Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Besige markdag laat rand water trap
A rand note
Die rand hou aan water trap teen die vernaamste geldeenhede. (iStock)

Met soveel markdata wat Woensdag verwag word, trap die rand-dollar-wisselkoers water.

Die rand was Woensdagoggend effens sterker as die vorige dag op R15,26 in afwagting van Julie se inflasiesyfers wat bekend gemaak is, asook die notule van die vorige Fed-vergadering in Amerika wat uitgereik sal word.

Bianca Botes, tesourievennoot by Peregrine Treasury Solutions, sê hoewel die rand tegnies oorverkoop lyk, is die risiko’s in die mark te prominent om enigsins te verwag dat die rand wesenlik sal versterk.

Die JSE se indeks van alle aandele was Woensdagoggend effens hoër, maar die kleinhandelgroep Shoprite se aandeelprys is steeds meer as 1% laer ná sy jaarresultate wat Dinsdag uitgereik is, met die mark wat nie beïndruk is met verdienste per aandeel wat byna 20% laer is nie.

Sasol het vroegoggend op Sens teruggekrabbel teen kritiek dat sy gesprekke met ontleders oor die uitstel van sy resultatebekendmaking geheim gehou is. Volgens Sasol is niks aan ontleders gesê wat mark- of pryssensitief is nie. Dit het bloot gegaan oor sy aankondiging verlede week dat hy eers moontlike beheerswakhede wil regmaak voordat hy sy jaarresultate in September gaan bekend maak.

Sasol se aandeelprys was Woensdag ’n klein bietjie hoër op R271.

Die mangaanmyngroep Assore se aandeelprys het met 2% geval ná sy handelsverslag wat sê sy wesensverdienste kan met 20% groei. Beleggers het meer verwag, en Assore het gewaarsku pryse vir mangaanerts is op soortgelyke vlakke as in die vorige jaar, terwyl pryse vir chroomerts en mangaan-allooie laer is.

Harmony Gold se aandeelprys was 1,2% beter ná sy resultate Dinsdag.

Op die internasionale markte was die Amerikaanse beursindekse Dinsdagaand almal swakker, maar is wel effens sterker as presies ’n jaar gelede. Die Europese markte is Woensdagoggend sterker.

Die Asiatiese beurse was wisselend, met die Hangseng-indeks in Hongkong wat sterker is, maar die beurse in Japan, Sjanghai en Sydney swakker.

Oliepryse is sterker. Die Brent-ruolieprys is weer bo die $60-vlak per vat. Goud is swakker en het weer tot onder $1 500 per fynons gedaal namate beleggers uit hul veilige hawens na meer riskante bates vlug.

Teen die Britse pond het die rand tot R18,52 verstewig, en teen die euro tot R16,93.

Meer oor:  Rand  |  Markberig  |  Markte  |  Dollar  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.