Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Beitbrug: Humeure vat vlam by grens

Woede kook oor by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe waar vragmotorbestuurders sê hulle word gedwing om omkoopgeld van tot R1 000 te betaal as hulle die grens wil oorsteek.

’n Argieffoto van vragmotors langs die N1 voor die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. Foto: Retha Fourie

Die tou by die grenspos vorder só stadig dat vragmotors partykeer tot vier dae staan en wag om deurgelaat te word.

“Jy kan nommer tien in die ry wees, maar as jy of jou baas nie die omkoopgeld betaal nie, gaan jy nêrens nie,” het ’n ingeligte in die vragmotorbedryf wat gevra het om anoniem te bly, aan Rapport gesê.

Die aanlyn publikasie Freight News het die afgelope week berig dat vragmotorbestuurders by die Beitbrug-grenspos in opstand kom teen korrupte wetstoepassers wat glo sekere vragmotors begelei tot voor in die tou. Die bewering is dat hulle voorkeurbehandeling kry omdat hulle omkoopgeld betaal.

Van die bestuurders wat keelvol is om in die tou te wag, het die afgelope week met hul vragmotors uit die tou gery en toegang tot die grenspos versper, het ooggetuies aan Freight News gesê.

Die Padvragvereniging (RFA), wat padvervoermaatskappye verteenwoordig, sowel as die Cross-Border Road Transport Agency (CBRTA) het bevestig dat hulle kennis dra van voorvalle van omkopery.

Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die Padvragvereniging, het aan Rapport gesê die liggaam ontvang soms tot uurliks klagtes van voorvalle waar vragmotorbestuurders aangesê is om omkoopgeld te betaal as hulle vorentoe wil beweeg in die tou.

“Die gemiddelde wagtydperk by die grenspos is 24 uur, maar vragmotorbestuurders staan soms vir tot vier dae lank in die tou voordat hulle deur die grenspos beweeg,” sê Kelly.

Die Beitbrug-grenspos is berug vir ure lange oponthoude, maar dis op die oomblik nog erger omdat reisigers siftingstoetse vir Covid-19 moet deurgaan en albei lande nou aandklokreëls het. In Zimbabwe geld dié reël van skemer tot skemer.

“Almal weet daar is korrupsie en omkoopgeld, veral onder verkeerswetstoepassers in Suid-Afrika,” sê Kelly. “Ons meld al hierdie voorvalle aan mét voldoende bewyse. Afgesien van beamptes, is daar ook mense wat hulle as wetstoepassers voordoen by die grenspos doenig,” sê hy.

Mmenyane Seoposengwe, woordvoerder van die CBRTA, het aan Rapport gesê die organisasie is bewus van die probleme.

Kelly sê voorvalle van algemene omkopery het aan die begin van die inperking aansienlik afgeneem omdat daar minder vragmotors op die paaie was, maar namate sake na normaal terugkeer, is die “gewone” voorvalle van korrupsie en omkopery weer aan die orde van die dag.

Rapport se bron sê die korrupsie onder Suid-Afrikaanse verkeerswetstoepassers is nou só erg dat buitelandse vragmotorbestuurders eerder bereid is om na “oorloggeteisterde” plekke soos die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) toe te ry as na Suid-Afrika. Die omkopery is nie net beperk tot grensposte nie, maar ook by weegbrûe, waar vragmotorbestuurders of die maatskappye vir wie hulle werk beweer hulle moet omkoopgeld betaal om te verhoed dat hul vragmotors geskut word.

“Ons weet voor ons heilige siel dat ons vragmotors die regte lading het, maar die beamptes trek ons af en vra soms tot R5 000 voor ons kan deurgaan. As jy dit nie doen nie, kan jou vragmotor vir tot drie dae staan terwyl die kliënt wag vir sy vrag.”

Volgens die bron help dit nie eens om die voorvalle aan te meld nie, want daar kom niks daarvan nie.

Kelly sê hoewel daar nie in hierdie stadium betroubare syfers is wat wys hoeveel geld die padvervoerbedryf verloor aan korrupsie en omkoopgeld nie, het die organisasie onlangs ’n hofstryd gewen waar meer as R350 miljoen aan vervoermaatskappye terugbetaal is wat onwettig belas is.

Meer oor:  Beitbrug  |  Zimbabwe  |  Vragmotorbestuurder  |  Grensposte  |  Invoer  |  Omkoopgeld  |  Uitvoer  |  Handel  |  Bedrog  |  Vragmotors  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.