Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Beleggings: Dís waarom daar hoop is
Pres. Cyril Ramaphosa spreek afgevaardigdes op die week se beleggingskonferensie in Sandton toe. Foto: GCIS

Die beloftes van R600 miljard se nuwe beleggings in pres. Cyril Ramaphosa se sak is vaag, maar ekonome sê daar is regtig rede om hoopvol te wees.

Die syfers wat rondgegooi is by die tweede beleggingskonferensie was verwarrend en kritici het daarop gewys dat baie van die beleggings eintlik belastingbetalers se geld is.

LEES OOK: Cyril se ‘nuwe’ beleggings: R90 mjd. kom uit jóú sak

Maar ekonome sê die meer objektiewe syfers soos regstreekse buitelandse beleggings is die eintlike syfers waarna Suid-Afrikaners moet kyk en dié is die hoogste sedert 2013.

Die uitwerking hiervan sal egter eers oor die volgende vyf jaar begin deursyfer.

Die syfers by die beleggingskonferensie was verwarrend:

  • ’n Totaal van R371 miljard nuwe beleggings is vanjaar belowe oor die volgende vyf jaar, maar Trudie Makhaya, presidensiële ekonomiese raadgewer, het Donderdagaand aan 702 gesê hulle “doen nog die berekeninge” van hoeveel hiervan werklik nuwe projekte is en hoeveel instandhouding van beleggings is.
  • Verlede jaar is R300 miljard belowe en daar is volgens Ramaphosa geen oorvleueling met vanjaar se R371 miljard nie.
  • Ramaphosa het Woensdag gesê van die 31 projekte wat maatskappye verlede jaar belowe het, is agt reeds voltooi en nog 17 is in die implementeringsfase. Dit verteenwoordig R238 miljard van die beloofde beleggings.
  • Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het weer in sy verwelkoming ’n meer konkrete syfer gegee. Volgens hom is R75 miljard aan bouwerk, masjinerie en uitbreidings bestee as deel van verlede jaar se beloftes.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, sê dis beter om te fokus op buitelandse regstreekse beleggings (BRB), wat wys dat minstens van die beloftes al vrugte afgewerp het.

Verlede jaar was BRB as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) die hoogste sedert 2013, sê hy.

In 2018 het BRB 2,5% van BBP beloop – meer as dubbel die BBP-groei – nadat dit in 2015 so laag soos 0,5% van BBP was, sê Ackerman.

Omdat BRB nou teen ’n vinniger pas toeneem as ekonomiese groei (na verwagting 0,5% vir vanjaar), sal die beleggings nuwe stukrag aan die plaaslike ekonomie gee. “Sulke beleggings is normaalweg ’n leidende aanwyser, met baie positiewe ekonomiese groei so drie tot vyf jaar later,” sê Ackerman.

Tito Mboweni, minister van finansies, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, neem deel aan ’n paneelbespreking tydens die week se beleggingskonferensie in Sandton. Foto: GCIS

Dit het laas in die vroeë negentigs gebeur dat BRB vinniger gegroei het as die ekonomie, en het die weg gebaan vir ’n dekade van sterk groei. As die huidige BRB-tendens voortduur en die regering voer belangrike strukturele ekonomiese hervormings deur, kan Suid-Afrika oor drie tot vyf jaar teen 2,5% of meer per jaar groei, sê hy.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, sê groot kapitaalbesteding soos die bou van nuwe fabrieke en die uitbreiding van mynbedrywighede is ’n lang proses en Suid-Afrika kan die voordele van kapitaalbesteding in die volgende twee jaar begin sien.

Ten spyte van die sinisme is daar daarom rede om optimisties te wees oor die beloftes van die 1 500 afgevaardigdes, onder wie verteenwoordigers van Forbes 500-maatskappye.

Maatskappye soos Toyota, Renegen, Hisense, MSC Cruises, Atterbury, Corobrik, Heineken, Defy, Sappi en openbare entiteite soos Sanral, die Lughawensmaatskappy, Transnet en Brics-bank was onder dié wat beleggings oor die volgende vyf jaar beloof het.

Ramaphosa het gesê dit sal ’n geraamde 412 000 regstreekse werksgeleenthede skep.

Stanford Mazhindu, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê met werkloosheid op 29,1% skep dié syfer hoop dat alles nie verlore is nie en Suid-Afrika sy geloofwaardigheid as beleggingsbestemming kan herstel.

Krugel meen egter dit is ’n ambisieuse werkskeppingsyfer. Ná verlede jaar se beleggingsberaad het PwC bereken die R300 miljard se beleggings kan in die volgende vyf jaar sowat 165 000 poste in die konstruksiefases skep, en nog sowat 140 000 poste in die bedryfsfase van die projekte.

Van die projekte wat reeds verwesenlik word, sluit in die Mara-selfoonfabriek, wat sowat twee weke gelede geopen is, en Aspen se nuwe vervaardigingsaanleg ter waarde van R3,3 miljard, wat in Desember 2021 voltooi behoort te wees.

Die politieke ontleder Daniel Silke het dit op Twitter verwelkom dat soveel afgevaardigdes die konferensie bygewoon het, maar sê Ramaphosa sal makliker beleggings verseker as die regerende ANC se ekonomiese beleid beleggings aanmoedig, eerder as om dit te verhinder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.