Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Banke, kleinhandel styg ná Tito verbruikers help

Die aandeelpryse van banke en kleinhandelaars, wat almal van die welstand van verbruikers afhanklik is, het Woensdag sterk hoër gesluit ná die belastingverligting wat Tito Mboweni, minister van finansies, in sy begrotingsrede aangekondig het.

Shoprite
Shoprite se aandeelprys het Woensdag 10% hoër gesluit danksy die begrotingsrede.

Die rand het versterk van sy swakste vlak die oggend van R15,34 tot R15,09 ná die sluiting van die JSE.

Dit kom nadat die vrese oor die koronavirus se verspreiding internasionaal die rand vroegoggend verder laat verswak het en aandele kort ná die opening van die mark met 2% gedaal het.

Die aanpassing aan belastingskale gaan R14 miljard se inspuiting in die ekonomie gee in terme van verligting vir persoonlike-inkomstebelasting, volgens Investec Batebestuur.

“Voor die begroting was daar twyfel of daar politieke bereidwilligheid gaan wees om aan die bestedingskant van die begroting moeilike besluite te neem,” sê Hannes van den Berg, medehoof van Suid-Afrikaanse aandele van Investec Batebestuur.

“Daar was baie wat gedink het dit gaan dalk ’n stappie te ver wees om die nodige besnoeiing te doen en die verwagting was dat die begroting aan die inkomstekant aangevul sou moes word met addisionele belasting soos ’n BTW-verhoging en welvaartbelasting en dat blokkruiping nie toegelaat gaan word nie.

“Dit sou dus beteken dat die verbruiker met addisionele belasting aangeslaan word.”

Daarteenoor is nóg BTW nóg persoonlike-inkomstebelasting verhoog. Die belastingskale vir persoonlike-inkomstebelasting is om die waarheid te sê met meer as inflasie verhoog, wat belastingverligting tot gevolg het.

Van den Berg sê ’n groot klomp negatiewe sentiment teen banke en kleinhandelaars is skielik verwyder.

Adrian Cloete, ’n portefeuljebestuurder van PSG Welvaart, sê dis ’n verbruikersvriendelike begroting.

Die mark het ’n baie negatiewe begroting verwag omdat besef is dat Tito met sy rug teen die muur was.
Adrian Cloete van PSG Wealth

Hy meen dis ’n “verligtingslopie” wat in die aandele van banke en kleinhandelaars gesien is. “Die mark het ’n baie negatiewe begroting verwag omdat besef is dat Tito met sy rug teen die muur was.”

Cloete sê hy is baie verlig oor die begroting en dat daar nie groot belastingverhogings is nie. “Verbruikers het nie los geld vir belastingverhogings nie.”

Cloete sê egter die enigste manier om die land uit sy finansiële verknorsing te kry, is om die bruto binnelandse produk (BBP) te groei.

“Hy het niks gedoen wat die BBP skade sal doen nie. Dit is positief vir die ekonomie.

“Die ergste wat hy sou kon doen, is om belasting te verhoog, want dan krimp die ekonomie nog meer en dit beskadig BBP.”

Van den Berg het gesê banke se aandeelpryse is onder druk omdat kommer bestaan dat al hoe meer verbruikers gaan begin sukkel om hul lenings terug te betaal, die voertuigmark onder druk is en die huismark as gevolg van emigrasie nie in ’n goeie posisie is nie.

Hy meen die siklus met slegte skuld in die bankbedryf gaan waarskynlik nou nie so gou omswaai soos gevrees is nie en verbruikers sal nog vir langer hul skuld kan diens.

Van den Berg sê baie buitelandse beleggers wag dat Suid-Afrika sy fiskale situasie uitsorteer en om te sien of moeilike besluite geneem word. “Die begroting sal veroorsaak dat buitelandse beleggers wat gewag het, ’n reaksie begin sien.”

Kenosi Magosha, hoof van kliënte-oplossings van Sanlam Savings, sê: “Die minister het die regte strategiese rigting ingeslaan om huishoudings blaaskans te gee in belang daarvan om die ekonomie te groei deur huishoudelike besteding.”

Van die 40 grootste aandele in die mark, het die volgende maatskappye skerp hoër gesluit: Shoprite met 7%, Standard Bank met amper 5,6%, Absa 7,4%, Discovery 4%, The Foschini Group 4,6%, RMB Beherend 5%; Mr Price 4,9%, FirstRand 4,5%, Bidvest 7,8%, Nedbank 4,4%, Woolworths 3%, Spar 4%, Sanlam 2,4% en Old Mutual 2,6%.

In geheel is die indeks van alle aandele 0,2% en die top 40-indeks net effens hoër met 0,3% omdat ander aandele afgetrek is deur die vrese oor die koronavirus.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Banke  |  Jse  |  Bankbedryf  |  Begroting2020  |  Kleinhandelaars  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.