
Chaos buite die Checkers Hyper in die Mall of Africa tydens Swart Vrydag verlede jaar. Foto’s: Felix Dlangamandla
Die pandemie het duidelik sy tol geëis op verbruikers se beursies en inkopiepatrone te oordeel aan die jongste syfers oor verkope op Swart Vrydag. Dit toon ’n daling van 52% in besteding op dié spesifieke dag, vergeleke met verlede jaar.
Inligting wat Donderdag deur die klaringshuis BankservAfrica uitgereik is, toon ook die getal transaksies het met 33% tot 4,7 miljoen gedaal. Net R2,9 miljard is bestee.
BankservAfrica verwerk nie alle kaarttransaksies tussen banke nie, wat beteken dié inligting toon net ’n gedeelte van die totale transaksies wat plaasgevind het. Transaksies wat tussen rekeninge van dieselfde bank plaasvind, word ook nie deur die maatskappy verwerk nie.
’n Rekord van 7 miljoen transaksies is verlede jaar op Swart Vrydag bereik toe R6 miljard bestee is.
Volgens Martin Grunewald, sakehoof van BankservAfrica, toon hul inligting boonop die meeste van die transaksies het op kredietkaarte plaasgevind.
“Dit wil voorkom asof platsak Suid-Afrikaners hulle tot besteding op hul kredietkaarte gewend het. Swart Vrydag was beslis vanjaar anders, soos baie mense verwag het.”
Kleinhandelaars het voor die tyd te kenne gegee hulle verwag Swart Vrydag gaan nie so besig wees nie weens die maatreëls wat gehandhaaf moet word om mense veilig te hou.
Die meeste kleinhandelaars het hul promosies versprei oor ’n aantal dae, en selfs weke in sommige gevalle.
Die inligting van BankservAfrica hou net met 27 November se verkope verband.
Kredietkaarte is 3,6 miljoen keer gebruik en R2 miljard is bestee. Daarteenoor het verbruikers net 1 miljoen keer op debietkaarte gekoop vir R370 miljoen.
Die besonderhede oor die verkope gedurende die dag het getoon vroegoggend het veral minder verkope as verlede jaar plaasgevind. Dit is omdat van die winkels wat normaalweg om middernag geopen het vir Swart Vrydag, dit nie weer vanjaar gedoen het nie.
Die grootste enkele kredietkaarttransaksie het net voor agtuur die oggend plaasgevind vir meer as R514 000.
Die grootste debietkaarttransaksie was net voor drieuur die middag vir meer as R264 000.
Soos verwag is die groei in aanlyn verkope voortgesit. Dit is vanjaar verwag omdat meer verbruikers tydens die staat van inperking aanlyn begin inkopies doen het.
BankservAfrica het nie syfers daaroor uitgereik nie en net gesê ’n “stelselmatige groei is beleef”.