Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Brexit: Dit kon jou whiskey duurder gemaak het

Die impak van Brexit werk albei kante toe, nie net vir Suid-Afrikaanse uitvoerders nie, maar ook vir Suid-Afrikaanse invoerders.

Want as Brittanje nie Woensdagoggend tussentydse handelstariewe aangekondig het wat vir al sy handelsvennote vir die volgende 12 maande sal geld nie, sou Suid-Afrikaners straks R4,50 per liter meer vir hul ingevoerde whiskey uit die Skotse hooglande moes betaal.

whiskey
’n Ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Brittanje oor handelstariewe ná Brexit is belangrik vir onder meer whiskey-drinkers.

Só het dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, Woensdagmiddag op ’n mediakonferensie in die parlement verduidelik oor die implikasies vir Suid-Afrika as Brittanje die Europese Unie op 28 Maart sonder ’n formele ooreenkoms verlaat.

Sonder die tussentydse tariewe en sonder ’n formele ooreenkoms met die EU sou Brittanje moes terugval op handelstariewe wat die EU in die 1990’s ná die Uruguay-handelsgesprekke by die Wêreldhandelsorganisasie vasgestel het.

Dit sal byvoorbeeld beteken dat wynuitvoer aan ’n tarief van 10% onderhewig sal wees.

Davies gis die sein wat die tussentydse tariewe uitstuur wat Brittanje Woensdagoggend uitgereik het, is dat die Britse regering nie verwag dat hy ’n ooreenkoms gaan bereik nie.

Die tussentydse tariewe gee intussen steeds aan Suid-Afrikaanse wynuitvoerders tariefvrye toegang tot die Britse mark. Daar is ook geen tariewe vir sekere vrugte soos lemoene en druiwe nie.

Die uitvoer na Brittanje van motorvoertuie asook bees-, vark- en lamsvleis, suiker en pluimvee sal egter aan tariewe onderhewig wees.

Davies sê Suid-Afrika werk hard om ’n tussentydse handelsooreenkoms met Brittanje uit te werk wat teen volgende week deur die parlement bekragtig kan word. Maar as dit nie gebeur nie, is dit volgens hom ook nie die einde van die wêreld nie. ’n Memorandum van verstandhouding kan geld.

Davies het verduidelik die kwessie is nie so eenvoudig soos om in die huidige handelsooreenkoms (EPA) tussen die Suider-Afrikaanse Doeane-unie en die EU bloot die “EU” in die papierwerk dood te krap en met “Brittanje” te vervang nie.

Kwessies waaroor onderhandel is, is die tariefkoerskwotas met Brittanje en die EU. Ingevolge die EPA kan Suid-Afrika 150 miljoen liter wyn tariefvry na die EU uitvoer. Dit was voorheen 100 miljoen liter. Tot 40% van die wyn is na Brittanje uitgevoer.

Davies merk op dat die EU nooit Suid-Afrika se kwotas verhoog het wanneer ’n nuwe lid by die EU aansluit soos toe Kroasië aangesluit het nie. Suid-Afrika se argument is dus dat die EU ook nie die kwotas kan verlaag as ’n lid die EU verlaat soos nou nie.

Oor sanitêre en fitosanitêre sertifikate wat aan individuele uitvoerders uitgereik word, het Davies gesê Brittanje het beloof hy sal die bestaande sertifikate vir uitvoer na die EU vir ’n bepaalde tyd aanvaar en ’n maklike proses van oorgang verseker. Brittanje is in dié geval meer tegemoetkomend as die EU want hy produseer nie juis van die produkte soos sitrus waarmee Suid-Afrika met die EU meeding nie.

’n Kwessie waarmee nog gestoei word, is die sogenaamde kumulatiewe effek van produkte wat insette van sowel die EU, Brittanje en Suid-Afrika het. As Suid-Afrika byvoorbeeld ’n motor na Duitsland uitvoer, is daar nou ’n nuwe manier nodig waardeur die plaaslike inhoud van komponente in die motor – hetsy dit van die EU self of van Brittanje of van Suid-Afrika kom – erken word. ’n Ander voorbeeld is waar Swaziland byvoorbeeld ingelegde perskes na die EU wil uitvoer. Maar hy kan nie perskes van Suid-Afrika in die blik sit nie want dan gaan hy meer tariewe betaal, so hy voer perskes van Griekeland in om dit in te lê en weer na die EU terug te stuur.

Davies sê Suid-Afrika kan eers met die EU hieroor onderhandel as Brittanje klaar uit die EU is.

Meer oor:  Rob Davies  |  Brittanje  |  Eu  |  Europese Unie  |  Handelsooreenkoms  |  Drankbedryf  |  Brexit  |  Invoer  |  Uitvoer  |  Whiskey  |  Handel  |  Drank  |  Departement Van Handel En Nywerheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.