Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
BBP: Fiskale afgrond skeur oop weens tam groei

’n Fiskale afgrond wink nadat skokkende BBP-groeisyfers Dinsdag uitgereik is, waarsku ekonome wat daarop wys dat die nasionale tesourie die traagheid van die ekonomie beduidend onderskat het.

BBP
Die kwartaalgroei van die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope drie jaar.

Ekonome waarsku dit krap die tesourie se begroting-somme heeltemal om.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Dinsdag ’n inkrimping van 3,2% van die bruto binnelandse produk (BBP) op kwartaalgrondslag vir die eerste kwartaal met sy jongste BBP-syfers bekendgestel.

Dié inkrimping was meer as twee keer groter as die konsensusraming van instansies wat Bloomberg gepeil het.

Nou is die kommer of dié beduidende hou teen Suid-Afrika se groeivooruitsigte kan lei tot ’n moontlike tegniese resessie as die BBP weer in die tweede kwartaal krimp.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, sê die kans vir ’n tegniese resessie is nog moontlik, maar onwaarskynlik.

“My standpunt was nog altyd om te vergeet van tegniese resessies,” sê Ackerman. “Dis nie die kern van die saak nie.

As ons nie eens die groeiteikens kan haal wat as fondasie vir ons konserwatiewe begroting dien nie, gaan ons probleme net erger raak.
Maarten Ackerman van Citadel

“As ons nie eens die groeiteikens kan haal wat as fondasie vir ons konserwatiewe begroting dien nie, gaan ons probleme net erger raak.”

Hy verwag die tweede kwartaal se groei sal waarskynlik net bo nul wees, want gegewe die “beduidende” laagtepunt van die eerste kwartaal hoef die ekonomie nie veel beter te doen om positiewe groei aan te teken nie.

“Maar solank die selfs positiewe groei só klein is in vergelyking met die hoër bevolkingsgroeikoers van 1,2%, word ons mense net armer en sal werkloosheid aanhou toeneem.

Maarten Ackerman, ekonoom van Citadel.

“Dít is die eintlike resessie.”

Ackerman voorspel die ekonomie sal in 2019 net met 0,5% groei, terwyl die tesourie met Februarie se begroting 1,5% verwag het.

Prof. Raymond Parsons, van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê die regering het die ekonomie se traagheid erg onderskat. Dit sal belastinginkomste en Suid-Afrika se haglike skuldposisie in ernstige gedrang bring, veral by kredietgradeerders.

“As Suid-Afrika verdere kredietafgraderings wil vermy, sal die mediumtermynbegrotingsraamwerkr in Oktober dringend ’n hersiene fiskale plan moet bekendstel,” sê Parsons.

Bykans elke bedryfsektor het ingekrimp in die eerste kwartaal, en die SSA wys al het groeiende staatsdienste grootliks bygedra om die algehele inkrimping te versag, was dié net tydelik en aan die verkiesing verwant.

Die enigste drie groeiende bedrywe wat dan nog eintlik die ekonomie gedra het, was die staatsdiens (1,2%), persoonlike dienste (+1,1%) en finansiële en sakedienste (+1,1%).

Daar is min bewyse dat ekonomiese groei enigsins in die nabye toekoms sal verbeter en stabiliseer.
Reza Hendrickse van PPS

Die DA se woordvoerder, Solly Malatsi, sê die “verstommende inkrimping” dui op die feit dat die ekonomie se vermoë om werk te skep, beduidend onderdruk is.

Reza Hendrickse, portefeuljebestuurder by PPS Investments, verduidelik verbruikers se swak koopkrag het ’n sneeubaleffek op die ekonomie wat tesame met droewige toestande onder vervaardigers tot swak prestasie sal lei.

“Daar is min bewyse dat ekonomiese groei enigsins in die nabye toekoms sal verbeter en stabiliseer,” sê Hendrickse.

“Groeiverwagtinge vir 2019 het begin by meer as 1%, maar is toenemend afwaarts hersien, met die potensiaal dat dit net nog laer sal daal.

“Met die eerste kwartaal se groei wat op ’n jaargrondslag op 0% staan, is dit moeilik om selfs 1% groei vir die jaar te verwag.”

FNB het sy groeiverwagting vir die jaar verlaag tot 0,7%.

“Ons sal wel nie verras wees as die uiteinde nog laer is as selfs dít nie,” sê Mamello Matikinca, hoofekonoom by FNB.

Matikinca sê die verbasende lae groei vergeleke met die Reserwebank se skatting, tesame met lae inflasionêre druk, kan lei tot ’n verlaging van die repo-koers met 25 basispunte by die volgende monetêrebeleidskomiteevergadering.

“Die teleurstellende BBP-prestasie herbevestig ons siening dat monetêre beleid verslap moet word.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Bbp1901  |  Resessie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.