Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
BBP: -51% of -16%? Dis wat jy moet weet

Tensy jy ’n ekonoom of aktuaris is, krap jy waarskynlik kop oor die twee syfers wat Dinsdag oor ekonomiese groei uitgereik is: Het die bruto binnelandse produk (BBP) in die tweede kwartaal met 51% of met 16,4% ingekrimp?

Die resessie is diep, maar hoe diep is dit nou rêrig? Grafika: iStock

Die antwoord is: Dit hang af hoe jy dit meet. Maar dit staan soos ’n paal bo water: Die tweede kwartaal was ’n ekonomiese ramp, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie.

Die een syfer is groot genoeg om mense te laat “selfmoord pleeg”, sê prof. Frederick Fourie, oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat, en die ander lyk nie so sleg in vergelyking met die vorige kwartale se groei nie, so wat gaan aan?

Statistieke Suid-Afrika (SSA) meet BBP-groei in geannualiseerde formaat op kwartaalgrondslag.

Dus, elke kwartaal vergelyk die SSA die BBP met die vorige kwartaal en dan omskryf hy die verskil as ’n koers.

Die SSA, en die meeste ander statistiekburo’s ter wêreld, doen dit om verskeie redes, maar die hoofrede is omdat dit sin maak vir die ding waaroor ons omgee: Hoeveel groter of kleiner gaan die BBP aan die einde van die jaar wees?

Dink so daaraan: Wanneer jy jou begroting vir wegneemkoffie verlaag, gee jy nie soseer om hoeveel minder jy nou aan koffie bestee as die vorige maand nie. Jy wil weet hoeveel jy altesame teen die einde van die jaar gaan spaar (en hoeveel meer geld jy gaan hê vir die vakansietyd).

Indien jy jou nuwe, laer begroting vir koffie dus volhou vir die res van die jaar, wil jy weet hoeveel geld jy gaan spaar. Dít is annualisering.

Met BBP doen die SSA dieselfde, want ons wil weet wat die verandering in BBP-groei se uitwerking gaan wees teen die einde van die jaar se jaargroei.

In een kwartaal het Suid-Afrika dus 13 jaar se groei verloor.

Soos Fourie verduidelik: Dis die koers waarteen die BBP verander het – die spoed van die verandering.

As dit volgehou sou word, sou daar teen die einde van die jaar ’n 51%-inkrimping in die BBP gewees het.

Maar weens die ongekende aard van die staat van inperking gedurende die tweede kwartaal wat bykans die ganse ekonomie tot stilstand gebring het, is daar ’n argument om nou nie die geannualiseerde syfer te gebruik nie, maar die ongeannualiseerde syfer – die -16,4%, wat net die groei van die eerste tot die tweede kwartaal weergee.

Die gevolgtrekking? Die ekonomie het nie in die tweede kwartaal meer as gehalveer nie.

Die BBP was in die tweede kwartaal R2 617 664 000 000. Die vorige kwartaal was die BBP R3 129 488 000 000 – ’n verskil van R512 miljard of 16,4%.

Die laaste keer wat die BBP só laag was, was in die tweede kwartaal van 2007 – 13 jaar gelede.

In een kwartaal het Suid-Afrika dus 13 jaar se groei verloor.

Indien die koers van die tweede kwartaal voortgesit sou word weens opnuut strenger inperkings, sou Suid-Afrika kon verwag dat sy ekonomie sou halveer teen die einde van die jaar.

Dís wat die -51% vir ons leer.

En indien dit sou geskied sou die ekonomie so groot wees soos dié van 1987 – 33 jaar se groei, weg.

Wat die SSA doen

Die SSA het tot dusver nog altyd net geannualiseerde weergawes van sy syfers uitgereik.

September vanjaar was die eerste keer tot dusver wat hy die ongeannualiseerde syfer ook bygesit het – juis omdat dit so ’n uitsonderlike kwartaal was.

Dit bemoeilik egter ’n vergelyking met die vorige kwartale, wat op ’n geannualiseerde grondslag gemeet is.

Die vorige drie kwartale was groei onderskeidelik -0,8%, -1,4% en -1,8%. Maar dié is geannualiseerde syfers.

Om appels met appels te vergelyk, is dit nodig dat ons die formaat aanhou toepas, anders sou dit lyk asof die ekonomie nie so erg gebuk gegaan het onder die staat van inperking nie.

Onthou dié verduideliking in Desember

Nes die -51% jou dalk na dronkverdriet gedryf het, gaan die derde kwartaal se syfers jou dalk na vonkelwyn laat gryp. Maar voordat jy te diep sluk, onthou dat dieselfde buitensporig hoë negatiewe syfer dalk ’n buitensporig hoë positiewe syfer kan wees wat nié die volle prentjie weergee nie.

Geannualiseerde kwartaalgroei vir die derde kwartaal gaan waarskynlik tussen 30% en 40% wees, voorspel ekonome nou. Selfs ongeannualiseerde groei kan na aan 20% kom.

Maar vir die volle 2020 word negatiewe groei steeds voorspel – iets in die omgewing van -10% blyk die konsensus te wees.

Ekonome wat aan Netwerk24, Rapport, Beeld, Die Burger en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, voorspel tussen -4,8% en -11%.

Meer oor:  Statistieke Suid-Afrika (Ssa)  |  Bbp  |  Resessie  |  Bbp2002  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.