Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Brics-bank se Afrika-tak kry tesourie-man as baas
Monale Ratsoma, adjunk-direkteur-generaal vir ekonomiese beleid by die nasionale tesourie, is aangestel as hoof van die Brics-bank se Afrika-tak.Foto: LinkedIn

Anders as die mitiese aanstelling in 2015 van Nhlanhla Nene, vorige en huidige minister van finansies, in ’n sogenaamde toppos by die Brics-bank, is hierdie ene nie ’n Jacob Zuma-grappie nie.

Monale Ratsoma, adjunk-direkteur-generaal vir ekonomiese beleid by die nasionale tesourie, is as direkteur-generaal van die Brics-bank se Afrika-tak in Johannesburg aangestel.

Die nasionale tesourie sê in ’n verklaring Ratsoma sal Brics se New Development Bank se bedrywighede in die Afrika-streek bestuur.

Dit behels onder meer om aan die hoof te staan van projekvoorbereiding, projek-implementering en die bestuur van die bank se projekportefeulje in die streek.

Hy moet ook met gevestigde infrastruktuur- en ontwikkelingsentiteite en ander multilaterale en streekontwikkelingsbanke skakel.

Die Brics-bank is ’n nuwe ontwikkelingsbank wat gesamentlik deur die sogenaamde Brics-groepering (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) gestig is om infrastruktuur- en ontwikkelingsprojekte in dié lande te help finansier.

Oudpres. Jacob Zuma het in Desember 2015 vir Nene as minister van finansies afgedank met die verskoning dat dit is omdat Nene aangewys is vir ’n toppos by die te stigte Brics-bank. Dié aanstelling het nooit gerealiseer nie en Nene was ook nie eens vooraf bewus van sulke planne met hom nie. Pres. Cyril Ramaphosa het hom vroeër vanjaar as minister van finansies heraangestel.

Ratsoma is ’n relatiewe groentjie by die tesourie en het in 2011 daar begin as hoofdirekteur: lastebestuur. Hy is in 2015 as adjunk-direkteur-generaal vir ekonomiese beleid aangestel en het in 2016 ekstra verantwoordelikheid gekry vir die internasionale en streek- ekonomiese beleidseenheid.

Ratsoma moet al op 16 April met sy nuwe werk begin.

Voor sy loopbaan by die tesourie was Ratsoma ’n senior makro-strateeg by Absa Capital en ’n hoofekonoom en waarnemende uitvoerende hoof van Thebe Securities, ’n swartbeheerde makelaarsfirma, blyk uit sy LinkedIn-profiel.

Hy het sy BCom- en BCom-honneursgrade in ekonomie aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal, en het ’n meestersgraad in ekonomie aan die Universiteit van Johannesburg.

Dr. Duncan Pieterse sal in Ratsoma se plek by die tesourie waarneem. Pieterse is hoofdirekteur: mikro-ekonomiese beleid by die tesourie. Hy het in 2013 by die tesourie begin werk ná ’n loopbaan as akademikus, konsultant en projekbestuurder. Voor die tesourie was hy ’n besoekende navorsingsgenoot by die Brown- en Yale-universiteit, en het ook deeltyds klas gegee by die Universiteit van Kaapstad waar hy sy doktorsgraad in ekonomie behaal het.

Meer oor:  Nhlanhla ­Nene  |  Banke  |  Brics  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.