Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
B4SA en vakbonde wil WVF se Ters verleng hê

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19-Ters-voordele gaan dalk eersdaags weer vloei vanweë gesamentlike druk vanaf B4SA en georganiseerde arbeid.

Talle ondernemings staan gesluit weens die pandemie se uitwerking op die ekonomie in 7de Straat, Melville, Johannesburg. Foto: Getty Images

Daar is honderdduisende mense wat gebuk gaan onder die gesamentlike uitwerking van die pandemie en die strenger inperking op die ekonomie, maar die sakesektor en vakbonde reken daar is hoop dat voordele weer na werkers sal kom namate onderhandelinge in Nedlac voortduur.

Rob Legh, arbeidsameroeper van B4SA, sê aan Netwerk24 gesprekke by Nedlac “is in ’n gevorderde stadium” en dat die WVF “positief” blyk te wees oor die idee om Ters-voordele te hervat.

“Ek kan bevestig dat hierdie gesprekke voortduur,” sê Legh.

Volgens Legh is daar doodeenvoudig te veel mense wat nie tans kan werk nie in onder meer die alkohol- en gasvryheidsbedryf om nie ’n vorm van ondersteuning aan te bied nie.

“Op ’n makro-ekonomiese vlak is die WVF die enkel grootste bydraer tot die ekonomie gedurende hierdie tyd,” sê Legh.

Hy sê hierdie geld, die geld van werkers self, is die grootste stimulus vir die ekonomie te midde van die pandemie.

“Die regering het nie geld nie.”

LEES OOK: Stimulus? Die regering se geld is op

Op die vraag of die WVF se geld nie al uitgeput is nie, sê Legh “nee”.

“Daar was sowat R110 miljard oor teen die einde van Oktober.” Teen daardie tyd het die Ters-skema reeds amper R50 miljard uitbetaal.

Volgens Legh is die land nou besig om die WVF se surplus wat oor jare opgegaar is, te benut.

Maar dit kan nie roekeloos ingespan word nie – hierdie bly die geld van “die werkers”.

“Die eintlike punt van die fonds is om mense wat permanent hul werk verloor het te help – nie om tydelike afdankings te ondersteun soos nou nie.”

Legh sê dit kan dalk nodig wees dat die Ters-voordele verklein word indien dit hervat word sodat die fonds nie al sy surplus opgebruik nie.

Hulle verwag eersdaags ’n antwoord.

Intussen het die vakbondfederasie Fedusa ook ’n beroep gedoen op die regering om enige afleggings tydens die verlengde ramptoestand te verbied.

In ’n verklaring wat Woensdag uitgereik is, sê Fedusa ’n moratorium is nodig om te verhoed dat derduisende werkers hul werk kwyt raak tydens die heringestelde vlak 3-inperking.

Meer oor:  B4sa  |  Wvf  |  Covid-19-Ters  |  Werkers  |  Stimulus  |  Covid-19  |  Afdankings  |  Staat Van Inperking  |  Ters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.