Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
BBP: Mynbou, finansies help met stewige groei

Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) het in die eerste kwartaal van 2021 beter as verwag gevaar.

Die BBP is 1,1% meer as in die vierde kwartaal van 2020. As die koers geannualiseer word – dus indien groei vier kwartale teen dieselfde pas voortduur – sal die ekonomie vanjaar teen 4,6% groei. Dis effens meer as die 4,2% wat die Reserwebank voorspel.

Die onaangepaste reële BBP is egter steeds 3,2% kleiner as in die eerste kwartaal van 2020, dus voordat die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings die ekonomie lamgelê het.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die syfer vir die vierde kwartaal van 2020 aangepas tot 5,8% (teenoor 6,3% wat vroeër vanjaar aangegee is).

k
Landbou het in die eerste kwartaal ingekrimp nadat dit die enigste sektor was wat in 2020 gegroei het. Foto: Unsplash

Die grootste positiewe bydrae tot groei, van 1,5 persentasiepunte, is gelewer deur finansiële en sakedienste, met groei van 7,4%.

Mynbou het teen 18,1% die vinnigste gegroei en 1,2 persentasiepunte tot die algehele groei bygedra.

Handel, wat spyseniering en verblyf insluit, het teen 6,2% gegroei – verblydende tekens van herstel selfs ondanks voortslepende inperkings vir die tweede vlaag infeksies in Januarie en Februarie.

Vervaardiging se groei was slegs 1,6%, aangedryf deur ’n groot bydrae deur vervaardigers van motors en onderdele.

Net twee sektore het in die eerste kwartaal ingekrimp.

Landbou het in die eerste kwartaal met 3,2% ingekrimp nadat dit die enigste sektor was wat in 2020 gegroei het, teen 13,1%.

Nutsdienste het met 2,6% ingekrimp.

Al die bedrywe wat SSA aan die produksiekant van die ekonomie meet, het as volg gegroei:

  • Mynbou: 18,1%
  • Finansiële en sakedienste: 7,4%
  • Handel, spyseniering en verblyf: 6,2%
  • Vervoer en kommunikasie: 4,8%
  • Persoonlike dienste: 1,7%
  • Vervaardiging: 1,6%
  • Staatsdiens: 0,9%
  • Konstruksie: 0,8%
  • Nutsdienste: -2,6%
  • Landbou: -3,2%
k
k
k
k
k

Besteding op die BBP

Besteding op die BBP, die meting van die vraagkant van die ekonomie, het teen 4,5% op ’n geannualiseerde kwartaalgrondslag gegroei. Dis teenoor 6,1% in die vierde kwartaal van 2020 (afwaarts hersien van 6,5%).

Kwartaalgroei (ongeannualiseerd) was 1,1% en teenoor ’n jaar gelede is groei -2,6%.

Huishoudings se verbruiksbesteding het met 4,7% gegroei en die grootste bydrae, van 3 persentasiepunte, gelewer.

Vastekapitaalvorming het met 2,6% gedaal – ’n baie kommerwekkende syfer omdat dit wys ondernemings belê nog nie op groot skaal in masjinerie of fabrieke wat hoër produksie kan aandryf nie.

Die onderafdelings wat hier gemeet word, het as volg gevaar:

  • Invoer: 26,5%
  • Huishoudelike verbruiksbesteding: 4,7%
  • Staat se besteding: 1%
  • Uitvoer: -0,9%
  • Vastekapitaalvorming: -2,6%
Oor die syfers

SSA gee groei aan vergeleke met die eerste kwartaal van 2020 (-3,2%), vergeleke met die vierde kwartaal van 2020 (1,1%), en ook nog op die betwiste grondslag van geannualiseerde, seisoensaangepaste kwartaalgroei (4,6%).

Die geannualiseerde deel daarvan beteken dis wat die koers sou wees as dit oor vier kwartale volgehou word. Verlede jaar se skerp inkrimping in die tweede kwartaal, toe Suid-Afrika op vlak 5 en 4 van die inperking vir die pandemie was, het gewys hoe annualisering die syfers kan skeeftrek.

Dit het gelei tot ’n syfer van -51,7% vir die tweede kwartaal van 2020 en toe van 67,3% vir die derde kwartaal. Ongeannualiseerd was die groei van die een kwartaal na die volgende onderskeidelik -16,6% en 13,7%.

SSA het toe aangekondig hy gaan in 2021 slegs die ongeannualiseerde kwartaalgroei aangee, maar het Maandag gesê die proses is vertraag tot die volgende stel BBP-syfers, wat in Augustus uitgereik word.

Dan sal die basisjaar vir berekeninge ook van 2010 na 2015 verander word.

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Bbp2101  |  Bbp  |  Statistieke Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.