Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: Beloon eerlikes; hulle is skaars
geld,
Munisipaliteite verloor groot hoeveelhede geld weens 'verliese'. Foto: Unsplash

Eerlikheid is deesdae baie skaars in Suid-Afrika.

Dit maak eerlike en wetsgehoorsame burgers seer omdat hulle uiteindelik daarvoor opdok terwyl die oneerlikes met die buit wegkom.

Data van die nasionale tesourie wys presies hoe verrot dinge is. Die afgelope jaar is R11,1 miljard verloor in krag- en watervoorsiening weens “nie-tegniese verliese” aan die agt groot metro’s. Dit is 18% van die totale waarde van grootmaatwater en -krag wat die metro’s aankoop!

Voeg daarby Eskom se probleme aan die beginpunt van die opwekkingsproses wanneer steenkool nie afgelewer word nie of sommige steenkoolprodusente buitensporige pryse vra. Sowat R500 miljoen is betaal vir steenkool wat nooit afgelewer is nie en volgens my inligting kos sommige steenkoolkontrakte byna twee keer soveel as wat dit moet.

Ook Eskom is agter met instandhouding en herstelwerk, en ly ook nie-tegniese verliese. Die meeste van Eskom se nie-tegniese verliese is soortgelyk aan die metro’s s’n – onwettige kragverbindings en die omseiling van kragmeters.

Voordat die krag dus in byvoorbeeld Johannesburg aankom, is daar reeds verliese in die elektrisiteitstelsel.

Dieselfde geld grootmaat-watervoorsiening. ’n Minister het onlangs gesê verliese hier beloop R7 miljard per jaar nog voordat die water huishoudings en ondernemings bereik.

Dié verliese word nie eens in berekening gebring nie omdat dit plaasvind lank voordat die voorsiening gemeet en rekeninge uitgereik word.

Hoewel ons nie al die syfers kan optel nie, is dit ’n wesenlike verlies: Meer as 20% van water en elektrisiteit gaan verlore nog voordat dit by die eindverbruiker gemeet word.

As jy hierby verliese weens ou infrastruktuur tel, kan die verliese nog voordat dit by die eindverbruiker uitkom nader as 30% wees.

Rekeninge geïgnoreer

Die volgende stap is dat sodra die verbruik gemeet word, ’n rekening uitgereik word.

Maar miljoene rekeninge word eenvoudig nie betaal nie.

Skuld aan munisipaliteite wat langer as 90 dae uitstaande is, beloop R133,5 miljard. Dit is bo en behalwe die R21,5 miljard wat afgeskryf is en die miljarde rande se verliese weens die diefstal en beskadiging van infrastruktuur.

Skuld aan munisipaliteite wat langer as 90 dae uitstaande is, beloop R133,5 miljard.

Dit is sowat 80% van die munisipale inkomste uit diensterekeninge per jaar! Onthou, die regering gee geld vir arm Suid-Afrikaners se water- en kragverbruik. Die slegte skuld is dus dié van mense wat, minstens in teorie, kán betaal.

Hierdie soort berekeninge kan baie verwikkeld raak, maar as al die geld verlore aan diefstal, bedrog en uitstaande rekeninge teruggekry kan word, sal eerlike Suid-Afrikaners volgens my berekeninge ’n jaar lank nie hoef te betaal vir water, krag en riooldienste nie.

Grootskaalse kommersiële diefstal

Vergeet van bankrowers wat met ’n paar miljoen rand wegkom.

Ek was geskok toe ek hoor van groot, gerespekteerde maatskappye wat nie eens die geboue wat hulle bou en verkoop, vermeld nie.

Ek het dit eers nie geglo nie, maar gedurende die ekonomiese insinking in die eerste kwartaal het Statistieke Suid-Afrika se data oor geboue wat voltooi is ’n hoogtepunt bereik. Sien die grafiek hierby.

Dit was omdat ’n paar maatskappye betrap is dat hulle nie die meenthuise wat hulle gebou het en waarin reeds mense gewoon het, gerapporteer het nie.

boubedryf

Dit kan selfs wees dat hulle geld vir krag- en waterverbruik ingevorder het, maar omdat die munisipaliteite nie geweet het van die ontwikkelings nie, het hulle nooit vir dié dienstegeld gevra nie.

Stadsraadslede het aan my gesê dis ’n groot gemors en die maatskappye se mededingers is woedend en voel bedrieg.

Ons praat nie van een of twee huise nie, maar van ’n paar duisend huishoudings wat betaal vir dienste, terwyl die munisipaliteit niks kry nie. En dit gaan al jare lank so aan!

Een mededinger het aan my gesê hoewel die Johannesburgse stadsraad vordering maak om dié oortreders vas te vat, is daar steeds “duisende” geboue waarvan die dienstegeld nie die munisipaliteit bereik nie.

As net 1 000 huishoudings nie hul sowat R2 000 per maand betaal nie, kom dit neer op ’n verlies van R2 miljoen per maand.

As net 1 000 huishoudings nie hul sowat R2 000 per maand betaal nie, kom dit neer op ’n verlies van R2 miljoen per maand.

Daar is ook aan my gesê dat hele strate in sakegebiede omskep is sonder dat enige planne ooit ingedien of die gebied hersoneer is. Ons praat hier van sommige van die duurste eiendomme in Suid-Afrika.

Klagtes van inwoners, en omgewings- en verkeersbekommernisse is bloot geïgnoreer.

Die regte eiendomsbelasting word dus nie gehef nie. Ja, die ontwikkelaars betaal nie rekeninge nie, hoewel hulle toegang tot dienste het, terwyl ander meer moet betaal om die stad se boeke te laat klop.

boubedryf

En wie dra die las?

Die korrupte stelsel beteken eerlike burgers betaal heelwat meer as wat hulle moet en kry heelwat minder vir hul geld terug in die vorm van dienste en opgegradeerde infrastruktuur.

Ons plaaslike owerhede het egter ook lui geraak om geld in te vorder. Omkoopgeld beteken amptenare sluit hul oë.

Die stelsel is teen die eerlikes wat betaal.

Die stelsel gee nie meer om vir die armes nie en die middelklas voel soos kaas in ’n toebroodjie – vasgepen en op die punt om geëet te word.

Hoe meer hulle besef hoe bekook alles is, hoe minder lus is hulle om te betaal.

’n Ekonomie het eerlikheid nodig om te kan funksioneer. Ek glo ons kan die stelsel regruk. Dit sal harde werk en baie wetstoepassing vereis, met die grootste oortreders wat die binnekant van ’n tronksel sal moet sien.

Maar dit moet vinnig gebeur, anders gaan die eerlikes se opstand teen betaling daartoe lei dat die stelsel van plaaslike regering geheel en al in duie stort.

Dit is ook tyd dat eerlike burgers iets in ruil vir hul geld kry. Die ekonomie moet die gesinne, enkelouers en pensioentrekkers, wie se swaarverdiende geld die stelsel aan die gang hou, loof.

Ons moet hulle beloon met laer rekeninge en die ontduikers moet gedwing word om meer te betaal.

  • Schüssler is ’n ekonoom van Economists.co.za en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.