Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Brexit: Só raak dit Suid-Afrika

Die nuwe handelsooreenkoms wat Suid-Afrika net twee weke gelede met die Europese Unie (EU) gesluit het, het letterlik oornag byna ’n kwart van sy waarde verloor.

    

    

Op pad uit . . . David Cameron, Britse premier, en sy vrou, Samantha, Vrydag buite 10 Downing Street nadat hy beloof het om later vanjaar te bedank. Die EU se leiers het gevra Brittanje “moet so gou moontlik padgee as hulle dan wil padgee”. Foto: AP

Dinsdag het die regering nog gespog dat dié ooreenkoms wynuitvoer na die EU gaan verdubbel.

Maar die onverwagte besluit van 51,9% van Britte om hul 27 mede-lidlande van die EU vaarwel te roep, het sake lelik omgekrap.

Dié besluit het lidlande ook ontstel. Die EU se leiers het gevra Brittanje moet “so gou as moontlik, ongeag die pyn wat dit dalk veroorsaak”, padgee as hulle dan wil padgee.

Mark Rutte, eerste minister van Nederland wat tans as president van die EU dien, sê enige vertraging sal nou net die onvermydelike pyn uitrek.

“Hierdie is ’n ongekende situasie, maar ons is verenig in ons reaksie,” het die EU-leiers in ’n gesamentlike verklaring gesê. “Daar sal geen herbedingings wees nie,” was die finale woorde.

    

Losmaakproses

    

Die rand

Ion de Vleeschauwer, hoofhandelaar van Bidvest, sê die  mark is geweldig onkant betrap deur die uitslag van die referendum.

“Die rand het Vrydag in die vroeë oggendure aanvanklik skerp verswak toe die nuus van Brexit met die opening van Oos-Asiese markte bekend word en daar illikiede verhandeling was,” sê De Vleeschauwer.

“Die rand het egter namate die dag verloop het gestabiliseer en eintlik verbasend goed kop bo water gehou,” sê hy.

Hoewel die rand vir die dag tot net bo R15 per dollar verswak het, was dit basies onveranderd teenoor die euro en dit het skerp teenoor die pond gestyg.

Maar De Vleeschauwer waarsku dat die onsekerheid wat Brexit oor die volgende jaar gaan skep, gaan keer dat die rand veel verder kan versterk.

Brittanje sal teorieties tot twee jaar hê om hulself los te maak van die EU. Volgehoue sakebande met die res van Europa sal hul eerste prioriteit wees.

Gerhard Erasmus, handelsregkenner verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, sê die losmaakproses gaan die hele wêreld raak.

“Ons het pas hierdie ekonomiese vennootskapooreenkoms met Europa geteken en Brittanje was ’n groot deel daarvan.”

Hy sê egter die impak sal nie dadelik gevoel word nie.

Die ooreenkoms (EPA) tussen die EU en die Suider-Afrikaanse doeane-unie plus Mosambiek vervang die handelsgedeelte van Suid-Afrika se bestaande ooreenkoms met die EU, naamlik die samewerkingsooreenkoms vir handel en ontwikkeling.

Toegang tot die Britse mark vorm ’n belangrike deel van albei ooreenkomste, maar dit sal nou nie meer deel van die pakket wees nie.

    

Britte se opsies

    

Die nasionale tesourie het Vrydag in ’n verklaring gesê die Britte het nou verskeie opsies met betrekking tot hul handelsbande met Suid-Afrika.

Die tesourie hoop klaarblyklik vir die opsie waarvolgens Brittanje by die bestaande Europese vryhandelsvereniging (EFTA) van nie-EU-lande aansluit.

51,9% van Britte wil hul 27 mede-lidlande van die EU vaarwel toeroep.

Dit sal Brittanje toegang gee tot die EU-mark en die bykomende voordeel vir Suid-Afrika inhou dat die Suider-Afrikaanse doeane-unie reeds ’n ooreenkoms met die EFTA het.

Brittanje sal ook na verwagting bilaterale handelsooreenkomste met individuele lande beding – iets wat hy nou al dekades lank nie hoef te gedoen het nie.

   

Naskokke

   

Die “Brexit-aardbewing”, soos dit in Britse koerante beskryf is, kan egter nog naskokke hê.

Annabel Bishop, ekonoom van Investec, sê die EU vrees ál meer dat nóg lidlande kan wegbreek.

Die gevaar is selfs binne Brittanje. Aangesien 62% van die Skotte graag in die EU wou bly, verwag ontleders dat ’n Skotse referendum om weg te breek van Brittanje weer ’n groot moontlikheid is.

Vir Suid-Afrika, wat ’n klein, oop ekonomie het, is die onsekerheid die grootste risiko. Suid-Afrika is besonder weerloos vir kapitaaluitvloei omdat die land ’n groot tekort op die lopende rekening het.

Neil Shearing van Capital Economics, ’n konsultasiemaatskappy in Brittanje, sê Suid-Afrika het ’n hele paar probleme wat die situasie kan vererger as dit nie vinnig kalmeer nie.

Indien die uitvloei van kapitaal voortduur, “sal ekonomieë soos Turkye en Suid-Afrika met groot eksterne kapitaalbehoeftes gedwing word om rentekoerse te verhoog”.   

  
Jou neseiers

Wayne McCurrie, hoofportefeuljebestuurder van Momentum Wealth, sê mense moet nou wag voordat hulle enige besluite neem oor waar om hul geld te belê. 

Hy sê markte oorreageer gewoonlik in situasies soos dié en dit neem langer om weer te kalmeer as wat ’n mens sou dink. Die wisselvalligheid kan voortduur totdat daar duidelikheid is oor of die res van die Europese Unie verenig gaan bly, en totdat daar duidelikheid is wat met Brittanje  gaan gebeur. 

Hy sê Brexit is nie naastenby so erg as die finansiële krisis van 2008 nie. “Geen bank of land gaan bankrot speel nie.” 

Derek Ferreira, hoof van produkbestuur en bemarkingsintegrasie by Old Mutual, sê Suid-Afrikaners wat hul geld spaar, moet hul langtermynplan in gedagte hou en hulle nie vasstaar teen die onmiddellike gebeure nie.  

“Ons beskou dit nie as ’n gebeurtenis wat Suid-Afrikaners noop om hul beleggingstrategie te verander nie.”
Ferreira sê mense kan voel hulle wil weens die onsekerheid eerder in kontant belê.

“Op  lang termyn gaan jy sukkel om met kontant inflasie te klop.” 

     

Landbou

    

    

Wandile Sihlobo, hoof van landbou-ekonomie by Agbiz, sê Brittanje verteenwoordig 25% van die land se landbou-uitvoer na Europa. Daar sal geen onmiddellike rimpelings wees nie en handel met Brittanje sal vir eers soos voorheen voortgaan. “In beginsel sal Suid-Afrika invoertariewe op Britse uitvoerprodukte kan hef wanneer Brittanje die EU verlaat.”

Hy glo daar is genoeg tyd vir die partye om nuwe handelsooreenkomste te onderhandel. Brittanje voer tans sowat R4 miljard se landbouprodukte na Suid-Afrika uit, waarvan R2,2 miljard se whisky, R409 miljoen se hoender en R45 miljoen se melkpoeier. Hierdie produkte kan tans, ingevolge die bestaande handelsooreenkoms met die EU, tariefvry na Suid-Afrika uitgevoer word.

“Ek voorsien nie dat Suid-Afrika hoër tariewe op Britse produkte sal wil hef nie omdat ons vrye toegang tot die Britse ekonomie wil hê. Hulle is van ons grootste uitvoermarkte vir wyn en vrugte.”

Hy glo nie die Britse vraag na plaaslike landboukommoditeite sal beduidend daal nie.

   

Mynbou

    

Peter Major, mynbou-ontleder by die batebestuurder Cadiz, sê die lopie in die goudprys gaan nie lank hou nie.  “Goud bly maar ’n kommoditeit en sy prys kan nie bly styg terwyl ander kommoditeitspryse bly daal nie.” 

Die verswakking van die pond behoort nie ’n groot impak op Suid-Afrika se minerale uitvoer te hê nie omdat die meeste daarvan platinum is, wat nie in groot hoeveelhede elders gevind word nie. 

Meer oor:  Brittanje  |  Eu  |  Europese Unie  |  Handel  |  Epa  |  Landbou  |  Handelsooreenkoms  |  Brexit  |  Invoer  |  Uitvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.