Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Bank van Engeland: Covid-19 gaan enorme invloed hê

Weens vrees oor die invloed van Covid-19 op die land se ekonomie het die Bank van Engeland se monetêrebeleidskomitee (MBK) Dinsdag op ’n spesiale vergadering dié land se rentekoers met 0,5 van ’n persentasiepunt verlaag.

Die Bank van Engeland in Londen het pas die rentekoers in dié land verlaag. Foto: Bloomberg

Dit maak Brittanje die derde groot moondheid ná die VSA en Kanada wat die rentekoers verlaag om die ekonomie te beskerm.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se MBK vergader volgende week en kondig op Donderdag 19 Maart die rentekoersbesluit aan. Gegewe dat Suid-Afrika se inflasie in bedwang is en die land reeds in ’n resessie is, pleit al hoe meer ekonome dat die rentekoers weer verlaag word. Dis in Januarie met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag.

Die Bank van Engeland het ook ander maatstawwe aangekondig om “ondernemings en huishoudings te help om die ekonomiese ontwrigting wat waarskynlik met Covid-19 verband gaan hou te oorbrug”.

“Dié maatstawwe sal maatskappye aan die gang en mense aan die werk hou en help keer dat ’n tydelike ontwrigting langdurige ekonomiese skade veroorsaak,” lui die verklaring op die Bank van Engeland se webwerf.

Die sentrale bank verwag dat die ekonomiese skok van die nuwe koronavirus “skerp en groot, maar tydelik” sal wees.

Hulpbron- en aandeelpryse het in Brittanje – soos in Suid-Afrika en die res van die wêreld – skerp geval en opbrengskoerse op Britse staatseffekte is op die laagste vlakke tot nog toe. Aanwysers van onsekerheid op finansiële markte is “op ekstreme vlakke”.

Die bank hoop dat die laer rentekoers ook sake- en verbruikersvertroue sal ondersteun, ondernemings en huishoudings se kontantvloei ’n hupstoot sal gee, finansieringskoste sal verlaag en dit makliker sal maak om lenings aan te gaan.

Benewens die verlaging in die rentekoers, is ’n nuwe finansieringskema vir klein tot mediumgrootte ondernemings bekend gestel. Dit sal uit die bank se reserwes gefinansier word.

Die MBK sal ook voortgaan met sy program van kwantitatiewe verruiming deur £10 miljard se korporatiewe effekte en £435 miljard se staatseffekte te koop.

Banke sal kan aansoek doen vir finansiering indien hulle meer lenings toestaan, veral aan klein en mediumgrootte ondernemings. Nagenoeg £100 miljard se finansiering sal na verwagting só gegee word.

Die Bank van Engeland sê die Britse bankstelsel sal die uitwerking van die virus kan weerstaan, gegrond op sogenaamde strestoetse wat gereeld gedoen word.

Meer oor:  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Wêreldekonomie  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.