Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Beurtkrag kan groei in vervaardiging stuit

Eskom se beurtkrag kan die momentum stuit wat die vervaardigingsektor verlede jaar getoon het, sê ekonome. Dié sektor het bygedra tot groei van 0,8% vir 2018.

Werkers in die Chinese vervaardiger Hisense se fabriek in Atlantis. Foto: Wikus de Wet

Statistieke Suid-Afrika (SSA) se syfers Dinsdag wys die ekonomie het in die vierde kwartaal met 1,4% gegroei teenoor die derde kwartaal. 2018 se groei van 0,8% was effens beter as die verwagte 0,7%, maar laer as 2017 se 1,4% op ’n jaargrondslag.

Lara Hodes, ’n ekonoom van Investec, sê die vervaardigingsektor se groei van 4,5% in die vierde kwartaal was wel effens stadiger as die derde kwartaal se 7,5%, maar was steeds sterk genoeg om positief by te dra tot die BBP-syfer.

Lees ook: Grafika: SA ekonomie in beeld

Sy is bekommerd dat beurtkrag fabrieksbedrywighede in die eerste kwartaal van 2019 sal knou. Vroeg in Februarie het Eskom ’n ruk lank fase 4-beurtkrag ingestel.

Nicky Weimar, Johannes Khosa en Dennis Dykes, ekonome van die Nedbank-groep se ekonomiese eenheid, sê die groeivooruitsigte vir 2019 het vroeg in die jaar versleg weens onbetroubare en beperkte elektrisiteitsverskaffing. Voortgesette wetlike en politieke onsekerheid en ’n trae wêreldekonomie dra ook by dat groeivooruitsigte afwaarts aangepas is.

Lees ook: ‘Robot-hartaanvalle’, stakings knou motorbedryf

Maarten Ackerman, hoofekonoom en adviserende vennoot by Citadel, sê die groei in die vierde kwartaal en vir 2018 in die geheel is steeds veel laer as die bevolkingsgroei. Dit beteken Suid-Afrikaners word al hoe armer. Die prentjie word verder versuur deur indiensneming wat nie naby dié syfers kom nie. “Terwyl die bevolking vinniger as die ekonomie groei, kan indiensneming nie byhou nie. Dit beteken dat die werkloosheidskoers algaande sal styg.”

Lees ook: SA ekonomie: Een tree vorentoe, maar pad is lank

Suid-Afrika se werkloosheidsyfer staan tans op 27,1%, een van die hoogstes ter wêreld.

Hy sê die positiewe syfers dui op ’n ekonomiese verbetering wat beteken die groeivooruitsig van 1,5% vanjaar en sowat 2% oor die volgende paar jaar – wat Tito Mboweni, minister van finansies, in die begroting gegee het – is haalbaar. Dít behoort die kredietgraderingsagentskappe vir eers tevrede te hou.

Namate tyd verloop, sal die Suid-Afrikaanse ekonomie vinniger groei as die 1,7% waarmee die bevolking groei, wat werkloosheid sal verminder en die land in staat sal stel om sekere strukturele kwessies op te los, sê Ackerman.

Nedbank verwag die ekonomie kan vanjaar met 1,3% groei.

Aan die produksiekant kan ekonomiese groei baat vind by ’n geleidelike verbetering in mynbou en vervaardiging later in die jaar. Plaaslike handel, toerisme en finansiële dienste – aangehelp deur matige groei in besteding, en meer buitelandse besoekers nadat visumregulasies onlangs verslap is – kan ook groei ondersteun.

Lullu Krugel en Christie Viljoen, ekonome van PwC, sê voor die bekendmaking van die BBP-syfers het ekonome 1,5%-groei vir 2019 voorspel, maar om dít te haal, moet sakevertroue in die komende paar maande dramaties verbeter.

Lees ook: Sakevertroue rol al hoe vinniger afdraand

Hoër vlakke van sakevertroue is egter net moontlik as beleidsekerheid kom in sleutelareas soos onteiening sonder vergoeding. Pres. Cyril Ramaphosa se kabinetsamestelling ná die verkiesing word ook met belangstelling dopgehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.