldekonomie se kanse om sonder ’n enorme wysiging aan die wêreldorde te herstel. Foto: Getty Images

“Die wêreld het verander. Ons kwesbaarheid is duidelik. Ons stelsels kort ’n regstelling,” het die WEF Woensdag op ’n aanlyn mediakonferensie gesê.

Prins Charles van Brittanje, wat ’n paneellid op die konferensie was, het gewaarsku daar is geen manier waarop die wêreld in sy huidige kwesbare toestand die volgende krisis kan afweer nie – en die volgende krisis ís op pad.

“Ons wêreld het tot stilstand gekom, en ons was nie in staat om die krisis af te weer nie,” het hy gesê. “Sake sal vererger as ons niks doen nie.”

Volgens prof. Klaus Schwab, voorsitter van die WEF, is die Covid-19-pandemie die grootste krisis in die wêreld sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Soos wat die internasionale gemeenskap ná die oorlog saamgespan het om die wêreldekonomie te herbou in ’n stap wat tot dekades se welstand gelei het, is dit nou noodsaaklik dat dieselfde ommekeer van die wêreldorde plaasvind, het hy gesê.

Die WEF se beroep om verandering word genoem die “Groot Herset” in plaas van “herstel” (recovery), wat sou impliseer dat die bestaande ekonomiese orde bloot “reggemaak” word.

“Ons ou stelsels werk doodeenvoudig nie meer nie,” het hy gesê.

Ons bedrywighede het die wêreld se ‘immuunstelsel’ in gedrang gebring. Die wêreld is siek as gevolg van ons.
Prins Charles

Die huidige krisis wys hoe maklik dinge uitmekaarval en mense agtergelaat word wanneer daar nie die perfekte omstandighede in die ekonomie is nie, het hy verduidelik.

Schwab het gewaarsku dat die ontluikende toename in ongelykheid weens die pandemie en die gepaardgaande ekonomiese agteruitgang van die wêreld beteken dat grootskaalse maatskaplike onrus “soos ons nog nie gesien het nie” op pad is indien iets dringends nie gedoen word nie.

Kristalina Georgieva, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), het gesê volgens hul data gaan 170 lande wêreldwyd aan die einde van 2020 weens resessies met kleiner ekonomieë sit.

Dit is ’n ongekende gebeurtenis, het Georgieva gesê.

Sy is veral bekommerd oor die invloed daarvan op die vooruitgang wat in die afgelope dekades gemaak is.

Volgens haar sal die meeste wêrelddele ’n terugslag beleef wat hulle dekades sal terugsit as daar nie dringende verandering kom om ’n “groener, slimmer en billiker” wêreldekonomie te bou nie.

Sy het die voorbeeld van die digitale ekonomie genoem wat oënskynlik die “wenner” in die Covid-19-krisis is. Dit is alles goed en wel, maar lande en samelewings wat nie gedigitaliseer is nie, sal net nóg verder agter raak.

Ongelykheid dryf ’n groeiende wantroue in die demokrasie.
Sharan Burrow

Die wêreld kan nie nóg groter ongelykheid bekostig nie, het sy gewaarsku.

Sharan Burrow, sekretaris-generaal van die Internasionale Vakbondkonfederasie (Ituc), het gesê die krisis het bestaande ongelykhede blootgelê en vererger. Dit sal net verder toeneem indien die stelsel nie verander nie.

“Ongelykheid dryf ’n groeiende wantroue in die demokrasie,” het sy gesê.

Charles het gesê hy reken dit is hoekom nasionalisme, rassisme en fascisme al meer kop uitsteek.

“Ons gaan meer pandemies, rampe en krisisse hê as ons nie nóú verander nie!”

Volgens hom beskou hy die Covid-19-pandemie en wat dit aan ekonomieë doen as ’n kleedrepetisie vir die dreigende klimaatkrisis.

Hy het verduidelik dat die onvolhoubaarheid van en wanbalans in die natuur juis die pandemie veroorsaak het.

“Ons bedrywighede het die wêreld se ‘immuunstelsel’ in gedrang gebring. Die wêreld is siek as gevolg van ons.”

Volgens Nick Stern, Britse ekonoom, is daar min kans dat ons die klimaatkrisis sal oorleef as ons ekonomieë nie eens Covid-19 kan afweer nie.

“Ons gaan ons ekonomieë drasties moet verander.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.