Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Beloftes word wél beleggings

Die private sektor is breëbors oor hul beleggings in aanloop tot pres. Cyril Ramaphosa se tweede beleggingskonferensie, wat van Dinsdag tot Donderdag in Sandton gehou word.

k

Ramaphosa het vroeg verlede jaar gesê hy wil R1 200 miljard se nuwe beleggings in die volgende vyf jaar lok en het reeds beloftes van R300 miljard ingesamel.

Die komende week se konferensie sal ’n aanduiding gee van hoe die beleggings vorder, maar sakeleiers, ontleders en ekonome is skepties oor die momentum van Ramaforie en of die “nuwe” beleggings nie maar net in elk geval beplande investering was nie.

Volgens die regering was R254 miljard van die beleggings wat verlede jaar beloof is, in Augustus reeds in die implementeringsfase en nog R35 miljard word beplan.

Daar is geen gebrek aan vertoon van die sakesektor dat hulle die projek ernstig opneem nie.

Die steenkoolgroep Exxaro het die afgelope week sy nuwe Belfast-steenkoolmyn, wat ’n belegging van R3,3 miljard is, aan die media gewys.

Skietwerk by Exxaro se nuwe Belfast-steenkoolmyn. Die groep sal jaarliks 2,7 miljoen ton steenkool uit die oopgroefmyn lewer. Foto: Riana de Lange

Dié myn is bekend as die eerste in sy soort wat die geïntegreerde digitale benadering betref. Omdat data in die geïntegreerde bedryfsentrum oor verskeie aspekte van die mynbedrywighede en deur die waardeketting beskikbaar is soos dit gebeur, kan probleme vinniger geïdentifiseer en oplossings vinniger gevind word, sê Lazarus Ramashilabele, sake-eenheidsbestuurder by die Belfast-myn.

Die bedryfsentrum word beman deur onder andere myn- en bedryfsingenieurs, data-ontleders en mynbestuurders, maar die hoofkantoor het ook toegang tot die inligting.

Die data is so omvattend dat daar selfs taamlik noukeurig voorspel kan word wanneer ’n masjien probleme kan gee en tydige instandhoudingswerk word daarvolgens beplan.

Ramashilabele sê dit gee hulle ’n groot voordeel dat die digitalisering van die begin deel is van die mynbedrywighede, teenoor myne wat dit later by bestaande bedrywighede moet inlyf.

Pleasure Mnisi, bestuurder van sake-optimalisering by Exxaro, sê die digitalisering sal die myngroep in staat stel om sy opbrengste te verhoog.

Die groep beoog om ’n verbetering van 25% in produktiwiteit te behaal deur die digitalisering en innovering.

Die Belfast-steenkoolmyn, wat jaarliks 2,7 miljoen ton hoëgraad-steenkool vir die uitvoermark sal lewer, het sowat twee maande gelede sy eerste steenkool gelewer, wat ses maande vroeër is as verwag, aldus Ramashilabele.

Die geïntegreerde bedryfsentrum by die Belfast-steenkoolmyn is deel van Exxaro se omvattende digitalisering om opbrengste te optimaliseer.

Belfast Coal, waaraan reeds 20 jaar beplan word, is deel van R20 miljard se beleggings wat Exxaro tot 2023 beplan.

Vrydag het Procter & Gamble (P&G) ook sy Suid-Afrikaanse fabriek vir Always- sanitêre produkte amptelik in Kempton Park geopen.

Die maatskappy sê benewens die feit dat dit die jongste innovering en tegnologie na Suid-Afrika bring, wys dit ook sy steun vir die regering se nasionale ontwikkelingsplan en Ramaphosa se beleggingsveldtog.

Vroeër is berig die waarde van die belegging is sowat R300 miljoen.

Vroeg in Oktober het Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) die modernisering van sy aanleg vir die vervaardiging van die Hiace Ses’fikile-minibustaxi in Durban onthul. Sowat R500 miljard is aan die modernisering bestee.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het by die opening gesê die modernisering is die praktiese implementering van Toyota se beleggingsbelofte tydens die 2018-beleggingsberaad.

Ramaphosa was ook middel Oktober in Durban vir die amptelike opening van die Mara-groep se fabriek om Afrika se eie slimfone te vervaardig.

Die groep, wat ook ’n vervaardigingsaanleg in Rwanda het, wil jaarliks 1,2 miljoen slimfone vervaardig en beplan twee modelle. Dit sal ’n verwagte 1 500 werksgeleenthede skep.

Die fabriek is ook ’n uitvloeisel van verlede jaar se beleggingskonferensie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.