Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Banke sal 2de vlaag oorleef, huishoudings nié

Indien ’n tweede vlaag van die koronavirus-pandemie met gepaardgaande streng inperkings toeslaan, sal Suid-Afrikaanse banke waarskynlik nie vou nie. Swak skuld sal egter in so ’n mate toeneem dat die finansiële sektor hom in ’n krisis sal bevind.

lesetja kganyago
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Reuters

Huishoudings sal eenvoudig nie hul skuldlas verder kan dra nie.

Dit is die uitkoms van die Reserwebank se strestoets van die finansiële sektor wat Dinsdag in sy tweede verslag oor finansiële stabiliteit vir die jaar gepubliseer is.

Al het winsmarges sover met tussen 40% en 80% gedaal, bly die ses groot sistemies belangrike banke in Suid-Afrika winsgewend, sê die Reserwebank.

Selfs belangriker is dat hul kapitaaltoereikendheidsverhoudinge bo vlakke van selfs voor die pandemie is.

Dit beteken banke het oorgenoeg kapitaal om aan te hou lenings uitreik aan die ekonomie, wat in ’n “diep” resessie is en nou van skuld afhanklik is, luidens die verslag.

Die Reserwebank en die Omsigtigheidsowerheid het verskeie stappe gedoen om banke te ondersteun en veral hul kapitaalvlakke hoog te hou.

Een daarvan was om banke aan te raai om nie dividende of bonusse in 2020 uit te betaal nie.

Dié maatreël sal tot die einde van die krisis in plek bly, sê die Omsigtigheidsowerheid. Dit is veronderstel om te verseker dat banke nie van broodnodige kapitaal ontslae raak nie.

Nog ’n stap was om in April die kapitaalvereiste van banke met ’n persentasiepunt van 13,5% tot 12,5% te verlaag. Dié vereiste bepaal hoe baie van die bank se deposito’s in kontant gehou moet word ingeval daar ’n “stormloop na die banke” is – ’n krisis waarin duisende deposante hul geld wil onttrek.

Die verlaging help banke ook om meer van hul kapitaal vir lenings in te span om die ekonomie te stimuleer.

Kapitaalvlakke is van kernbelang vir die Reserwebank, want daaruit staan banke nuwe lenings aan die bedrukte ekonomie toe.

As dit sou opdroog, sal verbruikers ook nie meer toegang tot krediet kry nie.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, sê die “onmiddellike risiko” van ’n finansiële krisis waar banke se kapitaal of opraak om nuwe lenings uit te reik of hul kontant te min is om ’n stormloop van deposante af te weer, blyk nou onder beheer te wees – vir eers.

’n Meer tradisionele solvensiekrisis is egter tans aan die ontwikkel.

Skuldvlakke het in so ’n mate gegroei dat wanbetaling van skuld in die komende maande swaar druk op banke gaan plaas.

Sou daar ’n tweede vlaag van Covid-19 wees wat weer ’n strenger vlak van die staat van inperking noodsaak, sal die skuldvlakke waarskynlik op onvolhoubare vlakke te staan kom en selfs veerkragtige banke sal dit aan hul sakke begin voel.

Op grond van die resultate van die strestoets meen die Reserwebank en Kganyago dat banke ’n tweede vlaag kan oorleef, maar baie meer naelskraaps as in die eerste vlaag.

Huishoudings sal egter nie toegang hê tot genoeg krediet om hulself te onderhou nie en beslis ook nie hul skuld betyds kan afbetaal nie.

Dit veral omdat banke se betaalvakansies vir verbruikers nou tot ’n einde gekom het.

Banke het sowat R600 miljard se skuld, 15% van totale huishoudelike skuld in die ekonomie, sedert die begin van die krisis herstruktureer, sê Alex Smith van die Reserwebank.

Dit, tesame met betaalvakansies en ander maatreëls om die verbruikers te ondersteun, is nou uitgeput. Indien ’n tweede vlaag voorkom, is dit onwaarskynlik dat dit weer op groot skaal aangebied gaan word.

Meer oor:  Reserwebank  |  Koronavirus  |  Banke  |  Huishoudings  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.