Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Belangrike waghond kry ná 3 j. baas

’n Nuwe hoof is uiteindelik aangestel vir die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) nadat drie jaar met die aanstelling gesloer is.

Die nuwe hoof van die FSCA het onder meer vir die Reserwebank gewerk.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Unathi Kamlana in die pos aangestel, het die tesourie in ’n verklaring gesê.

Die FSCA het in April 2018 sy ontstaan gehad ingevolge nuwe wetgewing en het die Raad op Finansiële Dienste (RFD) vervang. Die FSCA is vir banke asook nie-batebestuursfirmas en finansiële adviseurs se gedrag teenoor verbruikers verantwoordelik.

Kamlana se aanstelling sal vir vyf jaar geld van die dag af wat hy begin werk, wat na verwagting op 1 Junie sal wees.

Astrid Ludin is as die adjunkkommissaris aangestel.

Volgens die tesourie maak die aanstelling van Kamlana en Ludin die einde aan ’n oorgangsproses van drie jaar om ’n permanente topbestuur vir die FSCA te kry.

Die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor maak vir die aanstelling van ’n kommissaris en tot vier adjunkkommissarisse voorsiening.

Die proses om twee of drie addisionele adjunk-kommissarisse aan te stel is in ’n gevorderde stadium, luidens die tesourie.

Meer oor Unathi Kamlana

Kamlana is die hoof van die departement van beleid, statistieke, regs- en bedryfsondersteuning van die Omsigtigheidsowerheid van die Reserwebank. Dié owerheid het saam met die FSCA ontstaan en hou toesig oor die kapitaalvereistes en finansiële welstand van banke en groot versekeraars.

Kamlana het sy loopbaan in die bankbedryf begin en het verskeie posisies by Standard Bank beklee.

Hy het daarna na die staat geskuif en amper ses jaar by die nasionale tesourie gewerk in poste wat met belastingbeleid en later met die beleid oor die finansiële sektor te doen het.

Hy het hom in 2011 by die Reserwebank aangesluit en was aan die spits van die regulatoriese verandering wat tot die huidige tweeledige model vir die finansiële sektor gelei het. Hy was ook van 2016 tot 2018 die adjunkregistrateur van banke.

Meer oor Astrid Ludin

Ludin is tans hoof van finansiële markte en digitale innovasie by DNA Economics.

Astrid Ludin

Sy is beter bekend as ’n voormalige adjunkdirekteur-generaal in die departement van handel, nywerheid en mededinging en die kommissaris van die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC) van Mei 2011 tot April 2015.

Minder geheime

Meer inligting is oor die hele proses van aanstellings gedeel met die publiek in ’n verslag wat saam met die aankondiging uitgereik is.

Dit volg op ’n hofsaak verlede jaar deur die drukgroepe Open Secrets en Unpaid Benefits Campaign teen die minister van finansies.

LEES OOK: Geheimhouding met FSCA-poste ontken in hofgeding

Die aansoek is in November afgewys, maar ’n tweede deel van die hofsaak duur nog voort.

Die tesourie sê die proses het weens die onbuigsaamheid van die oorspronklike regulasies langer geneem as wat aanvanklik verwag is. ’n Wysiging in Augustus 2020 het voorsiening gemaak vir die proses om hervat en voltooi te word.

Die regulasies maak voorsiening vir ’n deursigtige proses om kandidate te kies. Onderhoude is gevoer deur ’n kortlys-komitee wat ingevolge die regulasies deur die minister aangestel is.

Aan die einde van die konsultasieproses het die komitee op 8 Maart ’n verslag aan die minister verskaf waarin Kamlana en Ludin se aanstelling aanbeveel is. Die minister kon die kandidate vir kommissaris en adjunkkommissaris kies.

Die minister het in oorlegpleging met die adjunkminister van finansies (David Masondo) en die direkteur-generaal (Dondo Mogajane) besluit.

Die komitee het 90 aansoeke ontvang en vyf is vir ’n onderhoud uitgesoek. Die onderhoude was op 21 November.

’n Openbare konsultasieproses oor hul geskiktheid as kandidate is van 19 tot 26 Januarie toegelaat.

Ingevolge die regulasies sal die minister die oorgangsbestuurskomitee ontbind sodra die kommissaris en minstens twee adjunkkommissarisse hul werk begin.

Abel Sithole en Dube Tshidi, wat lede was van die oorgangskomitee, is reeds weg by die FSCA.

Sithole was van begin April 2018 tot 31 Julie 2020 kommissaris en Tshidi van 6 Augustus tot 5 November.

Olano Makhubela het sedert 6 November tot einde Maart as kommissaris gedien en Katherine Gibson van 1 April totdat Kamlana begin.

Jurgen Boyd, wat lank by die RFD gewerk het en lid van die komitee was, het einde Maart afgetree en Marius du Toit einde Desember.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.