Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Begrawe nou die plan met Reserwebank’
Die Suid-Afrikaanse Reserwebankgebou in Pretoria. Foto: Getty Images

Die plan om die Reserwebank te nasionaliseer, moenie uitgestel word nie – dit moet “vir ewig begrawe” word, sê die DA.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, het dit Woensdag verwelkom dat Paul Mashatile gesê het die regering gaan vir eers nie voort met stappe om die sentrale bank te nasionaliseer nie.

Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, het in ’n onderhoud met Bloomberg gesê die regering moet nou eers daarop fokus om die ekonomie op koers te kry ná die uitwerking van die Covid-19-pandemie. Die land het nie die “enorme bronne” om private aandeelhouers uit te koop nie en kan nie nou regverdig dat geld daaraan bestee word nie, het Mashatile gesê.

Die ANC het die nasionalisering van die Reserwebank in 2017 tot partybeleid verklaar.

Hoewel private aandeelhouers baie beperkte mag het – soos om te stem vir die direkteure van die Reserwebank se direksie – het hulle geen insette oor die bedryf of besluite van die Reserwebank self nie. Nietemin word nasionalisering beskou as ’n voorspel tot die verandering van die mandaat van die Reserwebank.

Omstrede ANC-politici soos Ace Magashule en selfs David Masondo, adjunkminister van finansies, het die Reserwebank verlede jaar gekritiseer omdat hy nie rentekoerse verlaag nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het al herhaaldelik gesê die onafhanklikheid van die Reserwebank is ononderhandelbaar.

Terwyl die ANC-regering grootliks niks aan die vraagstuk gedoen het nie, het die EFF sy privatelede-wetsontwerp oor die nasionalisering van die Reserwebank onlangs weer aan die parlement se finansiële komitees voorgelê. Die wetsontwerp is al in Augustus 2018 opgestel, maar het ’n stille dood gesterf totdat Floyd Shivambu, adjunkleier van die opposisieparty, dit nou op die voorgrond geplaas het.

Enige vooruitsig vir ekonomiese herstel hang af van ’n beleidsomgewing gefokus op groei.

Adv. Noluthando Mpikashe van die parlement se regsdienste het egter aan die komitees gesê daar is ’n grondwetlike probleem met die wetsontwerp, naamlik dat dit voorsiening maak vir die onteiening van aandeelhouers sonder vergoeding. Art. 25 van die Grondwet sal eers gewysig moet word.

Die proses om art. 25 te wysig, is egter reeds aan die gang, spesifiek om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak.

Hill-Lewis – wat self ’n aandeelhouer van die Reserwebank is – sê voordat ’n “ferm, duidelike streep” nie deur die nasionalisering van die Reserwebank getrek word nie, sal dit ’n politieke speelbal tussen die ANC se strydende faksies bly.

“Dit was nooit ’n rasionele beleidstandpunt van die ANC nie. Dit was ’n onverantwoordelike beleid wat net daarin geslaag het om beleggers te vervreem en persepsies oor Suid-Afrika se beleidsomgewing laat versleg het.

“Enige vooruitsig vir ekonomiese herstel hang af van ’n beleidsomgewing gefokus op groei. Dit vereis dat die ANC beleid verwerp wat teen groei is en vertroue ondermyn, soos onteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van die Reserwebank.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Maatskappye  |  Nasionalisering  |  Bankbedryf  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.