Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Beurtkrag hou beursies toe
Beurtkrag het vroeër in 2019 ’n duidelike invloed op die getal ekonomiese transaksies gehad.

Die invloed van die vlaag beurtkrag wat die land in Maart geteister het, kan nou duidelik in ekonomiese syfers gesien word.

BankservAfrica se jongste indeks van ekonomiese transaksies (Beti) wys dat waar transaksies in Maart op ’n maandgrondslag met 1,9% afgeneem het, het dit in April met 1,6% toegeneem.

BankservAfrica sê in ’n verklaring daar is geen twyfel daaroor dat die agteruitgang in Maart weens beurtkrag was nie. Insgelyks was die toename in April juis omdat betalings wat nié weens die kragprobleem in Maart gedoen is nie, toe in April uitgevoer is.

Die indeks wys dat die reële waarde van transaksies in April op ’n maand-, kwartaal- én jaargrondslag 1,6% hoër was. Dit is die grootste ommeswaai op dié indeks die afgelope vyf jaar. Dit volg nadat daar in Maart die grootste agteruitgang in agt maande was.

BankservAfrica waarsku egter dat dié ommeswaai nie nou skielik beteken die ekonomie gaan nou sterk begin groei nie.

“ ’n Datapunt van een maand in isolasie kan nie as ’n tendens beskou word nie. Dit blyk egter dat die negatiewe data van die eerste kwartaal moontlik erger vertoon het weens die invloed van beurtkrag. Ekonomiese aktiwiteit het nie stilgestaan nie, maar was eerder vertraag.

“Die data van April wys hoe daar nou ingehaal is op dié agterstand.”

Die Beti kyk na alle transaksies tu

ssen banke wat minder as R5 miljoen per transaksie beloop. Dit sluit dus alles in van individue wat elektroniese oorplasings via hul bankrekeninge maak tot die aankope van groot- en kleinhandelaars.

Dit sluit nie kontantbetalings en transaksies in wat fisiek met ’n kaart in byvoorbeeld ’n winkel gemaak word nie. Dit sluit wel elektroniese oorplasings uit ’n kaartrekening na ’n ander rekening in.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economist.co.za, het voorheen verduidelik dat dié transaksies ’n duidelike prentjie skets van hoe die ekonomie vaar.

“Ons kan dus sien of groothandelaars goedere verkoop, of kleinhandelaars voorraad aankoop en wat individue betaal.”

Hy sê hoewel kontant- en fisieke kaarttransaksies nie by die Beti ingesluit is nie, beteken dit nie ’n groot deel van die ekonomie word uitgesluit nie.

In April is daar luidens Beti 103,4 miljoen transaksies ter waarde van R852,5 miljard uitgevoer.

Die getal transaksies het met 6,6% toegeneem op ’n jaargrondslag. Die gemiddelde bedrag per transaksie was R8 246.

Meer oor:  Bankservafrica  |  Mike Schüss­Ler  |  Ekonomiese Groei  |  Transaksies  |  Beurtkrag  |  Beti
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.