Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Beurtkrag laat rand tot R15 val
Die rand het Woensdagoggend weer tot R15 teenoor die dollar teruggesak. Foto: Elvira Wood

Die rand het Woensdagoggend behoorlik in sy ontbytpap gestik.

Die geldeenheid het van die R14,81 waarteen hy begin verhandel het tot R15,05 teenoor die dollar teruggesak kort nadat Eskom aangekondig het dat hy fase-2 beurtkrag instel.

Teen 10:00 het hy teen R15 teenoor sy Amerikaanse eweknie verhandel.

Bianca Botes van Perigrine Treasury Solutions skryf in ’n nota dit is ongetwyfeld die nuus oor beurtkrag wat die rand laat terugsak het aangesien Eskom so ’n groot rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie speel.

Andre Botha van TresuryOne sê ook dit was ongetwyfeld beurtkrag wat die rand laat terugsak het. Hy waarsku in 'n nota dat dié nuus en ander plaaslike verwikkelinge wisselvalligheid in die waarde van die rand in die komende weke kan meebring. 

Die volgende groot gebeurtenis op die plaaslike kalender is wanneer Tito Mboweni, minister van finansies, sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) op 30 Oktober aan die parlement voorlê.

Die kredietgradeerder Moody’s Investors Service stem saam met Botes en Botha oor die invloed wat die kragreus op die land se ekonomie het.

Hy het juis in September gesê die staat se planne met Eskom sal ’n deurslaggewende rol speel in sy besluit oor of hy die land se skuld tot onder beleggingsgraad gaan afgradeer.

As Moody’s die land afgradeer, sal die rand ongetwyfeld beduidend terugsak, veral teenoor groot geldeenhede soos die dollar, Britse pond en euro. Een van die redes is omdat indeksfondse wat beleggingsgraad-staatseffekte volg, dan Suid-Afrikaanse staatseffekte sal uitsluit.

Lucie Villa, ’n visepresident en senior kredietbeampte van Moody’s, het in September gesê hulle is bekommerd oor die staat se vermoë om die reddingsboeie wat hy onlangs aan Eskom toegestaan het, in die fiskus te akkommodeer.

Moody’s besluit na verwagting weer op 1 November oor sy kredietgradering van Suid-Afrika.

Hy is tans die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat Suid-Afrika se staatskuld nog op beleggingsvlak gradeer. Sy gradering is Baa3 – een vlak bo rommelstatus – met ’n stabiele vooruitsig.

Mboweni sal na verwagting sy planne met Eskom bekend maak wanneer hy sy MTBR in die parlement voorlê.

Meer oor:  Ekonomie  |  Rand  |  Beurtkrag  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.