Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Belasting: Só gee en neem Jan Taks

Die pond vleis wat Jan Taks uit jou salaris sny, maak dalk seer elke maand as jy jou betaalstrokie bekyk, maar die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gee vir die meeste mense ’n klein bietjie maalvleis terug elke jaar.

Ed Kieswetter
Ed Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

70,7% van mense wat in die 2017-’18-belastingjaar geassesseer is, het geld teruggekry van Jan Taks, 18% moes geld inbetaal en 11,3% het ’n R0-assessering gehad (dus geen in- óf terugbetaling nie).

Dit is onder die interessante syfers uit die tesourie en SAID se gesamentlike jaarlikse verslag Belastingstatistieke, wat ’n oorsig gee oor vyf jaar se syfers.

Die verslag wys selfs te midde van stygende werkloosheid en ’n tam ekonomie, het die belasting wat die regering die afgelope vyf jaar ingevorder het, met gemiddeld 6,9% per jaar gestyg.

Die staat het altesame R1 287,8 miljard se belasting in sy 2018-’19-boekjaar (dus tot einde Maart 2019) ingevorder.

Volgens die verslag het die 2018-resessie, toe Suid-Afrika twee agtereenvolgende kwartale van negatiewe ekonomiese groei beleef het, die groei in belastinginvordering laat verlangsaam. Die regering moes daarom sy teikens verlaag.

Die groei in belastinginkomste was egter steeds vinniger as ekonomiese groei.

Die grootste bydrae kom van persoonlike inkomstebelasting (38,3%), belasting op toegevoegde waarde (BTW, 25,2%) en maatskappybelasting (16,6%).

Die verhouding tussen belasting en die bruto binnelandse produk (BBP) het in die vyf jaar effens gestyg, vanaf 25,5% in 2014-’15 tot 26,2% in 2018-’19.

Nog ’n belangrike maatstaf, belastingveerkragtigheid, het van 1,38 tot 1,23 verswak. Enige punt bo 1 is egter steeds goeie nuus. Belastingveerkragtigheid is die verhouding tussen die totale belasting ingevorder en ekonomiese groei.

Statistieke oor individuele belastingbetalers

Interessante feite oor wie Suid-Afrika se belastingbetalers is, sluit in:

  • Die aantal individue wat vir persoonlike inkomstebelasting geregistreer is, beloop nou 22,2 miljoen mense. Dis byna 22% meer as vyf jaar gelede, maar die SAID gee toe dit kan grootliks toegeskryf word daaraan dat werkgewers sedert 2010 verplig is om werknemers vir belasting te registreer en aan hulle ’n IRP5- of IT3(a)-sertifikaat uit te reik ongeag hoeveel hulle verdien.
  • Net nagenoeg 6,6 miljoen mense moes die afgelope jaar belastingopgawes indien. Van hulle is 4,9 miljoen (byna 75%) geassesseer.
  • 2 680 449 (54,5%) van die belastingbetalers wat geassesseer is, was mans; 2 236 580 (45,5%) was vroue.
  • Die grootste persentasie (27,3%) van belastingbetalers was 35 tot 44 jaar oud.
  • 1 976 674 (40,2%) van belastingbetalers was in Gauteng geregistreer.

Statistieke oor maatskappye

  • 814 151 maatskappye is vir die 2017-belastingjaar aangeslaan.
  • Van hulle het die meerderheid (48,3%) ’n belasbare inkomste van R0 gehad en 27,4% het ’n geassesseerde verlies gely. Net 24,3% het ’n positiewe belasbare inkomste gehad.
  • Die bydrae wat maatskappybelasting tot die staatskas gelewer het as persentasie van totale belasting ingevorder, het geval van 18,8% in 2014-’15 tot 16,6% in 2018-’19.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.