Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Bloedbad in ekonomie: Hoe raak dit jou?

Hoër belasting, langdurige werkloosheid, lae salarisverhogings en die ineenstorting van honderde klein ondernemings.

Landbou was die enigste ligpunt in die syfers oor ekonomiese groei, met groei van 15,1%.

Dís kortom van die redes waarom verbruikers bekommerd moet wees oor die diep negatiewe groei in die tweede kwartaal van 2020. Groei was -16,4% op ’n kwartaalgrondslag, maar die syfer wat almal laat regop sit, is die geannualiseerde -51%. (Dit beteken indien die ekonomie teen dieselfde pas aanhou inkrimp, sal jaargroei -51% wees.)

Nicky Weimar, Candice Reddy en Johannes Khosa van Nedbank se ekonomiese eenheid sê: “Sommige firmas het reeds aangekondig dat hulle herstrukturering van bedrywighede gaan begin deur bedryfskoste te besnoei en kapitaalprojekte te hersien. Dit sal onvermydelik tot afleggings lei.

“Vrees oor werksekerheid en steeds moeilike finansiële omstandighede sal huishoudings selfs versigtiger maak in die maande wat voorlê.”

Maarten Ackerman, hoofekonoom en adviesvennoot van Citadel, sê die groter prentjie is nie die een kwartaal se negatiewe groei nie, maar die feit dat dit die vierde kwartaal van negatiewe groei is.

LEES OOK: Só sink SA ekonomie

Die onmiddellike uitwerking daarvan is dat mense hul werk verloor het of hul inkomste verminder is, wat druk plaas op die staat se inkomste. “Potensieel kan die regering nog geld leen óf ons meer belas. Dalk word belasting op toegevoegde waarde volgende jaar verhoog.”

Nog lenings sal kredietgradeerders ontsenu, wat op sy beurt die rand kan laat verswak – ’n risiko vir prysstygings, wat ook verbruikers se sak raak.

“Die punt is dat jy jou gordel net al hoe stywer moet trek. Die enigste voordeel tans is laer rentekoerse.”

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC Strategy Africa, en dr. Christie Viljoen, strateeg en ekonoom, sê daar is steeds ruimte vir die Reserwebank om volgende week die rentekoers te verlaag – vir die sesde keer vanjaar. Dis danksy die steeds baie lae inflasiekoers én die negatiewe groeikoers.


LEES OOK: Resessie: ‘Skrap inperking, alle regulasies dringend’

Ackerman sê daar word nou al lank gepraat dat die regering moet wakker skrik en die strukturele probleme wat groei terughou, oplos. Hy hoop dat die Covid-19-krisis nou eindelik die dringendheid daarvan tuisbring.

Onder die probleme is die onbuigsaamheid van die arbeidsmark – in Suid-Afrika is dit ongelooflik moeilik om iemand aan te stel of af te dank; al die rompslomp wat vereis word om ’n nuwe onderneming te begin; en die gesloer met die opveil van nog breëbandspektrum. Voeg daarby die swak krag- en ander infrastruktuur.

Hoewel die ekonomie na verwagting in die derde en vierde kwartaal positief gaan wees, is die groot vrees dat die Covid-19-krisis se nasleep baie lank gaan wees.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments, reken dit kan tot vier jaar duur voordat die ekonomie weer so groot is as voor die Covid-19-krisis.

bbp2002
bbp2002
bbp2002
Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Vlak 2  |  Bbp  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Inperking  |  Bbp2002  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.