Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Belangrikste week van die jaar’ vir rand

Asof Maandae nie gewoonlik blou genoeg is nie, beskou ontleders die week wat vandag begin as “die wêreldekonomie se belangrikste week van die jaar”.

Die belangrikste aankondiging dié week vir die rand is die Federale Reserweraad se besluit oor Amerikaanse rentekoerse Woensdag.

Na gelang van die rigting waarin die wind waai, gaan dit aandele, die rand en die olieprys skerp laat styg, of laat daal.

Die rand het Maandagoggend net-net onder R13 per dollar gedraai, maar groot wisselvalligheid word in die aanloop tot die belangrike wêreldgebeure verwag.

Dít nadat die rand verlede week die ontluikende geldeenheid was wat die vrotste gevaar het en met 3,8% teenoor die dollar verswak het. Dit het drie dae agtereenvolgens swakker as R13 per dollar gesluit.

Onder die belangrike gebeure vandeesweek is:

Dinsdag: Pres. Donald Trump vergader met Kim Jong-oen

Kim Jong-oen, leier van Noord-Korea.

Singapoer sal dié week dalk ’n rukkie as die “hoofstad van die wêreld” beskou word gegewe die geskiedkundige vergadering Dinsdag tussen Amerika se president en die leier van Noord-Korea.

Jameel Ahmad van die valutahandelaar FXTM sê hoewel vergaderings tussen wêreldleiers nie gewoonlik die markte oorheers nie, is dié spitsberaad anders.

As die beraad positiewe uitsprake oplewer – soos as Noord-Korea hom tot kernontwapening verbind – sal wêreldbeleggers se aptyt vir risiko, wat op die oomblik maar laag is, weer styg. Volgens Ahmad kan dit die rand laat versterk omdat dit baie staatmaak op risikoaptyt.

Dit sal egter slegte nuus vir die goudprys wees omdat dit steeds beskou word as die plek waar beleggers ’n veilige hawe teen geopolitieke storms soek, sê Ahmad. Groter sekerheid oor Noord-Korea sal dus die goudprys laat daal.

Woensdag: Fed besluit oor rentekoers

Jerome Powell, voorsitter van die Fed.

Jerome Powell, voorsitter van die Federale Reserweraad, kondig Woensdag omstreeks 20:30 Suid-Afrikaanse tyd aan of hy Amerika se rentekoers die tweede keer vanjaar verhoog.

Volgens Isaah Mhlanga van RMB verwag hulle dat die Fed sy federale fondskoers met 0,25 van ’n persentasiepunt sal verhoog en boonop sal aandui dat nog vier rentekoersverhogings vanjaar verwag word, pleks van die drie wat in Maart voorspel is.

Hoër rentekoerse in die VSA sal die rand laat verswak omdat meer wêreldbeleggers hulle dalk aan ontluikende markte sal onttrek ten gunste van veiliger Amerikaanse staatseffekte, waarvan die opbrengskoers sal styg.

Dié risiko is een van die redes waarom die Reserwebank waarskynlik nie vanjaar die rentekoers weer sal verlaag nie, en dalk vroeër eerder as later weer sal verhoog.

Donderdag: Europese Bank en olieprys op die agenda

Die Europese Sentrale Bank (ESB) besluit Donderdag of hy sy effekte-koopprogram staak. Sowat ’n derde van die ontleders wat Bloomberg gepeil het, verwag dat dr. Mario Draghi, president van die ESB, ’n datum sal aankondig waarop hy aankope sal staak. Die meerderheid ontleders, 46%, verwag egter dat Draghi dit eers in Julie sal doen.

As die ESB aankondig hy gaan sy effekte-aankoopprogram staak, sal die rand verswak, sê Mhlanga.

Suid-Afrikaanse motoriste trek swaar ná drie groot maandelikse styging in brandstofpryse. Foto: Matthew Lloyd, Bloomberg

Pres. Wladimir Poetin van Rusland vergader ook Donderdag met Mohammed bin Salman, kroonprins van Saoedi-Arabië, by die opening van die Wêreldbekersokkertoernooi. Dit kan die wêreldoliemark beïnvloed, gegewe dat die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande volgende week in Wene, Oostenryk, besluit of hy produksieperke verhoog.

RMB het sy verwagting vir die olieprys verhoog. Die bank verwag nou gemiddeld $72 per vat vir 2018 ($67 voorheen) en $78 per vat vir 2019 ($73 voorheen).

Vrydag: Bank van Japan besluit oor rentekoers

Daar word alom verwag dat die Bank van Japan sal aanhou staatseffekte koop in ’n poging om inflasie en ekonomiese groei aan te wakker. As dié sentrale bank egter besluit om minder effekte te koop sal ontluikende geldeenhede soos die rand verder verswak.

Meer oor:  Donald Trump  |  Kim Jong-Oen  |  Vsa  |  Noord-Korea  |  Rusland  |  Fed  |  Opul  |  Rentekoers  |  Olieprys  |  Rand  |  Inflasie  |  Markte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.