Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
BBP-syfers uitgereik: Dís wat jy kan verwag

Goeie nuus word Dinsdag verwag wanneer Statistieke Suid-Afrika (SSA) die ekonomiese groeikoers vir die derde kwartaal bekend maak.

Maar – soos wat mense wie se salarisse besnoei is of wat afgelê is aan hul bas kan voel – dis syfers wat met ’n knippie sout geneem moet word.

Die syfers word om 11:30 uitgereik. Hou Netwerk24 vir die dekking daarvan en reaksie daarop dop.

Die heropening van die ekonomie in die derde kwartaal - vergeleke met die tweede kwartaal se streng inperkings - gaan die BBP-syfers skeeftrek. Foto: AP

Die bruto binnelandse produk (BBP) gaan na verwagting skerp hoër wees op ’n geannualiseerde en seisoensaangepaste kwartaalgrondslag, wat dikwels in Engels as qqsaa afgekort word.

Jeff Schultz, ekonoom van BNP Paribas, voorspel selfs ’n syfer van 65% en Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, voorspel 48,6%.

Geannualiseerde, seisoensaangepaste kwartaalgroei is die statisties aanvaarde manier waarop ekonomiese groei wêreldwyd gemeet word. Dis gewoonlik ’n goeie aanduiding van die groeikoers in die ekonomie – dit wys met hoeveel die ekonomie sal groei of inkrimp indien dit vier kwartale dieselfde pas volhou.

Die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings van ekonomiese bedrywighede trek egter vanjaar die syfers skeef. Die feit dat net noodsaaklike bedrywighede in April toelaatbaar was en bedrywe daarna stadig en met baie beperkings heropen het, het ’n skerp inkrimping in die tweede kwartaal meegebring – die qqsaa was -51%.

Selfs ongeannualiseerd was kwartaalgroei in die tweede kwartaal weens die inperkings skeefgetrek.

SSA het vir die tweede kwartaal die eerste keer nóg die ongeannualiseerde kwartaalgroei ook bekend gemaak. Dit was -16,4%. Dié syfer gaan na verwagting vandag in die omgewing van 20% wees.

Omdat die ekonomie op ’n kwartaalgrondslag daarteen gemeet sal word, sal die skerp positiewe groei wat vanoggend verwag word, bloot die heropening van die ekonomie weerspieël en nié die pas van ekonomiese groei vir die volgende kwartale aandui nie.

Die veel belangriker syfer is met hoeveel die ekonomie van jaar tot jaar gegroei het. Dit was in die tweede kwartaal -17,1%. Bishop verwag dat dit vandag -8,4% gaan wees.

Vir die volle 2020 voorspel ekonome, wat aan die Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, tussen -6,3% en -10%. Die mediaanverwagting is -8,34%. Die Reserwebank het einde November -8% voorspel.

Die Ekonoom van die Jaar-wedstryd word deur Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport aangebied.

bbp2002
Die prentjie in die tweede kwartaal was nie mooi nie.
Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Bbp  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Bbp2003
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.