Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Besteding: ‘SA se hande te styf vasgebind’

Die Suid-Afrikaanse regering se hande is baie styf vasgebind ten opsigte van hoe hy sy geld bestee. Dit maak hom baie kwesbaar in die geval van ’n krisis, sê Moody’s Investors Service.

A monitor displays Moodys Corp. signage on the flo
Moody's se hoofkantoor in New York. Foto: Getty Images

Minstens 80% van die Suid-Afrikaanse regering se besteding is “verpligte” besteding, sê die kredietgraderingsagentskap in die opsomming van ’n verslag oor die bestedingsbuigsaamheid van lande in Afrika suid van die Sahara. Die volledige verslag is slegs vir Moody’s se intekenare toeganklik.

Bestedingsbuigsaamheid verwys na lande se vermoë om hul staatsbesteding vinnig en beduidend te besnoei in die geval van ’n ekonomiese of finansieringskrisis. ’n Land met ’n hoë vlak van buigsaamheid sal steeds grootliks sy planne kan uitvoer, ondanks die besuiniging.

Die meeste lande in Afrika suid van die Sahara moet hul begrotings tans konsolideer om skuld te stabiliseer. Hulle is egter nou in ’n swakker fiskale posisie as vyf jaar gelede, volgens Moody’s.

Suid-Afrika is saam met Namibië, Mauritius en Ghana op die lys van lande met die minste buigsaamheid. Dit is omdat meer as 80% van hul besteding verpligte besteding is.

Rwanda, Kameroen en die Ivoorkus is die drie Afrika-lande met die hoogste vlakke van bestedingsbuigsaamheid.

“Besnoeiing aan besteding is dikwels minder ingewikkeld om vinnig in werking te stel as maatreëls om inkomste te verhoog, sê David Rogovic, ’n visepresident van Moody’s en medeskrywer van die verslag. “Die kredietrisiko’s wat verbind word met ’n gebrek aan bestedingsbuigsaamheid is die grootste as dit gepaardgaan met hoë skuldvlakke.”

Suid-Afrika se bruto staatskuld het einde Maart R2 810 miljard beloop.

Die tesourie het in Februarie se begrotingsoorsig voorspel die persentasie van totale skuld in vergelyking met die bruto binnelandse produk sal na verwagting in die boekjaar tot einde Maart 2024 op 60,2% wees. Die nasionale tesourie verwag dit sal die boonste draaipunt wees.

Alle oë gaan einde Oktober op dié syfers wees omdat skuldvlakke reeds verhoog moes word om ’n reddingsboei van R26 miljard vir vanjaar aan Eskom te gee waarvoor nié in Februarie begroot is nie. Tito Mboweni lewer einde Oktober die land se mediumtermynbegrotingsraamwerk.

Moody’s sê Namibië en Ghana is slegter daaraan toe omdat hulle benewens onbuigsame besteding ook ander fiskale swakhede het. Dit word nie van Suid-Afrika gesê nie.

Moody’s is die laaste van die drie groot kredietgraderingsagentskappe wat Suid-Afrika op beleggingsgraad hou. Hy besluit weer einde November daaroor.

Beleggers en ontleders is ewe pessimisties en verwag ’n afgradering.

fitch
Suid-Afrika se kredietgraderings ná Fitch se aankondiging op 26 Julie 2019.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.