Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
BBP gaan met meer as 8% krimp, meen ekonome
Ekonome voorspel dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar met meer as 8% gaan inkrimp. Foto: iSTOCK

Suid-Afrika se ekonomie gaan vanjaar met 8,11% krimp.

Dit is die verwagting van die 38 ekonome wat vanjaar deelneem aan die Ekonoom van die Jaar-wedstryd wat Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad aanbied.

Boonop is die standaardafwyking op die konsensusvoorspelling vir Augustus net 1,64, wat wys dat die ekonome oor die omvang van die ekonomiese inkrimping saamstem.

Die mees optimistiese ekonoom is Fanie Joubert van Unisa, wat ’n inkrimping van 3,5% verwag.

Die mees pessimistiese ekonoom is prof. Johan Willemse van Agrimark Consultants, wat ’n inkrimping van 11% voorspel.

Die ekonome se konsensusvoorspelling is nou vir ’n groter inkrimping as wat die tesourie en die Reserwebank verwag.

Tito Mboweni, minister van finansies, het met sy aanpassingsbegroting op 24 Junie gesê die tesourie verwag dat die bruto binnelandse produk (BBP) vanjaar met 7,2% sal inkrimp.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het met die jongste rentekoersbesluit op 23 Julie gesê dat die bank ’n inkrimping van 7,3% verwag.

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investors Service verwag ’n inkrimping van 6,5% en die Interna­sionale Monetêre Fonds verwag 5,8%.

In Maart, voordat die staat van inperking afgekondig is, het die ekonome nog verwag dat die ekonomie vanjaar met 0,25% sou groei.

Nóg ’n syfer wat die ekonome aangepas het, is die verwagte tekort op die lopende rekening.

In Julie het hulle ’n tekort van R79,60 miljard verwag, wat nou tot ’n tekort van R68,74 miljard aangepas is.

Die standaardafwyking hier is egter 57,37, wat wys dat ekonome nie almal saamstem met dié syfer nie.

Die Reserwebank het op 2 Julie bekend gemaak dat die lopende rekening van R68,1 miljard in die eerste drie maande van 2020 met R137,8 miljard tot ’n oorskot van R69,7 miljard gestyg het.

Hoewel ekonome verwag dat die ekonomie vanjaar onder groot druk gaan wees, verwag hulle wel nou dat dit in 2021 met 3,23% sal groei. Die standaardafwyking is 1,82, wat groot eenstemmigheid oor dié syfer wys.

Dit is beduidend meer as die 1,17% wat hulle in Februarie voorspel het, maar kom nou van ’n baie laer basis af weens die verwagte inkrimping vanjaar.

Met internasionale hulpbronpryse wat die afgelope weke baie verander het, het ekonome veral hul verwagtinge vir die goud- en die platinumprys aangepas.

Die goudprys het op 27 Julie die algehele rekordvlak van $1 917,90 per fynons, wat in 2011 behaal is, oorskry. Die prys het sedertdien verder gestyg en op 2 Augustus ’n nuwe algehele hoogtepunt van $1 983,66 per fynons bereik.

Internasionale ontleders voorspel dat die goudprys teen die einde van die jaar hoër as $2 000 per fynons kan wees.

Voorspellings

Ander aanpassings aan die ekonome se konsensusvoorspellings:

  • Rand-euro-wisselkoers: van R18,89 tot R18,98 (standaardafwyking 0,96).
  • Rand-dollar-wisselkoers: van R17,16 tot R17,04 (0,85).
  • Goudprys: van $1 675,23/fynons tot $1 752,78/fynons (131,10).
  • Platinumprys: van $822,35/ons tot $847,65/ons (46,85).
  • Olieprys: van $43,08/vat tot $44,92/vat (4,66).
ekonoom

    Meer oor:  Pandemie  |  Ekonoom Van Die Jaar
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.