Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Beleggers lus vir belê,’ sê Cyril
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jaco Marais

Beleggers is beïndruk met die regering se konstruksieplan en die R700 miljard se beleggings wat opsy gesit word vir sy konstruksiefonds, het pres. Cyril Ramaphosa in die repliek op die debat oor sy staatsrede gesê.

Hy het ook die pensioenfondsbedryf bedank wat werk aan nuwe beleggingsvoertuie waardeur die bedryf in maatskaplike ekonomiese ontwikkeling sal belê.

Hy het ook klem gelê op die werk van Impact Investment South Africa, ’n inisiatief wat begin is om beleggings te lok wat onmiddellike impak op die ekonomie sal hê.

In September sal ’n konferensie oor impak-belegging gehou word, het hy gesê.

Die versterking van plaaslike regerings is ’n belangrike manier om dienslewering te verbeter, en Ramaphosa het die steun vir sy aankondiging oor die sogenaamde distrikontwikkelingsmodel verwelkom.

Besoeke aan gebiede waar dienslewering swak is, moet saamgaan met ingrypings en mobilisering van al die vermoëns van die staat, die sakesektor en gemeenskappe om dienslewering te verbeter.

Alle vlakke van regering het ’n rol om te speel. Daar sal een plan wees vir die hele land, van nasionale vlak tot provinsiale en plaaslike vlak.

Volgende week is daar ’n vergadering van die presidensiële koördineringsraad waar die distrikontwikkelingsmodel bespreek sal word, waar alle regeringsvlakke verteenwoordig sal wees.

Dit sal die ruimtelike argitektuur van die apartheidsverlede verander. Die nuwe stad rondom Lanseria sal ’n katalisator wees vir ander sulke projekte oor die land heen.

“Ons moet nuwe stede bou. Dit is wat ander lande gedoen het om te verander. Ons moet dapper wees en dié argitektuur verander wat van apartheid geërf is.”

Die debat oor die bou van ’n nuwe parlement wat toeganklik is vir alle Suid-Afrikaners moet gehou word, en studies word daaroor gedoen, het Ramaphosa gesê.

Hy het terugvoer gegee oor die nasionale vervolgingsgesag se vordering om met ander instellings en die Zondo-kommissie saam te werk om staatskapers te vervolg.

“Al het Eskom en Transnet geld teruggekry van staatskapers, sal meer geld teruggekry moet word. Al hierdie geld moet gevind en teruggebring word, maak nie saak waar dit in die wêreld is nie.”

Hy het die Nasionale Gesondheidsversekering verdedig en gesê dit is goed vir maatskaplike samehorigheid en vir die ekonomie en die gesondheid van die land as elke Suid-Afrikaner gelyke toegang het tot gelyke gesondheidsdienste.

Soos wat toegang tot mediese dienste verbeter word, moet gewerk word om MIV te bestry, het Ramaphosa gesê.

Grondhervorming sal versnel word, en daar sal tegniese steun wees om mense te help om suksesvol te boer.

Ramaphosa het erken in die verlede het mense nie voldoende steun gekry nie.

Dit was in antwoord op ’n opmerking van John Steenhuisen, waarnemende DA-leier, oor ’n swart boer wat kla dat hy vir jare nie steun van die regering kon kry om sy grond te ontwikkel nie.

Ramaphosa het die verandering van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak verdedig en gesê daar sal nie grondgrype toegelaat word nie.

Dit is bedoel om toegang tot grond vir alle Suid-Afrikaners te gee en nie net sekeres soos in die verlede nie.

Hy het ontken dat dié inisiatiewe net ten gunste van die ondersteuners van een politieke party is. Niemand het in die afgelope 25 jaar rondgegaan en gevra of iemand aan die ANC behoort voordat hulle toegang tot dienste soos onderwys gekry het nie.

Die regering is verbind tot ekonomiese hervorming en werk saam met die private sektor en die arbeidsektor om rompslomp te verwyder wat groei belemmer.

“Ons sal nie bloot steun aan Eskom afsny nie.”

Die besluit op ’n soewereine welvaartfonds te midde van moeilike tye is juis om vir die toekomstige geslagte voorsiening te maak, het Ramaphosa gesê.

“Ons kruip nie van ons probleme weg nie. Ons erken dit en pak dit aan.”

Hy het aangehaal uit ’n onlangse artikel van Mark Ashton, ’n voormalige finansiële joernalis van fin24.com, wat sê daar moet geveg word teen die soort pessimisme wat Suid-Afrika aftrek.

“Ons moet om elke hoek en draai terugveg teen negatiwiteit”, het Ramaphosa uit Ashton se artikel aangehaal.

Meer oor:  Eskom  |  Cyril Ramaphosa  |  Beleggings  |  Staatsrede2020  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.