Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Atlantis kry gou nog geld en werk vir tot 1 000

Die Weskusdorp Atlantis, waar werkloosheid, armoede en bendegeweld hoogty vier, het nou spesiale ekonomiese status wat vir tot 1 000 regstreekse werkgeleenthede kan sorg danksy beleggings van meer as R600 miljoen.

Atlantis word steeds geteister deur misdaad, soos wat gesien kan word aan die koeëlgate in hierdie muur.

Atlantis, sowat 50 km noord van Kaapstad, is een van tien gebiede in Suid-Afrika wat dié status geniet. Spesiale ekonomiese sones (SES’e) is afgebakende gebiede vir baie spesifieke ekonomiese bedrywighede.

Wat dié een anders maak, is sy sterk fokus op die groen ekonomie, sê David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede. Die Verenigde Nasies het in ’n verslag in 2018 geraam die groen ekonomie wêreldwyd is $4 000 miljard werd.

Beleggers in die SES’e kwalifiseer nie net vir spesiale handelsooreenkomste nie, maar kry ook belastingaansporings.

Suid-Afrika se SES’e word nie ewe doeltreffend bedryf nie. Talle voornemende beleggers word afgeskrik deur hindernisse om lisensies vir hul voorgenome sakeondernemings te bekom en daar is kritiek dat die omliggende gemeenskappe nie voordeel trek uit die geld wat daar ingestoot word nie.

Die apartheidsregering het bruin mense in die 1970’s ingevolge die Groepsgebiedewet na Atlantis verskuif. Oor die afgelope twee dekades was daar verskeie inisiatiewe en aansporingsmaatreëls om maatskappye sover te kry om sakebedrywighede daar te begin.

Dit was nie altyd suksesvol nie en talle maatskappye wat probeer het om daar sake te doen, het hul deure mettertyd gesluit.

’n Lugfoto van Atlantis, 40 km noord van Kaapstad.

Een maatskappy wat daarin kon slaag om honderde werkgeleenthede te skep, is Hisense, die Chinese vervaardiger van elektriese toestelle soos TV’s en yskaste wat in 2013 ’n fabriek in Atlantis geopen het. Die maatskappy beplan om vanjaar nog ’n fabriek oop te maak wat hopelik nóg 200 werkgeleenthede sal skep.

Die stad Kaapstad het in 2011 ’n vervaardigingsektor vir groen tegnologie in Atlantis gevestig. Dit het oor die afgelope jare reeds beleggings van R680 miljoen gelok.

Gestamp Renewable Industries (GRI), ’n Spaanse vervaardiger van torings vir windenergie, het R475 miljoen daar belê selfs nog voordat die spesiale ekonomiese sone amptelik gevestig is.

Kaytech, ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat geotekstiele vervaardig, het reeds R130 miljoen belê en Resolux, wat komponente vir windturbines vervaardig, R25 miljoen.

Die gebied is uiteindelik einde 2018 tot spesiale ekonomiese sone verklaar.

Die Kaapse stadsraad het die grond waarop sake in Atlantis gedoen word, vroeg in Desember amptelik aan die SES verkoop.

Dit behoort ekstra gemoedsrus te bied aan voornemende beleggers – veral vir bieërs vir die regering se sogenaamde groenkragvoorsieningsprojekte (REIPP’s).

Meer oor:  Atlantis  |  Werkskepping  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.