Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Baie dom om nou geld uit SA te vat’ – ekonoom
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, Vrydag op die Dewetsdorp Veldfees Foto: Marita Herselman

Dit sal regtig baie dom wees om nou jou geld uit die land te vat, sê dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep.

Botha het Vrydag op die Dewetsdorp Veldfees in die Vrystaat ’n praatjie oor die land se V-vormige ekonomiese herstel gelewer.

Hy het daarna in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê hy vertrou Suid-Afrikaners gaan in die volgende vyf tot tien jaar baie meer geld uit bates hier as oorsee verdien.

Hy glo die rand is nagenoeg 20% onderwaardeer.

“As jy nou byvoorbeeld ’n groot bedrag geld oorsee wil belê en die rand sou versterk, wat ek glo gaan gebeur, en jy wil in Suid-Afrika bly, dan is dit mos nou nie ’n goeie plan nie. Dis ’n vreeslike slegte plan.

“Jou dividendopbrengskoers is verspot laag in Europa, jou geldmarkrentekoers is negatief in reële terme. So hoekom wil jy so iets aanvang?”

Botha verwys na Louwrens Smith, hoof van die Optimum-beleggingsgroep, se standpunt. “Besluit waar jy wil bly. As jy in Suid-Afrika wil bly, hoekom wil jy al jou geld uit die land vat?”

Botha sê die grondslag vir ’n baie goeie ekonomiese groei in die land, ’n minimum van 4%, word nou gelê.

“Ons sit met die grootste surplus op die handelsbalans in ons geskiedenis vir die eerste agt maande van die jaar.”

In randterme het die land vanjaar die grootste mielieoes tot nog toe gelewer, en in terme van volume die tweede grootste, sê hy.

“Daar is verskeie landbouprodukte waar rekords verbeter word en ons uitvoere vaar uitstekend.”

Besluit waar jy wil bly. As jy in Suid-Afrika wil bly, hoekom wil jy al jou geld uit die land vat?

Volgens hom het kleinhandel- en groothandelverkope reeds herstel.

Botha het in sy praatjie gesê die uitvoer van landbou- en voedselprodukte is vir die eerste keer in 50 jaar die topverdieners van Suid-Afrika se buitelandse valuta.

Hy sê die land se ekonomie is besig om momentum op te tel en Suid-Afrika het die vermoë om sy ekonomie weer teen 3%, 4% of 5% per jaar te laat groei. Hiervan is invoervervanging ’n groot dryfveer vir groei.

Oor Tito Mboweni, minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsraamwerk sê hy sy enigste ernstige kritiek is die “verspot lae” groeikoers van 1,7% wat vir 2022 voorspel is.

Botha sê die land beleef hoegenaamd nie ’n fiskale krisis nie, omdat so ’n krisis ontstaan wanneer niemand staatseffekte wil koop nie, wat nie die geval is nie.

“Ons regering verkoop R2 miljard se staatseffekte per dag.”

Meer oor:  Roelof Botha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.