Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Beperkings op drankverkope ‘help virus versprei’

Dis nie net rampspoedig vir die ekonomie nie, die verbod op die verkope van drank by drankwinkels oor naweke en op weeksdae ná 17:00 “is besig om die verspreiding van die koronavirus te vererger”.

Drankwinkels wil weer sake doen op weeksdae ná 17:00 en oor naweke. Hulle meen dit sal help om die verspreiding van die koronavirus te beperk. Foto: Unsplash

Dit is die boodskap van die Nasionale Drankhandelaarsraad (NLTC) en die Drankhandelaarsvereniging van Suid-Afrika (LTASA) wat Saterdag ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf het in ’n poging om hom te oortuig om die streng regulering van drankverkope te wysig.

Volgens die koalisie, wat 39 900 drankwinkels en tavernes verteenwoordig, maak dit nie sin om drankverkope vir tuisverbruik te beperk as die regering dan juis wil hê mense moenie in groot groepe bymekaar kom wanneer hulle alkohol verbruik nie.

Die koalisie skryf in sy brief dat tuisverbruik juis die verspreiding van die virus bekamp.

“Die anomalie is dat die regulasies die patroon van verbruik wat die verspreiding van die virus (tuisverbruik) bekamp, beperk en die patroon van verbruik wat die moontlike verspreiding van die virus (verbruik in die openbaar) verhoog, laat toeneem.”

Met die huidige regulasies kan min mense betyds by drankwinkels uitkom voordat hulle toemaak, sê die koalisie.

Mense werk tot 17:00, wanneer drankwinkels moet sluit.

Dit lei tot twee probleme.

Eerstens, dwing dit mense wat wil drank koop om vroeg af te vat by die werk, wat ook ’n ekonomiese impak het, en dan is daar ’n opeenhoping van verbruikers net voor 17:00 op drankwinkels se persele wat die handhawing van ’n veilige afstand onmoontlik maak en so die verspreiding van die virus aanmoedig.

Tweedens, dryf dit verbruikers na restaurante en kroeë waar alkohol vir verbruik op die perseel verkoop mag word ná 17:00 en oor naweke.

Dit lei volgens hulle tot groot samedrommings van mense en oorvol ondernemings wat die koronavirus help versprei, soos die ervaring onlangs in Kaapstadse kuierplekke was.

Drankhandelaars kan nie onder die huidige omstandighede meeding met restaurante en kroeë nie, sê die koalisie.

En dit het ’n enorme impak op indiensneming en hul finansiële gesondheid.

Werknemers by drankwinkels ervaar reeds ’n gemiddelde salarisverlaging van 29% aangesien hulle twee dae minder per week werk (naweke).

En drankwinkels, wat ’n belangrike rol speel in belastinginvordering, se verkope word erg geknou. Voor die staat van inperking was hul besigste tye op weeksdae en naweke tussen 17:00 en 18:00.

“Die huidige beperkings het gevolglik ’n vernietigende finansiële impak op ons lede se ondernemings. Daar is ’n afname van 45% in die transaksies en 30% in omset – wat noodgedwonge daartoe lei dat hulle personeel en salarisse moet verminder.

“Dit is baie sleg vir werksekerheid in ons land.”

Die koalisie sê dit sal ’n dubbele wins vir die land wees as die regulasies gewysig word sodat drankwinkels op weeksdae ná 17:00 en oor naweke sake mag doen, omdat dit ’n gunstige ekonomiese en gesondheidsimpak sal hê.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.