Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
BBP: Syfers dalk slegte nuus vir rand, werkskepping

As die ekonomie die drafstappie kan volhou waarteen hy 2021 begin het, kan die land dalk teen die einde van die jaar wees waar hy begin 2020, vóór die Covid-19-pandemie, was.

Die rand verhandel dalk nou op die sterkste vlak wat hy kan.

Dís volgens Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, die positiewe kant van die groeisyfer van 4,6% vir die eerste kwartaal wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdag uitgereik het.

Vroeër vanjaar het ekonome voorspel dat die ekonomie eers weer oor vier of vyf jaar die vlak sal haal van vóór die pandemie. Die groei is baie beter as die 3,2% wat vooraf verwag is.

Ackerman sê ekonomiese groei moet sterk bly nie net om tot voor die pandemievlakke te kom nie, maar om te vergoed vir die trae groei van verskeie jare. In 2020 het die BBP met 7% geval, en die voorafgaande twee jaar was groei onderskeidelik 0,8% in 2018 en 0,2% in 2019.

Die ekonomie het in 2013 laas teen 2,5% gegroei. Dit word gesien as die minimum wat nodig is om werk te skep vir die land se groeiende aantal werklose mense, wat nou al by 11,4 miljoen draai. Die land se uitgebreide werkloosheidskoers is 43,2%.

Verskillende sektore se prestasie

Ackerman sê dis goeie nuus dat mynbou buitengewoon goed gevaar het, met groei van 18,1%.

“Mynbou is ’n integrale sektor vir werkskepping en lewer ’n groot bydrae tot belastinginkomste.”

Hy is nie te bekommerd oor die inkrimping van 3,2% in landbou nie; die sektor se jaargroei is steeds 7,5%. Landbou, met groei van 13,1%, was die “rockster van 2020”, die enigste sektor wat in dié jaar gegroei het.

Konstruksie (0,8%) en vervaardiging (1,6%) het albei vir die derde opeenvolgende kwartaal gegroei, hoewel net met baie klein persentasies. Dit volg op onderskeidelik agt en vier kwartale van negatiewe groei vir dié bedrywe.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê die sterk groei van die finansiële sektor (7,4%) is goed en wel, maar die meeste van Suid-Afrika se werklose mense is ongeskoold of halfgeskoold en gaan nie noodwendig in dié sektor werk kry nie.

Volgens SSA self is handel (wat toerisme insluit), landbou en konstruksie die enigste drie bedrywe wat ’n groter bydrae tot werkskepping lewer as hul bydrae tot die BBP.

Huishoudings vaar beter

Huishoudings se besteding het met 4,7% gegroei, wat vir Ackerman daarop dui dat huishoudings stadig maar seker weer op die been kom ná die finansiële gevolge van die pandemie.

“Die massiewe toename van 20% in die besteding aan duursame goedere toon dat verbruikers meer vertroue het in die toekoms, aangesien jy nie duursame goedere sal koop as jy bekommerd is oor die rentekoers of werksekerheid nie.”

Kommer oor uitvoer, investering

Twee aspekte van die BBP-syfers wat verskeie ekonome bekommer, is dat uitvoer met 0,9% gedaal het en dat vastekapitaalvorming met 2,6% gedaal het.

Ackerman sê as invoer aanhou styg (26,5% vir die kwartaal) en uitvoer aanhou daal, gaan Suid-Afrika binnekort weer ’n handelstekort beleef. Hy sê die syfers impliseer dat die rand nou op sy sterkste vlakke is en dalk weer gaan begin verswak. Die rand het die afgelope week selfs R13,44 teenoor die dollar gehaal.

Lara Hodes, ekonoom van Investec, sê Suid-Afrika moet vinnig die oponthoude by sy hawens oplos om uitvoer op dreef te bring.

Die daling in vastekapitaalvorming – dus besteding aan onder meer geboue en masjinerie – dui vir Ackerman op ’n gebrek aan sakevertroue. Kapitaalbesteding is broodnodig vir ’n sterker ekonomie.

“Dit beklemtoon die noodsaaklikheid dat die regering meer moet doen ten opsigte van deurvoer van planne en hervorming om ’n omgewing te skep waar sake meer vertroue het en gelukkiger is om te belê.”

Du Buisson sê die daling in kapitaalvorming wys ’n “duidelike afkeer in belegging in Suid-Afrika”.

Hy gee Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, die skuld en sê hy reguleer die ekonomie “dood”. Indiensneming word byvoorbeeld bemoeilik deur regulasies oor swart ekonomiese bemagtiging en die minimum loon.

“Onnodige en belemmerende regulasies moet summier geskrap word. Deur minder te reguleer kan almal die geleentheid kry om deel te word van die opbou van Suid-Afrika in plaas daarvan om tans net saam in die verval te deel.”

Du Boisson sê die tyd om infrastruktuurprojekte aan te pak, “sou ook nou ryp gewees het indien die staat se jammerlike onbevoegdheid en spandabelrige gewoontes nie in die pad daarvan gestaan het nie.”

k
k
k
k
k

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Rand  |  Bbp2101  |  Bbp  |  Werkskepping  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.